Woensdag 13 November 2013

Onthou julle van elke vorm van kwaad

D’Var Tora
En hy het bedaar – Vayeshev


Genesis / Bereshit {39:6} “En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het. En Josef was skoon van gestalte en mooi van aansien. {39:7}  Ná hierdie dinge het die vrou van sy heer haar oë na Josef opgeslaan en gesê: Kom hou gemeenskap met my. {39:8}  Maar hy het geweier en aan die vrou van sy heer gesê: Kyk, deur my is dit dat my heer geen kennis neem van wat in die huis is nie; en alles wat syne is, het hy aan my oorgegee. {39:9}  Hy is in hierdie huis nie groter as ek nie en het my niks onthou nie behalwe u, omdat u sy vrou is; hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God? {39:10}  En nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, en hy na haar nie wou luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie, {39:11}  kom hy eendag in die huis om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie. {39:12}  Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my. Maar hy het sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug en na buite geloop. {39:13}  Toe sy dan sien dat hy sy kleed in haar hand laat bly en buitentoe gevlug het, {39:14}  roep sy na haar huisgenote en sê aan hulle: Kyk, hy het vir ons ‘n Hebreeuse man hier gebring om met ons gek te skeer; hy het na my gekom om met my gemeenskap te hê, en ek het hard geskreeu; {39:15}  en toe hy hoor dat ek my stem verhef en skreeu, het hy sy kleed by my laat agterbly en gevlug en na buite geloop.”.

Daar is vir ons soveel om te leer uit die verhaal van Josef (Yoseph) – boekdele kan daaroor geskryf word, maar uit die gedeeltes waarop ek gefokus het, is daar ‘n baie belangrike beginsel om van kennis te neem. Terwyl ek hierdie verse bestudeer het, het ek hierdie beginsel geneem en dit geïnkorporeer in sowel my persoonlike as professionele lewe. Soos ons bewus is, was Josef ‘n ongetroude man; die betrokke beginsel geld egter ook vir ‘n ongetroude vrou, getroude mans asook getroude vrouens.

Potifar se vrou het haar oë op Josef gehad: hy was jonk, aantreklik en boonop ‘n slaaf. Sy het ongetwyfeld gemeen dat sy hom sonder veel moeite sou kon verlei.

Meeste mans sou maklik voor hierdie vrou se toenadering geswig het, maar nie Josef nie omdat hy aan ‘n hoër gesag verantwoordelik was. Is dít wat Josef in die moeilikheid laat beland het, dat hy geweier het om aan die eise van sy heer se vrou toe te gee? Wanneer ‘n mens egter die gebeure wat tot haar beskuldigings teen hom gelei het, oorweeg, sou ons sekerlik tot daardie gevolgtrekking gekom het. Was dit die feit dat hy van Potifar se vrou weggevlug het, wat hom in die moelikheid laat beland het of was dit slegs ‘n simptoon van die probleem?

1 Tessalonisense / Tesolonilim Alef {5:22} ” Onthou julle van elke vorm van kwaad.”.

Hierdie vers verduidelik die oorsaak van Josef se probleem. Hy het gewoond geraak daaraan om in Potifar se huis te wees, dat hy gerus geraak het om daar te wees wanneer hy alleen in die huis saam met Potifar se vrou was.

Uit die Skrifgedeeltes hierbo is dit duidelik dat Potifar se vrou herhaaldelik tot Josef toenadering gesoek het, sodat hy sonder twyfel van haar bedoelings bewus was. Waarom sou hy dan gewaag het om alleen met haar in die huis te verkeer? Indien hy homself nie toegelaat het om alleen met hierdie vrou in die huis te wees nie, sou hy homself nie onder verdenking laat kom het nie. Toegegee dat God alle dinge vir ons ten goede beskik, maar moontlik sou twee jaar in die gevangenis verhoed kon gewees het terwyl God nogtans die finale hoofstuk van hierdie verhaal geskryf het.

Die beginsel wat ons dus uit hierdie verhaal kan leer en op ons eie lewens toepas is die volgende: moet jouself nooit in ‘n moontlik verdagte posisie laat beland deur iewers alleen met ‘n vrou / man, wat nie jou vrou / eggenoot is nie, te wees nie. Dit sluit ook in om in ‘n motor te wees! Soos reeds gesê, het ek hierdie beginsel in sowel my persoonlike – as professionele lewe toegepas en dit het my altyd uitstekend te pas gekom. Ek het selfs sover gegaan om nooit ‘n vrou alleen in my kantoor van berading te bedien nie. Eweneens vermy ek dit ook om alleen te wees met ‘n man, wat aan my onbekend is en vermy dit hoegenaamd om met ‘n kind alleen te wees. Ons móét die voorkoms van kwaad vermy en onsself beskerm teen moontlike bose bedoelings van sowel ander mense as die satan (HaSatan).


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking