Maandag 03 Februarie 2014

Mondelinge Tora?



D’Var Torah
Wanneer jy verhef – KiTisa


Eksodus / Shemot {30:22} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {30:23}  En jy, neem vir jou van die beste speserye: vyf honderd sikkels fyn mirre en die helfte soveel geurige kaneel, twee honderd en vyftig sikkels, en twee honderd en vyftig sikkels geurige kalmoes {30:24}  en vyf honderd sikkels kassie, volgens die sikkel van die heiligdom, en ‘n hin olyfolie; {30:25}  en maak daarvan heilige salfolie, ‘n salfmengsel soos ‘n salfmenger dit maak; heilige salfolie moet dit wees. ”.

Eksodus / Shemot {30:31} “En jy moet met die kinders van Israel spreek en sê: Dit moet vir My ‘n heilige salfolie wees in julle geslagte. {30:32}  Op geen mens se liggaam mag dit uitgegiet word nie; julle mag ook, na dieselfde voorskrif, so iets nie maak nie: heilig is dit; heilig moet dit vir julle wees. {30:33}  Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan ‘n onbevoegde laat kom, moet uit sy volksgenote uitgeroei word. {30:34}  Verder het die HERE vir Moses gesê: Neem vir jou speserye: storaksgom en naeltjies en gálbanum—speserye en ook suiwer wierook; alles in gelyke hoeveelhede, {30:35}  en maak daar reukwerk van, ‘n mengsel soos die salfmenger dit maak, met sout gemeng, suiwer, heilig. {30:36}  En vrywe ‘n gedeelte daarvan heeltemal fyn, en sit ‘n deel daarvan neer voor die Getuienis in die tent van samekoms, waar Ek met jou sal saamkom; hoogheilig moet dit vir julle wees. {30:37}  En die reukwerk wat jy moet maak—na dieselfde voorskrif mag julle vir julle nie maak nie; as iets heiligs aan die HERE moet dit vir jou wees. {30:38}  Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.”

Nadat ek hierdie Skrifgedeelte gelees het, het dit my as baie interessant opgeval dat God vir Moses die presiese formule vir sowel die heilige salfolie as heilige wierook laat neerskryf het, met die wete dat alle toekomstige geslagte dit sal lees; trouens, dit vorm deel van die ewige Torah. Ons is egter almal terdeë bewus van die menslike natuur, dus is ek oortuig daarvan dat mense God se opdrag verontagsaam en beide items volgens die presiese geformuleerde hoeveelhede gereproduseer het. Indien God vooraf geweet het dat dit sou gebeur – en ek is seker Hy het – waarom het Hy Moses die formule dan laat neerskryf? Daar is twee moontlike redes.

Die eerste rede het betrekking op die rabbynse aanspraak dat God op die berg (Har) Sinai (Saini) vir Moses sowel die geskrewe Tora as mondelinge Toa gegee het. Met ander woorde, hulle maak daarop aanspraak dat Moses nie alles wat God vir Hom gesê het, neergeskryf het nie en ‘n deel van wat hy op berg Sinai geleer het, mondeling vertel het en dit oor geslagte heen deur leier aan leier oorgedra is. Ander geleerdes verskil aansienlik met hierdie aanspraak. Daar bestaan egter geldige argumente vir beide sienswyses oor hierdie mening. Ek wil beslis nie kant kies nie maar die feit dat die twee formules, wat God uitdruklik nie wou laat dupliseer nie, duidelik neergeskryf is vir enigeen om te kopieer, stel ‘n sterk argument téén ‘n mondelinge Tora. Indien hierdie formules per slot van sake slegs vir die priesters, naamlik die Leviete (Leviim) was, om te vervaardig, sou dit ongetwyfeld gekwalifiseer het as iets wat mondeling deur Moses aan hulle oorgedra is.

Die tweede rede het betrekking op die vers aan die einde van elke formule: “Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan ‘n onbevoegde laat kom, moet uitgeroei word uit sy volksgenote.” (vers 33) en”Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.”. (vers 38).

Slegs ware aanbidders is aan God gehoorsaam! God het in Sy Tora ons verbied om baie dinge te doen, sonder om redes te verstrek. Van ons word eenvoudig verwag om God op Sy Woord te neem en niks te doen wat Hy verbied nie. Voorbeelde van hierdie verbod is die eet van varkvleis of sekere soorte vis en alle skulpvis. Aan ons word eenvoudig aangesê om dit nie te eet nie.

Dít alles betref gehoorsaamheid. Die ware gelowige sal God op Sy Woord aanvaar, Sy Woord nie bevraagteken nie en doen wat Hy verlang. Waarom? Omdat hulle die Here liefhet en begeer om Hom te dien met hulle hele hart, hulle hele siel, hulle hele verstand en met al hulle krag. Met die ongelowiges of swak gelowiges daarenteen, is dit egter nie die geval nie. Hulle sal elke gebod bevraagteken en is juis diegene wat waarskynlik verskonings sal voorhou waarom hulle nie hierdie of ander gebooie, waarin hulle nie glo of waarmee hulle nie saamstem, nakom nie. Daarom sal dit húlle wees op wie die laaste verse betrekking het: “Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan ‘n onbevoegde laat kom, moet uitgeroei word uit sy volksgenote.” en ”Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.”.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking