Vrydag 27 Junie 2014

Wie is hierdie Messias (Mashiach?)

D’Var Torah
Verordeninge – Chukkat


Númeri / Bamidbar {19:1} “Verder het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: {19:2}  Dit is die wetsinsetting wat die HERE beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou ‘n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie. {19:3}  En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag. {19:4}  En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel. ”

Die verordeninge aangaande die rooi vers is een van die grootste misteries in Judaïsme. Die wysgere het gemeen dat hierdie verordeninge gepaardgaan met die ander verordeninge in die boek Levitikus (Vayikra) betreffende reiniging. Nietemin erken hulle tog dat die ritueel op sigself, in misterie gehul is. Die vers moes sonder gebrek wees sodat dit nie ongeskik geag sou word as offerande aan God nie. Dit beteken dat dit nie blind, lam, sonder reproduktiewe organe, of enige ander vorm van onreëlmatigheid of velletsel moes wees nie. Daarbenewens verneem ons dat die dier sonder vlek moes wees in soverre dit nie meer as ‘n enkele haar anders as ‘n rooi kleur op die liggaam moes hê nie.

Wat die wysgere egter verbyster het en tot vandag toe nog selfs die rabbi’s dronkslaan, is dat terwyl die deel van die ritueel uitsluitlik reiniging was en die onrein persoon op wie hierdie mengsel gesprinkel was; gereinig is, dit enigiemand anders betrokke in die proses verontreinig het. Dus is enigeen wat op een of ander wyse by die voorbereiding van die mengsel asook die persoon wat die besprinkeling behartig het, verontreinig terwyl die persoon wat daarmee besprinkel, rein geag is. Die wysgere was so verwar deur hierdie verordening, dat hulle beweer het dat selfs nie eers Salomo, met al sy wysheid, die geheime betekenis agter hierdie ritueel geweet het nie.

Alhoewel die wysgere nie die misterie van die ritueel verstaan het nie, het hulle wel die betekenis van die samestelling van die vooreskrewe mengsel begryp: die indrukwekkende sederboom verteenwoordig hoogmoed, die hissop nederigheid en die offer van die vers, sonde. Derhalwe het hulle, op grond van dié bestandele tot die gevolgtrekking gekom dat die ritueel as sulks ‘n omvangryke doelmatige les was, naamlik ‘n heilige God kan slegs deur ‘n heilige volk gedien word. Ongelukkig dui hulle onkunde betreffende hierdie verordening slegs op blindheid: die sluier wat oor die oë van die Joodse volk geplaas is.

Ons verneem egter enkele baie belangrike leidrade aangaande die aard van hierdie verordening. Een leidraad is die vers self en die feit dat dit nie slegs sonder letsel moes wees nie maar ook sonder gebrek. Tweedens, is dat die bloed van die geslagte vers, wat buite die laer doodgemaak moes word, in die rigting van die laer en meer spesifiek die tabernakel (Mishkan) gesprinkel moes word. Derdens is die feit dat diegene wat die mengsel voorberei het asook die priester wat die mengsel hanteer het, onrein geword het terwyl die persoon wat beprinkel is, gereinig is. Vierdens is ons meegedeel dat hierdie ritueel bedoel was om iemand wat in aanraking met ‘n lyk gekom het, te reining en in die laaste instansie was dit ‘n reinigingsritueel.

Kom ons neem elk van hierdie leidrade in oënskou: die feit dat die vers rooi was, verbind dit – na my mening – met die huis van Dawid wie, volgens die Skrif, rooi hare gehad het. Aangesien die vers sonder gebrek of vlek moes wees, stem dit vanselfsprekend ooreen met die ander offerandes aan God. Omdat die vers egter betrekking het op die huis van Dawid, word dit met die Messias verbind. Dit word verder bevestig deur die feit dat die bloed van die vers in die rigting van die tabernakel gesprinkel moes word, wat dit met God verbind en weereens met die Messias. Die derde leidraad het betrekking op die persoon wat besprinkel en sodoende rein (tahor) word, terwyl die persoon wat die besprinkeling behartig, onrein (tamei) word. Dit hou regstreeks verband met die Messias, aldus Jesaja:

Jesaja / {53:5} “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”.

Volgens Jesaja, sou die Messias ons sonde op Hom neem en dus onrein word terwyl ons rein geword het. Die finale leidraad is, volgens my mening, die afdoende bewys: die hele ritueel met die rooi vers dui op die in aanraking kom met die dood. Die feit is dat ons dood was in ons sonde, bestem tot ewige verdoemenis, maar die Messias, verteenwoordig deur die rooi vers, het ons gereinig van die dood en verderf en ons gelei tot ‘n ewige lewe en persoonlike verhouding met God.

Wie is hierdie Messias? Ek meen dit is duidelik uit die Skrif: Hy is Jesus, vleesgeworde God, wat na die wêreld gekom het om vir ons te sterwe, om ons sondes op Hom te neem en ons van die dood en gewisse verderf te verlos.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking