Dinsdag 08 Julie 2014

Moet nie opeindig soos Bíleam

D’Var Torah
Balak


Númeri / Bamidbar {22:5} “Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my. {22:6}  Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ‘n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek. {22:7}  Toe het die oudstes van Moab en die oudstes van Mídian gegaan met waarsêersloon by hulle en by Bíleam gekom en hom die woorde van Balak meegedeel. {22:8}  Daarop antwoord hy hulle: Bly vannag hier oor; dan sal ek julle berig bring soos die HERE aan my sal sê. Toe het die vorste van Moab by Bíleam gebly. {22:9}  En God het na Bíleam gekom en gesê: Wie is die manne daar by jou? {22:10}  En Bíleam het God geantwoord: Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, laat my weet: {22:11}  Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek en hulle het die oppervlakte van die land oordek. Kom nou, vervloek hulle vir my; miskien sal ek hulle kan beveg en hulle verdrywe. {22:12}  Toe sê God vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd. ”.

Nadat hulle hierdie Skrifgedeelte gelees het, meen sommige mense dat God van gedagte kon verander het deurdat Bileam (Bi’lam) toegelaat is om te gaan, maar indien ons egter die gedeelte behoorlik deurlees, besef ons dat God nie van plan verander het nie; trouens, Hy was konsekwent met wat Hy vir Bileam gese het. Kyk na wat ek bedoel:

Númeri / Bamidbar {22:12} “Toe sê God vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.”.

Hier het God nie vir Bileam gesê om nie met die prinse, deur Balak gestuur, saam te gaan nie. Maar dat hy nie moes gaan met die doel om Israel te vervloek nie. Bileam het dit natuurlik verstaan dat hy nie moes gaan nie omdat die hele doel waarom hy saam met hulle moes gaan, sou wees om Israel te vervloek en vergoeding daarvoor te ontvang. Daarom het hy vir hulle gesê: “Jammer, ek kan nie saam met julle gaan nie.”. Toe het die prinse egter teruggekeer met ‘n ander voorstel, beter as die eerste, maar omdat God vir Bileam gesê het dat hy nie kon gaan om te vervloek nie, het Bileam dit vertolk dat hy glad nie kon gaan nie. Hierdie keer het God verduidelik wat Hy bedoel het en vir Bileam gesê:

Númeri / Bamidbar {22:20} “En God het in die nag na Bíleam gekom en aan hom gesê: As die manne gekom het om jou te roep, staan dan op, gaan met hulle saam; maar net wat Ek jou sê, dit moet jy doen. ”.

God het, met ander woorde, dit aan Bileam duidelik gestel dat hy wel kon gaan maar nie om Israel te vervloek nie. God het, glo ek, inderdaad heeltyd bedoel om Bileam te gebruik om Israel te seën. Waarom dan die insident met die donkie? Omdat God geweet het wat in Bileam se hart aangaan en daarom het Hy geweet dat  Bileam ‘n manier sou vind om nie God se opdrag te gehoorsaam nie; dit was ‘n waarskuwing.

Was dit nie dieselfde geval met baie van die Fariseërs in Jesus se tyd nie? Hulle het gesoek en allerlei maniere gevind om by God se gebooie verby te kom. Een daarvan was:

Markus / Mordecdai {7:6} “En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. {7:7}  Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. {7:8}  Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie. {7:9}  En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou. ”.

Dit is vir ons maklik om vinger te wys na die Fariseërs en hulle vir hul skynheiligheid te veroordeel, maar is ons enigsins beter as hulle? Hoeveel van ons soek nie ook kreatiewe maniere om by God se gebooie verby te kom nie, veral wat die Sabbat betref? Ons voer verskonings aan of redes om dinge te doen sodat ons sekere Bybelse verbodsbepalings van die Sabat kan systap.

Bileam het gemeen dat hy ‘n manier kon vind om by God se opdragte verby te kom en op een of ander wyse Balak tevrede te stel, God tevrede te stel en nogtans die vergoeding aan hom belowe, te ontvang. Dit was die bedoeling van sy hart, maar kom ons wees eerlik: dit maak nie saak wat ons doen of wat ons voornemens is om te doen nie. God ken altyd die bedoeling van ons harte en oordeel ons daarvolgens.

Jakobus / Ya’acov {4:17} “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde. ”.

God het ons in Sy Woord beveel wat om nie te doen nie, maar indien ons in ons harte voorgeneem het om dit wel te doen – met die doel om by Sy Woord verby te kom – is die moontlikheid groot dat ons einde ook soos Bileam s’n sal wees – die dood!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking