Dinsdag 15 Julie 2014

Vaders raak betrokke!

D’Var Torah
Stamme – Matot


Númeri / Bamidbar {30:1} “En Moses het met die stamhoofde van die kinders van Israel gespreek en gesê: Dit is die saak wat die HERE beveel het: {30:2}  As iemand aan die HERE ‘n gelofte doen of ‘n eed sweer waardeur hy homself verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan. {30:3}  Maar as ‘n vrou aan die HERE ‘n gelofte doen of haarself verbind om haar te onthou, terwyl sy in haar vader se huis is in haar jeug, {30:4}  en haar vader van haar gelofte hoor of van die onthouding waartoe sy haarself verbind het, en haar vader swyg teenoor haar, dan sal al haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, sal van krag wees. ”.

Dit blyk ‘n redelike voor-die-hand-liggende Skrifgedeelte te wees en so is dit ook. Indien ons dit egter ietwat van nader beskou, is daar ‘n baie belangrike boodskap aan vaders en hoofde van huishoudings hierin vervat. Wat God hier sê, is dat vaders wat hoofde van huishoudings is altyd pro-aktief in die lewens van hulle kinders moet optree, want al te dikwels laat ouers hulle kinders aan hulle eie genade oor. Hulle voer dan die verskoning aan dat hulle hul kinders vertrou en wil hulle vermoëns gevolglik nie aan bande lê om eerlike, redelike en weldeurdagte besluite op hulle eie te neem nie. Die feit is egter dat alhoewel dit die indruk van goeie ouerskap mag skep – want ons wil tog ons kinders vertrou – dit beslis nie Bybels is nie. God vereis dat vaders as hoofde van hulle huishoudings, werklik betrokke moet wees by die lewens van hulle kinders. Dit behels dus dat hulle kennis behoort te dra van wie hulle kinders se vriende is, met wie hulle gesels, wie hulle kontakte op “Facebook” en elke ander vorm van sosiale media is. Indien julle as ouers nalaat om dit te doen, versuim julle jul plig om ooreenkomstig die gebooie (mitzvah) te sorg dat julle kinders hulle geloftes nakom. Dit is feitlik seker dat julle kinders nie vrywillig sodanige inligting aan hulle vaders sal verstrek nie.

‘n Verdere ongelukkige feit is dat die vader sy verantwoordelikheid om die kinders te moniteer, aan die moeder oorlaat. Ook dit is on-Bybels en veroorsaak ‘n onnatuurlike huishouding waar die moeder – in plaas van die vader – die gesagsrol moet handhaaf. Vaders, indien julle nalaat om aktief betrokke te raak by die lewens van julle kinders, soos wat God hier aan ons verduidelik, sal alles wat húlle doen en sê geld. Ingeval hulle dus ‘n swak –of verkeerde besluit geneem het, sal dit ‘n vernietigende uitwerking op sowel die kinders se lewens as die hele gesin hê.

Wanneer ek vaders al by geleentheid berispe het oor hulle gebrek aan ouerlike toesig, haal hulle feitlik altyd die volgende Skrifgedeelte aan om hulleself te regverdig dat hulle nie oordrewe betrokke geraak het by die lewens van hulle inders nie:

Kolossense / Kolosim {3:21} “Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie. ”.

Hierdie gedeelte word natuurlik geheel-en-al buite verband deur hulle aangehaal. Indien ons egter die verse wat hierdie teksvers voorafgaan, lees, kan ons bepaal wat Paulus (Shaul) in gedagte gehad het toe hy hierdie woorde aan die Kolossense gerig het:

Kolossense / Kolosim {3:16} “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. {3:17}  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”.

Gelei deur hierdie aanvangsverse as ons gids, sê Paulus vir die vaders dat, wanneer hulle met hulle kinders verkeer, hulle vir hulle psalms, lofsange en geestelike liedere moet sing, sodat aan hulle raad gegee behoort te word in alle wysheid en alles wat hulle doen, gedoen behoort te word in die naam van die Here Jesus, met danksegging aan God die Vader. Indien hulle egter enigiets anders as dit doen, sou hulle die kinders terg sodat hulle moedeloos word en wegdraai van God en Sy toorn op hulle laat neerkom. Vaders, raak betrokke!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking