D’Var
Torah
Píneas –
Pinchas
Haftara:
Miga / Mikhah 5:6 – 6:8
Brit
Chadasha: Markus / Mordechai 11:12 – 26
Númeri / Bamidbar {28:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en
gesê: {28:2} Gee bevel aan die kinders
van Israel en sê vir hulle: Julle moet daarvoor sorg om my offer, my spys vir
my vuuroffers as lieflike geur vir My, op die bepaalde tyd aan My te bring.
{28:3} En jy moet vir hulle sê: Dit is
die vuuroffer wat julle aan die HERE moet bring: twee jaaroud lammers sonder
gebrek elke dag as ‘n voortdurende brandoffer. {28:4} Die een lam moet jy in die môre berei, en die
ander lam moet jy teen die aand berei; {28:5}
met ‘n tiende van ‘n efa fynmeel as spysoffer, gemeng met ‘n kwart-hin
uitgestampte olie. {28:6} Dit is die
voortdurende brandoffer wat by die berg Sinai ingestel is as lieflike geur, ‘n
vuuroffer aan die HERE. {28:7} En die
drankoffer wat daarby behoort, moet wees ‘n kwart-hin vir elke lam. In die
heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank aan die HERE uitgiet. {28:8} En die ander lam moet jy teen die aand berei;
met dieselfde spysoffer as in die môre en met die drankoffer wat daarby
behoort, moet jy dit berei—’n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.
{28:9} Maar op die sabbatdag twee
jaaroud lammers sonder gebrek en twee-tiendes van ‘n efa fynmeel as spysoffer,
met olie gemeng, en die drankoffer wat daarby behoort. ”.
Met die deurlees van die lys van vereiste offers, het dit my verbaas
hoeveel diere, hoeveel graan en olie benodig was om te offer en hoe belangrik
die offers in die oë van God was. Alles moes in noukeurige orde, presies soos
deur God voorgeskryf, geskied het. Die presiese voorgeskrewe offer moes op die
juiste tyd of seisoen, waarop die betrokke feesdag gevier was, gebring word.
Hoe hulle daarin geslaag het om alles sonder die gebruik van rekenaars, soos
waaroor ons vandag beskik, na te kom, is werklik verstommend. Dit was
hoegenaamd nie asof hulle nou en dan ‘n fout kon begaan nie, want so ’n misstap
sou ongetwyfeld die dood vir die offer of die priester, wat besig was om te
offer, ingehou het.
Daarna het ek gedink: Indien God, volgens die Skrif, gister, vandag en
vir ewig, dieselfde is, moet dit vir Hom ‘n gruwel wees om te aanskou hoedat
mense vandag teenoor Hom optree en Hom benader.
Dit laat by my geen twyfel nie dat God uiters verdraagsaam moet wees! Op
grond van wat ek al van non-denominatiewe kerke gesien het, sowel dié wat ek
besoek as dié wat ek by geleentheid op die internet en televisie gesien het,
word bykans niks meer ordelik of met eerbied gedoen nie. Ongelukkig geld dit
ook ten opsigte van vele Messiaanse gemeentes. Dit verstom ‘n mens ook in hoe
‘n mate die bloed van Jesus asook die Heilige Gees behandel word. Daarbenewens
is dit vir my verbysterend wanneer ek verneem hoedat gelowiges die satan bind
en na die hel stuur, asof hulle enigsins oor die mag daartoe sou beskik.
Judas / Y’hudah {1:9} “Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel
in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering
durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou!”.
God het aan die satan vrye teuels gegee oor die wêreld en wêreldse
stelsels verleen maar slegs Hy kan hom bind en hel toe stuur. Ons kan egter
daarvan verseker wees dat wanneer sy tyd aanbreek, God die satan en sy demone
daarheen sal stuur.
Het julle opgelet wat ook in vers 7 hierbo vereis word om te offer?
Númeri / Bamidbar {28:7} “En die drankoffer wat daarby behoort, moet
wees ‘n kwart-hin vir elke lam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van
sterk drank aan die HERE uitgiet.”.
Sterk drank? Beteken dit dat hulle in daardie dae reeds oor
distileergeriewe beskik het om werklik sterk drank te produseer? Oënskynlik was
dit wel die geval. ‘n Mens kan ook daarvan seker wees dat indien hulle sterk
drank in Bybelse tye kon produseer, hulle dit beslis ook gedrink het. Vergun my
om julle daarvan te herhinner dat daar trouens geen verbod op die drink van wyn
of sterk drank was nie. Die enigste verbod was egter om onder die invloed
daarvan te raak. Koning Salomo (Shlomo Melech) het gesê:
Spreuke / Mishlei {23:30} “By die wat láát opbly
by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe. {23:31} Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as
dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie: {23:32} op die end byt dit soos ‘n slang en spuug gif
uit soos ‘n basilisk. {23:33} Jou oë sal
vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek; {23:34} en jy sal wees soos een wat in die hart van
die see lê en soos een wat op die top van die mas lê. ”.
Leer dus om eerbiedig en reëlmatig te wees wanneer God aanbid word en
hou matigheid voor oë wanneer julle sterk drank gebruik.
Congregation Melech Yisrael alle
regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking