D’Var
Torah
Sien /
Re’eh
Haftarah:
Jesaja / Yeshayahu 54:11 – 55:5
Deuteronomium / Devarim {11:29} “As dan die HERE jou God jou inbring in
die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, moet jy die seën op die berg
Gerísim lê en die vloek op die berg Ebal. “
Die
kinders van Israel, deur Josua (Yehoshua) gelei, was oorkant die
Jordaan-(Jordan) rivier teenoor Jerigo, wat suidwes van berg Gerisim en berg
Ebal geleë was, gereed om die Beloofde Land binne te trek. Met sy verowering
van die land, het Josua eerstens Gilgal verower, wat hy as sy hoofkwartier
gebruik het. Daarna het hulle teen Jerigo opgetrek, waarvan die stadsmure
omgeval het! Na sy verowering van Jerigo, het Josua deur die vallei van Aijlon
getrek en die koning van Ai verslaan. Daarna het Josua noordwaarts getrek na
berg Gerisim en berg Ebal.
Josua / Yehoshua {8:30} “Toe het Josua ‘n altaar gebou vir die HERE, die
God van Israel, op die berg Ebal, {8:31}
soos Moses, die kneg van die HERE, die kinders van Israel beveel het,
soos geskrywe staan in die wetboek van Moses: ‘n Altaar van ongekapte klippe
waaroor geen yster geswaai is nie; en dáárop het hulle aan die HERE brandoffers
gebring en dankoffers geslag. {8:32} En
daar het hy ‘n afskrif van die wet van Moses op die klippe geskrywe, wat hy
geskrywe het voor die oë van die kinders van Israel, {8:33} terwyl die hele Israel met sy oudstes en die
opsigters en sy regters aan weerskante van die ark staan—teenoor die Levitiese
priesters, die draers van die verbondsark van die HERE—die vreemdeling sowel as
die kind van die land: die een helfte daarvan teen die berg Gerísim en die
ander helfte daarvan teen die berg Ebal, soos Moses, die kneg van die HERE,
tevore bevel gegee het om die volk van Israel te seën. {8:34} En daarna het hy al die woorde van die wet
voorgelees, die seën en die vloek, net soos dit geskrywe staan in die wetboek.
{8:35} Daar was geen woord van alles wat
Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele vergadering van
Israel, met die vroue en die kinders en die vreemdeling wat onder hulle
saamgetrek het nie. ”.
Waarom
het God hierdie twee besondere berge gekies om die seëninge en vervloekinge op
te stel? Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar ek het tot my eie
gevolgtrekking oor die onderwerp gekom. Eerstens is hulle naby mekaar en was
die stad van Schechem in hulle skaduwee – die stad waar Dina verkrag en alle
manlikes deur Levi en Simeon vermoor is. Tweedens, is dit die enigste twee
berge geleë in die middel van Israel van oos tot wes en die enigste twee berge bykans
in die middel van die land, van noord tot suid. Derdens is dit die hoogste twee
berge in hierdie geografiese gebied. Vierdens was dit die waarskynlikste dat
die Kanaäniete offers aan hulle gode op hierdie berge gebring het vanweë die
ligging en hoogte daarvan.
Deuteronomium / Devarim {12:2} “Julle moet terdeë verniel al die plekke
waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge
en op die heuwels en onder elke groen boom. {12:3} En julle moet hulle altare omgooi en hulle
klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die
gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn.
{12:4} So mag julle nie doen met die
HERE julle God nie; ”.
Aangesien die heidene offers aan hulle demoonse gode op hierdie hoë
berge gebring het, was dit ‘n geskikte plek om vir die kinders van Israel te
herhinner aan die gevare wat volg op die kanaänitiese godsdienstige praktyke
teenoor die seëninge verbonde daaraan om God te volg.
Dit is ook interessant dat God gekies het om die vervloekinge op berg
Ebal te laat neerkom, wat toevallig 190 voet (57,9 meter) hoër as berg Gerisim
is. Watter betekenis kon daarin geleë wees? Ek meen dat net soos die Kanaäniete
hulle heidense gode op hoë plekke aanbid het en onder die indruk verkeer het
dat hulle sodoende nader aan hull gode was, so doen ons ook wanneer ons sondig
(selfaanbidding) en onsself omhoog verhef, waardeur ons onsself bo die God van
hemel en aarde plaas.
Daarom, was berg Ebal ‘n toonbeeld van die mens wat homself bo die Een
ware God stel. Enige sodanige verheffing sou natuurlik uitloop op vervloeking
en dus sou die vervloekinge op berg Ebal neerkom. Terwyl berg Gerisim, wat laer
as berg Ebal geleë was, gedien het as ‘n toonbeeld van die mens se ootmoed sou
die seëinge op berg Gerisim rus. Ofskoon albei berge naby mekaar geleë was, kan
ek met alle veiligheid sê dat meeste van die heidense aanbidding waarskynlik op
berg Ebal plaasgevind het vanweë die besondere hoogte daarvan.
Met Sy keuse van hierdie twee berge, het God dus aan ons getoon dat
indien ons onself verhef, sal wat ons dan ontvang, inderdaad vervloeking wees.
As ons onsself egter verootmoedig, sal ons geseën word. Soos in vorige parashot
bespreek, gebruik God baie sulke toonbeelde in die Bybel.
Jakobus / Yaacov {4:10} “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle
verhoog.”.
Die hoogmoediges probeer altyd om hulleself bo die ootmoediges te
verhef, net soos berg Ebal bo berg Gerisim uittroon. Berg Gerisim was egter die
plek van seën, terwyl berg Ebal die plek van vervloeking was!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking