Dinsdag 12 Augustus 2014

Wees nederig!

D’Var Torah
Sien / Re’eh


Deuteronomium / Devarim {11:29} “As dan die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, moet jy die seën op die berg Gerísim lê en die vloek op die berg Ebal. “

Die kinders van Israel, deur Josua (Yehoshua) gelei, was oorkant die Jordaan-(Jordan) rivier teenoor Jerigo, wat suidwes van berg Gerisim en berg Ebal geleë was, gereed om die Beloofde Land binne te trek. Met sy verowering van die land, het Josua eerstens Gilgal verower, wat hy as sy hoofkwartier gebruik het. Daarna het hulle teen Jerigo opgetrek, waarvan die stadsmure omgeval het! Na sy verowering van Jerigo, het Josua deur die vallei van Aijlon getrek en die koning van Ai verslaan. Daarna het Josua noordwaarts getrek na berg Gerisim en berg Ebal.

Josua / Yehoshua {8:30} “Toe het Josua ‘n altaar gebou vir die HERE, die God van Israel, op die berg Ebal, {8:31}  soos Moses, die kneg van die HERE, die kinders van Israel beveel het, soos geskrywe staan in die wetboek van Moses: ‘n Altaar van ongekapte klippe waaroor geen yster geswaai is nie; en dáárop het hulle aan die HERE brandoffers gebring en dankoffers geslag. {8:32}  En daar het hy ‘n afskrif van die wet van Moses op die klippe geskrywe, wat hy geskrywe het voor die oë van die kinders van Israel, {8:33}  terwyl die hele Israel met sy oudstes en die opsigters en sy regters aan weerskante van die ark staan—teenoor die Levitiese priesters, die draers van die verbondsark van die HERE—die vreemdeling sowel as die kind van die land: die een helfte daarvan teen die berg Gerísim en die ander helfte daarvan teen die berg Ebal, soos Moses, die kneg van die HERE, tevore bevel gegee het om die volk van Israel te seën. {8:34}  En daarna het hy al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vloek, net soos dit geskrywe staan in die wetboek. {8:35}  Daar was geen woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele vergadering van Israel, met die vroue en die kinders en die vreemdeling wat onder hulle saamgetrek het nie. ”.

Waarom het God hierdie twee besondere berge gekies om die seëninge en vervloekinge op te stel? Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar ek het tot my eie gevolgtrekking oor die onderwerp gekom. Eerstens is hulle naby mekaar en was die stad van Schechem in hulle skaduwee – die stad waar Dina verkrag en alle manlikes deur Levi en Simeon vermoor is. Tweedens, is dit die enigste twee berge geleë in die middel van Israel van oos tot wes en die enigste twee berge bykans in die middel van die land, van noord tot suid. Derdens is dit die hoogste twee berge in hierdie geografiese gebied. Vierdens was dit die waarskynlikste dat die Kanaäniete offers aan hulle gode op hierdie berge gebring het vanweë die ligging en hoogte daarvan.

Deuteronomium / Devarim {12:2} “Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom. {12:3}  En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn. {12:4}  So mag julle nie doen met die HERE julle God nie; ”.

Aangesien die heidene offers aan hulle demoonse gode op hierdie hoë berge gebring het, was dit ‘n geskikte plek om vir die kinders van Israel te herhinner aan die gevare wat volg op die kanaänitiese godsdienstige praktyke teenoor die seëninge verbonde daaraan om God te volg.

Dit is ook interessant dat God gekies het om die vervloekinge op berg Ebal te laat neerkom, wat toevallig 190 voet (57,9 meter) hoër as berg Gerisim is. Watter betekenis kon daarin geleë wees? Ek meen dat net soos die Kanaäniete hulle heidense gode op hoë plekke aanbid het en onder die indruk verkeer het dat hulle sodoende nader aan hull gode was, so doen ons ook wanneer ons sondig (selfaanbidding) en onsself omhoog verhef, waardeur ons onsself bo die God van hemel en aarde plaas.

Daarom, was berg Ebal ‘n toonbeeld van die mens wat homself bo die Een ware God stel. Enige sodanige verheffing sou natuurlik uitloop op vervloeking en dus sou die vervloekinge op berg Ebal neerkom. Terwyl berg Gerisim, wat laer as berg Ebal geleë was, gedien het as ‘n toonbeeld van die mens se ootmoed sou die seëinge op berg Gerisim rus. Ofskoon albei berge naby mekaar geleë was, kan ek met alle veiligheid sê dat meeste van die heidense aanbidding waarskynlik op berg Ebal plaasgevind het vanweë die besondere hoogte daarvan.

Met Sy keuse van hierdie twee berge, het God dus aan ons getoon dat indien ons onself verhef, sal wat ons dan ontvang, inderdaad vervloeking wees. As ons onsself egter verootmoedig, sal ons geseën word. Soos in vorige parashot bespreek, gebruik God baie sulke toonbeelde in die Bybel.

Jakobus / Yaacov {4:10} “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”.

Die hoogmoediges probeer altyd om hulleself bo die ootmoediges te verhef, net soos berg Ebal bo berg Gerisim uittroon. Berg Gerisim was egter die plek van seën, terwyl berg Ebal die plek van vervloeking was!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking