Shelach
(Stuur Jouself)
Númeri / Bamidbar {13:22} “hulle het in die
Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai,
die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou.
{13:23} Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar ‘n rank met
een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan ‘n draagstok gedra; ook van die
granate en van die vye. {13:24} Dié plek het hulle die dal Eskol
genoem vanweë die tros wat die kinders van Israel daar afgesny het. {13:25} En
ná verloop van veertig dae het hulle teruggekom van die land te verken. {13:26}
En hulle het weggegaan en by Moses en Aäron en die hele vergadering van
die kinders van Israel gekom in die woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig
gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die land laat
sien. {13:27} En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land
waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en
dít is sy vrugte. {13:28} Maar die volk wat in die land woon, is sterk,
en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die
Enakiete gesien.”
Perspektief beteken alles in die lewe - beslis ook die
verskil tussen sukses en mislukking. Wanneer verskillende mense na dieselfde
halfglas water kyk, sien sommige dit as halfvol en ander as halfleeg - aldus
die cliché. In hierdie week se oordenking, het ons 'n uitstekende voorbeeld
daarvan. Die twaalf spioene wat Moses uitgestuur het om die land Kanaän te
verken, het iets teëgekom wat, tot vandag toe, heeltemal merkwaardig is. Op
hulle reis deur die land, waarheen Moses hulle gestuur het om te spioeneer, het
hulle gevind dat dit nie net welig en pragtig was nie, maar ook 'n oorvloed van
vrugte en produkte aangetref. Dit was so geil dat hulle druiwetrosse gevind het
wat só groot was dat één tros deur twee manne gedra moes word. Die idee hiervan
was so merkwaardig dat dit selfs tot vandag deur due regering van Israel as
toerismelogo gebruik word. Met inagneming van wat die twaalf spioene gesien
het, moet ons saamstem dat daar geen twyfel bestaan oor die feit dat die land,
wat hulle besoek het, nie slegs 'n oorvloedige land was nie, maar ook 'n
ongelooflike gawe van God.
Númeri / Bamidbar {13:26} “En hulle het weggegaan en by
Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel gekom in die
woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig gebring, en aan die hele
vergadering en hulle die vrugte van die land laat sien. {13:27} En hulle
het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het;
en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. “
Ten spyte van die skoonheid en oorvloed van die land, het
tien van hierdie manne nogtans die glas nie halfvol gesien nie, maar halfleeg!
Waarom? Omdat hulle reuse in die land gesien het. Hulle vooruitsig was nie op
die positiewe gerig nie, naamlik die magtige onverskrokkenheid van God en Sy
belofte dat hierdie land vir hulle sou kon voorsien, maar eerder op die
negatiewe van wie hulle moes onteien om die land te verkry. Hulle het geen
visie en geen vertroue in hulself of in hul God gestel nie.
Númeri / Bamidbar {13:28} “Maar die volk wat in die
land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar
ook die kinders van die Enakiete gesien. “
Die negatiewe denkwyse wat hierdie manne openbaar het, moet
'n gees wees omdat ons dieselfde gees vind, wat mense vandag nog beïnvloed -
ja, selfs gelowiges in Jesus die Messias. Dit is mense wat dieselfde
halfleë-houding openbaar, soos die tien manne. Ongeag die projek, ongeag die
uitdaging, vind sommige mense altyd 'n rede om op die negatiewe te fokus: daar
is altyd 'n rede waarom hulle iets nie kan of behoort te doen nie. Hulle is die
"kan nie doen"-mense, nes die tien spioene, huldig hulle 'n negatiewe
perspektief oor naastenby alles. Ongelukkig, as ons hierdie Bybelse verslag as
voorbeeld noem, blyk hierdie tipe mense nie net in die meerderheid (tien uit
twaalf) te wees nie, maar het hulle ook 'n negatiewe invloed op ander en neig
hulle om mislukkings te wees. Teenoor hulle, is diegene wat dieselfde saak
oorweeg en 'n ander perspektief het: hulle sien die glas halfvol.
Númeri / Bamidbar {13:30} “Toe het Kaleb die volk stil
gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want
ons kan dit sekerlik oorweldig. {14:6} En Josua, die seun van Nun, en
Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle
klere geskeur {14:7} en die hele vergadering van die kinders van Israel
toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n
buitengewoon goeie land. {14:8} As die HERE ‘n welbehae in ons het, sal
Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk
en heuning. {14:9} Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees
julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle
beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir
hulle nie! “
Hierdie twee manne het 'n totaal verskillende perspektief as
die res, oor dieselfde eiendom openbaar. Hulle was die "kan
doen"-mense, die tipe wat die positiewe sien en oortuig is dat hulle, met
die hulp van God, elke negatiewe beswaar en struikelblok kan oorkom. Vir hulle
het dit nie saak gemaak wie in die land was nie, reus of dwerg, want hulle was
seker dat met die hulp van God, hulle 'n uitweg sou vind. Hierdie is die tipe
mense by wie 'n mens graag betrokke sou wou raak omdat hulle selfvertroue het
en op hul God vertrou. Dit is nie dat hulle struikelblokke ignoreer nie, maar
met 'n glas halfvol-geesteshouding, beskou hulle dit as uitdagings wat geensins
onoorkomlike berge is nie.
Dit is tog jammer dat - soos in ons Bybelse verslag
aangetoon - "kan doen"-mense soos Kaleb en Josua, in die minderheid
is. Hulle is egter die mense wat geneig is om 'n taak uit te voer en in die
lewe sukses te behaal. Dink vir 'n oomblik daaroor, as die keuse aan 'n mens
gestel word, wie sou jy graag wou wees: 'n "kan doen"-persoon of
"kan nie doen"-persoon? Wie sou jy verkies om vir jou te werk? Vir
wie sou jy eerder volg? Met wie sou jy verkieslik in 'n besigheid saamgaan? Vir
wie het God geseën?
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-06-20
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking