Miketz
(Aan die Einde)
Genesis / Bereshit {41:25} “Toe sê Josef vir Farao: Die droom van Farao is een en dieselfde. Wat God van plan is om te doen, het Hy aan Farao te kenne gegee. {41:26} Die sewe mooi koeie is sewe jare; en die sewe mooi are is sewe jare; die droom is een en dieselfde. {41:27} En die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare; en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are sal sewe jare van hongersnood wees. {41:28} Dit is die woord wat ek tot Farao gespreek het: wat God van plan is om te doen, het Hy Farao laat sien. {41:29} Kyk, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele Egipteland; {41:30} maar daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek, en al die oorvloed sal in Egipteland vergeet word, en die hongersnood sal die land verteer. {41:31} En van die oorvloed sal in die land niks gemerk word weens dié hongersnood wat daarna sal wees nie; want dit sal baie swaar wees. {41:32} En wat dit betref dat die droom twee maal vir Farao herhaal is—dit is omdat die saak deur God vas besluit is en God dit gou sal doen.”
Daar is ontelbare gevalle van hongersnood en droogte wat in talle lande dwarsdeur die wêreld heers – selfs terwyl ek nou hierdie D'Var Torah skryf! Trouens, ook in Israel word een van die ergste droogtes beleef. Waterbeperkings is aan die orde van die dag en swaar boetes word opgelê vir oormatige watergebruik. Van elke burger van Israel word daar reeds verwag om by die watervoorsieningsowerheid te registreer. Afhangende van die aantal persone in dieselfde woonplek, word 'n waterkwota aan hulle toegeken en, soos ek gesê het, indien die waterrantsoen oorskry word, word 'n swaar boete gehef.
Uit die Skrif is dit nie moeilik om te besef dat droogtes en hongersnood bestier word nie. Selfs in vandeesweek se Parasha, onthul God deur die Farao se drome dat Hy Egipte aan 'n langdurige hongersnood gaan onderwerp. Hongersnood word deur droogte (gebrek aan reën) en skroeiende hitte veroorsaak, maar soos ons uit Parasha Miketz verneem het, het God nie sonder rede hongersnood oor Egipte laat kom nie. God het altyd 'n doel met wat Hy doen. In hierdie geval was dit om Josef tot onderkoning van Egipte te verhef, sodat met verloop van tyd, die drome wat God baie jare gelede aan Josef openbaar het, vervul sou word.
Ons God is in algehele beheer van weersomstandighede, want Hy het per slot van sake die aarde geskep en dit is Hy wat dit steeds onderhou en bystaan. Indien God dus die reën weerhou, wat droogte en hongersnood veroorsaak, dan doen Hy dit nie uit wispelturigheid nie, maar met 'n doel, soos wat uit hierdie week se parasha blyk. Wat is God se bedoeling? Dit is dat Hy verheerlik word. Kyk maar gerus na die hongersnood wat in vele lande wêreldwyd heers en beoordeel dit self. Dien die lande wat hongersnood en droogte ervaar, die enigste waaragtige God, die God van hemel en aarde, die God van Israel? Beslis nie! Indien die inwoners van enige van dié lande hulself toevallig “Christene” noem, dien hulle God waarlik, eerbiedig hulle sy Tora?
Wanneer daar 'n vernietigende droogte in 'n afvallige land heers en die Rooikruis vereniging, Verenigde Nasies of enige ander humanitêre organisasies 'n massiewe fondsinsamelingsveldtog van stapel stuur om aan die betrokkenes hulp te verleen, wonder ek dikwels oor die beginsel van om te gee. Dit is my logika: As ek waarlik glo dat God in beheer van die weersomstandighede is en hy reën of die weerhouding daarvan as 'n seën of straf gebruik, sal my bydra dan as't ware op inmenging met die wil en opperheerskappy van God neerkom? Sou ek met sy doel inmeng? Daar is egter niks méér wat ek sou begeer as om die lyding van 'n medemens te verlig nie. Maar indien hierdie lyding enersyds die gevolg van ongehoorsaamheid aan God is en andersyds met die doel is om Hom te vereer, dan vra ek myself af: “Behoort ek daarby betrokke raak?”
Genesis / Bereshit {11:13} “As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om die HERE julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel, {11:14} dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel. {11:15} En Ek sal plante gee op jou veld vir jou vee, en jy sal eet en versadig word. {11:16} Neem julle in ag dat julle hart nie verlei word nie, sodat julle afwyk en ander gode dien en voor hulle neerbuig, {11:17} en die toorn van die HERE teen julle ontvlam en Hy die hemel toesluit, sodat daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie, en julle gou uit die goeie land omkom wat die HERE julle gee.”
Sagaría / Zecharyah {14:17} “En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie—hulle sal geen reën kry nie. {14:18} En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die HERE die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie. {14:19} Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie.”
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-12-19
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking