Saterdag 24 Desember 2016

Drome

VaYeshev 
(En Hy Het Bedaar)


Terwyl ek deur hierdie week se parasha gelees het, het die woorde van Martin Luther King my bygeval, toe hy gesê het: “Ek het 'n droom”. Hy het gedroom dat die Afro-Amerikaners finaal ook hul plek in Amerika sou vind, wat ten ene male al die ongeregtigheid van segregasie sou beëindig. Toe hy hierdie droom gehad het, is daar neergesien op swartmense, wat die laagste take moes verrig en agterin busse moes sit. Indien enige blanke persoon in die Suide, tydens daardie ontstuimige jare gevra sou word, sou daar bloot gesê word dat Martin Luther King niks meer as 'n dromer was en desegrasie nimmer as te nooit sou plaasvind nie! Die feite en natuurlik die geskiedenis is egter vanselfsprekend. Desegrasie het inderdaad plaasgevind en Martin Luther King se droom is bewaarheid. Prys die Here!

Ek glo egter nie dat dit Martin Luther King was wat eindelik sy droom bewaarheid het nie. Hy het ongetwyfeld hard gewerk daaraan: Hy het saamtrekke gereël en sittings gehou, maar die oorwinning self het nogtans nie van hom gekom nie. Hy het deur die jare baie teleurstellings en terugslae ervaar sodat hy gedink het sy droom sou nooit verwenselik word nie. Uiteindelik het dit hom sy lewe gekos voordat sy droom gerealiseer het. Martin Luther King was egter nie die eerste dromer nie.

Genesis / Bereshit {37:5} “Ook het Josef ‘n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat. {37:6} Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het. {37:7} Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop bly staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig. {37:8) Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde. {37:9} Daarna het hy nog ‘n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog ‘n droom gehad—die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig. {37:10} Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir ‘n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig? {37:11} En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.”

Josef het 'n droom gehad maar niemand het hulle daaraan gesteur nie. Sy familie het sy drome as belaglik beskou en gereken dat niks wat hy gedroom het, ooit bewaarheid kon word nie, maar dit het. Alles wat Josef gedroom het, het werklikheid geword. Nietemin twyfel ek sterk of hyself hulle ernstig opgeneem het soos wat die gebeure in sy lewe ontvou het. Stel julle voor wat hy moes gedink het terwyl hy onderin 'n droë put moes wag om van die dors om te kom, nadat sy broers hom daarin gegooi het of toe hy deur hulle as slaaf aan die Midianiete verkoop is. Dit was beslis nie oor sy drome om oor sy familie te heers nie; inteendeel, dit het vir hom slegs gegaan om oorlewing! Dit het neerlae vereies alvorens God oorwinning in Josef se lewe sou bewerkstellig, netsoos die terugslae wat Martin Luther King moes verduur om God se oorwinning te verwenselik en sy droom bewaarheid is.

Ek besef dat ons almal al drome gehad het, maar die werklikheid is dat nie alle drome profeties is nie; inteendeel, die meeste daarvan is nie, maar dit is nie wat belangrik is nie. Wat wel van belang is, is dat ons, ons drome nie te ernstig opneem nie. Dikwels neem ons dit egter ver te ernstig op. Ons ontleed dit, bestudeer dit en peins daaroor in 'n poging om die uitleg en betekenis van die drome te probeer uitvind. Onthou, dit was nie voordat alles met hom gebeur het, dat Josef die ware betekenis van sy drome besef het nie en hy baie moeilike tye moes deurmaak, alvorens dit gerealiseer het nie, maar hy het dit alles oorleef om dit te kan beleef. Ongelukkig het Martin Luther King dit nie beleef om sy droom bewaarheid te sien nie.

Wat ek probeer verduidelik, is dat of ons drome waarlik profeties is, aldan nie, God in beheer is en dié Een is wat ons drome sal vervul. Sommige van ons mag die vervulling daarvan beleef en ander nie, maar per slot van sake hang dit alles van God af. Ekself heg nie veel waarde aan die uitleg van drome nie. Netsoos Josef, is ek net te besig van dag tot dag, terwyl ek op die Here vertrou om my elke dag deur te sien, één dag op 'n keer. Dus het ek nie tyd om gemoeid te wees met wat ek verlede jaar, verlede maand of selfs verlede nag gedroom het nie. Van tyd tot tyd deel ek wel my drome mee maar “liasseer” dit iewers in my brein en gaan aan met my lewe. God, in Sy wysheid en op Sy bestemde tyd, sal my drome bewaarheid, aldan nie! Baruch HaShem!

Prediker / Koholet {5:6} “Want soos daar baie drome is, so is daar ook nietige woorde in menigte, maar vrees God!”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-12-12







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking