Saterdag 04 Februarie 2017

Dit is Maklik om te Doen

Bo
(Gaan)


Eksodus / Shemot {10:1} “Verder het die HERE vir Moses gesê: Gaan na Farao toe, want Ék het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars, sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig, {10:2} en dat jy voor die ore van jou kind en jou kindskind kan vertel wat Ek Egipte aangedoen het, en my tekens wat Ek onder hulle gedoen het, dat julle kan weet dat Ek die HERE is. ”

Waarom verhard God ‘n mens se hart? Ek glo dat daar twee redes is. Eerstens, dat Sy wil deur die mens uitgevoer moet word en, tweedens, dat die mens moet besef, dat Hý God is en geen ander nie. In beide gevalle blyk hierdie doel met die farao van Egipte, soos wat God sy hart verhard het, ter voorbereiding vir die uittog van die kinders van Israel.

Wanneer meeste mense hierdie week se Parasha lees, is hulle bekommerd omdat God gesê het dat Hy die farao se hart verhard het. Sommige vertolk dit asof God harte blindelings verhard, gevolglik meen hulle natuurlik dat God wispelturig is en miskien eendag sonder rede, ook húl harte mag verhard. Dit is hoegenaamd nie die geval nie. God verhard nie sommer sonder rede ‘n mens se hart nie.

Hoe maak God dan ‘n keuse oor wie se hart Hy wil verhard? Die antwoord word verstrek deur vandeesweek se Tora-gedeelte:

Eksodus/ Shemot {10:3) ”Toe gaan Moses en Aäron na Farao, en hulle sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Hoe lank weier jy om jou voor My te verootmoedig? Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.”

God verhard die harte van diegene wat weier om hulself voor Hom te verootmoedig. Die farao het voldoende geleentheid gehad om hom voor God te verootmoedig, maar hy het nie omdat hy homself as ‘n god geag het. Juis daarom het God sy hart verhard sodat Hy hom vir Sy doel kon gebruik, selfs al het dit die farao se dood beteken.

Die farao is nie uniek deurdat hy homself as ‘n God beskou het nie; baie mense – vandag nog – ag hulself as gode. Hulle doen dit deur die één ware God, die God van Israel, die God van hemel en aarde nie te erken nie.

Jy mag miskien sê: “Ek sal nooit so’n iets doen nie”, maar dit kan makliker gebeur as wat jy dink. Elke keer wanneer jy sê dat jy iets gaan doen, wil bereik of êrens heengaan sonder om die soewereiniteit van God, onder Wie se wil jy staan en deur Wie jy bestaan, te erken, ag jy jouself om ‘n god te wees.

Jakobus / Ya'acov {4:13} ”Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak— {4:14} julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. {4:15} In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.”

Sonder om God te erken in alles wat ons doen, is dit asof óns in beheer is; God is egter in volle beheer van alles wat in ons lewens plaasvind. Derhalwe moet ons, ons verootmoedig en ophou dink dat ons lotsbeskikking in ons eie hande is. Die enigste wyse om dit te doen, volgens die voorafgaande Skrifgedeelte, is om God altyd te erken, deur by alles wat ons sê: “As dit God se wil is” te voeg. Dink nou daaroor: Hoeveel keer het jy jouself as ‘n god beskou – netsoos die farao – en toon dan berou. Erken God van hierdie dag af, in alles wat jy sê en voornemens is om te doen. As ‘n verdere aansporing, dink aan hierdie gelykenis wat Jesus ons vertel het:

Lukas / Uri {12:18} ”Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. {12:19} En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. {12:20} Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?”

Die farao se hart is verhard omdat hy geweier het om God te eer deur homself voor Hom te verootmoedig. Waak dus daarteen dat dieselfde met julle gebeur! 

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-01-23









Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking