Jetro / Yitro
Jesaja / Yeshayahu 6:1-17:6; 9:5-6
Matthéüs / Mattityahu 5:17-32
Hebreërs / Ivrim 12:18-24
Eksodus / Shemot 18:1 ”Toe Jetro, die priester van Mídian, Moses se skoonvader, hoor alles wat God aan Moses en aan sy volk Israel gedoen het—dat die HERE Israel uit Egipte uitgelei het— {18:2} het Jetro, Moses se skoonvader, Sippóra, die vrou van Moses, geneem—nadat hy haar teruggestuur het— {18:3} en haar twee seuns. (Die naam van die een was Gersom, want hy het gesê: Ek het ‘n vreemdeling geword in ‘n vreemde land; {18:4} en die naam van die ander was Eliëser; want, het hy gesê, die God van my vader is my hulp en het my van Farao se swaard verlos.) {18:5} En Jetro, Moses se skoonvader, het met sy seuns en sy vrou na Moses gekom in die woestyn waar hy by die berg van God met die laer gestaan het. {18:6} En hy het Moses laat weet: Ek, jou skoonvader Jetro, kom na jou met jou vrou en haar twee seuns saam met haar. {18:7} Daarop gaan Moses uit, sy skoonvader tegemoet, en hy het gebuig en hom gesoen; en hulle het na mekaar se welstand gevra en in die tent ingegaan.”
Ek vind hierdie Skrifgedeelte, geneem uit dié week se Toralesing, besonder bemoedigend; trouens, ek dink alle getroude pare behoort dit ook so te ervaar. Die rede waarom ek dit juis bemoedigend vind, is omdat dit ‘n mens laat besef dat huweliksprobleme, wat egpare vandag ondervind – netsoos dié wat ook my eggenote en ek van tyd tot tyd het – niks nuuts is nie. Egpare het al huweliksprobleme gehad sedert die instelling van die huwelik. Adam en Eva het húl probleme gehad en nou kry ons ‘n kykie in die onharmoniese verhouding tussen Moses en sy vrou. Ek weet nie van julle nie, maar ek vind dit bemoedigend om te besef dat die gróót manne en vroue van die Bybel nie bomenslik (soos sommige mense hulle graag wil voorstel) was nie, maar brose, gebroke menslike wesens was netsoos die res van ons is! Dit is vir my behoorlik asof Moses vir my sê: “Welkom in mý wêreld, Jakob!”. Ja, soos meeste getroude pare wat al geleef het, het ons ook al huweliksprobleme gehad, alhoewel ons verhouding darem nooit tot op die punt van egskeiding versleg het nie, maar ek is seker dat dié gedagte nietemin op een of ander stadium tog in ons huwelik by ons opgekom het! As dit nie vir Jesus die Messias in ons lewens was nie, wie weet wat kon gebeur het?
Ek het in die jare wat ek ‘n rabbi is, aan baie egpare berading verskaf en ek besef hóé moelik dit is vir twee persone van verskillende gesinsagtergronde, wat met uiteenlopende ideale gootgeword het, wat geleer is om anders te dink en aan verskillende denkwyses blootgestel is, as één saam te kom en dadelik verenigbaarheid te vind. Dit is wel so dat pare soms daarop roem hoe eensgesind hul benaderings is en hoe gelukkig hulle tydens hul hofmaak – en selfs verlowingstye is, maar feit bly, dat hóé eenders hulle moontlik dink hulle is, hulle hoegenaamd nie is nie! Hulle is inderdaad twee baie verskillende en uiteenlopende persone met twee verskillende en uiteenlopende persoonlikhede.
Omstandighede verander ná die huwelik: om as getroude paar saam te woon, is hoegenaamd nie dieselfde as toe hulle hofgemaak of verloof was nie. Dit is maklik om ‘n front voor te hou en ‘n mate van persoonlike misterie te handhaaf wanneer persone nie saamwoon nie, maar wanneer ‘n getroude paar onder één dak woon, val die maskers af en dít is wanneer die huwelik eintlik begin. Uit my ondervinding het dit geblyk dat meeste nuwe egpare – veral dié wat nie voorhuwelikse berading ontvang het nie – meeding om gesag in die verhouding. Persone wat egter behoorlike berading ontvang het, sou aan daardie aspek van hul verhouding vroegtydig aandag geskenk het, maar ongelukkig het nie alle pare, wat ek ontmoet het, berading ontvang nie en aan baie wat dit wél ontvang het, is die Bybelse rol van man en vrou in die huwelik nie verduidelik nie. Uit die volgende Skrifgedeelte, skyn dit asof dit inderdaad met Moses en Sippóra die geval was:
Eksodus / Shemot {4:24} ”En op die pad in die herberg het die HERE hom teëgekom en wou hom doodmaak. {4:25} Toe neem Sippóra ‘n skerp klip en sny die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my ‘n bloedbruidegom! {4:26} En Hy het hom laat staan. Toe het sy gesê: Bloedbruidegom! —met die oog op die besnydenis.”
Hoe ek hierdie Skrifgedeelte vertolk, is dat Moses besig was om sy heidense vrou, wat oënskynlik besnydenis afgekeur het, probeer behaag het deur nie sy seun te besny nie. Dit was blykbaar ‘n belediging teenoor God, want Hy het, volgens die Skrif, dit so ernstig geag dat Hy Moses wou doodmaak, moontlik deur om hom met ‘n siekte of iets dergliks te tref of hoe ookal God verkies het om Moses te dissiplineer, wat ongetwyfeld tot sy dood sou lei. Toe Sippóra egter verneem of deur Moses meegedeel is dat sy beproewing van God was en ‘n regstreekse gevolg was dat hy nagelaat het om sy seun te besny, het sy die besnydenis met ‘n skerp klip self uitgevoer en met veragting die voorhuid by Moses se voete neergegooi. Ons verneem egter nie verder van Sippóra nie, totdat haar vader haar met Moses verenig het, volgens hierdie week se Parasha. Ons weet nie hoe lank hulle uiteen was nie, maar ek waag dit om te sê dat Sippóra, na daardie gebeurtenis, moontlik ‘n meer liefdevolle, sagte en onderdanige vrou was.
Ons moet egter nie onder die wanindruk verkeer dat ons huwelike sonder konflik gaan wees nie, maar eerder vir Jesus die Messias as middelpunt van ons huwelike stel en tot Hom bid om ons te help om dit , waarvoor die apostel Paulus geskryf het, na te kom:
Kolossense / Kolosim {13:18} ”Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here. {3:19} Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.”
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking