Saterdag 06 Mei 2017

Beskrywing van die Toekomstige Wêreld

Acharei Mot – Kedoshim
(Na Die Dood – Heiliges)

Ek het besluit om hierdie week slegs kommentaar oor parasha Acharei Mot te lewer.
Levítikus / VaYikra {16:12} “en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die HERE wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring. {16:13}  En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die HERE, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie. {16:14}  En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel. {16:15} Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel.”
Iets het my opgeval toe ek hierdie deel van parasha Acharei Mot gelees het. Wat ek besef het, was dat die Heilige der Heilige (Kedosh Kedushim) pikdonker was en daar dus geen manier was dat Aäron iets daarbinne kon gesien het nie. As 'n mens dink hoedat die tabernakel (Mishkan) opgerig was, word dit duidelik dat daar drie lae bedekkings was en aan die buitekant, was die laaste laag robbevel. Gevolglik was dit onmoontlik dat enige lig daardeur kon skyn en boonop was daar binne die tabernakel 'n dik gordyn (Kapporet) war die heiligdom van die Heilige der Heilige geskei het. Hierdie gordyn was swaar en dig geweef – na bewering sowat 10,1 cm (4 duim) dik – en dus ook ondeurdringbaar vir lig. Die enigste lig in die tabernakel was die Menora, wat egter in die heiligdom was waar die Levitiese priesters (Leviim) diens gedoen het. Vanweë die dik gordyn, het of kon die lig van die Menora nie die Heilige der Heilige bereik nie. Hoe het  Aäron dan binne die  Heilige der Heilige sy weg gevind, veral wanneer hy deur God beveel is om die vertrek met reukwerk te vul sodat hy nie sterf nie? Vermoedelik was die bedoeling met die reukwerk om sy sig te belemmer, maar hy kon in elk geval niks sien nie, of kon hy? Was daar moontlik bonatuurlike lig in die Heilige der Heilige waarmee hy sou kon sien en as gevolg daarvan, sy sig deur middel van reukwerk belemmer moes word?
Ons moet allereers onthou dat die tabernakel God se heiligdom was, Sy woonplek onder die kinders van Israel – 'n plek waar 'n heilige God onder 'n onheilige volk kon woon. Dit was egter meer as dit, in soverre die tabernakel 'n herskepping van die tuin van Eden (Gan Eden) was. Juis daarom is niks ritueel onrein of onvolmaak daarbinne toegelaat nie. Die tabernakel het die volmaakte herskepping van die wêreld voorgestel.
Wat word aan ons vertel van hierdie toekomstige wêreld?
Openbaring / Hitgalut {22:5} “En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid.”
Die Heilige der Heilige was skynbaar deur die heerlikheid (Cavod) van God verlig – daarom sou  Aäron kon sien. Dit was nie pikdonker daarbinne nie en dus is sy sig slegs deur die brandende reukoffer belemmer.
In die toekomstige wêreld (olam haba) sal 'n tempel ook nie meer nodig wees nie.
Openbaring / Hitgalut {21:22} “En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.”
Hoe 'n pragtige beeld het God nie vir ons voorgestel deur die beskrywing van die toekomstige wêreld, aan die hand van die konstruksie en die funksie van die tabernakel en tempel nie! Is julle nie geseënd dat julle eendag deel van hierdie toekomstige wêreld sal wees nie?


Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2009-04-24

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking