Behar – BeChukotai
(Op die Berg – In My Insettinge)
Ek dink, om die verbodsbepalings deur God in hierdie verse uitgespreek, te verstaan, is dit nodig om afgodsdiens te omskrywe en begryp wat dit wesenlik is. Meeste mense is nie onkundig nie en ek sou graag wou glo dat hulle besef dat die afbeelding wat hulle gemaak of gekoop het en voor neerbuig, slegs van hout, metaal of klip is, maar nie 'n god nie. Afgodery is egter nie so eenvoudig nie. Wanneer mense voor enige mensgemaakte beeld neerbuig, kniel hulle voor dít wat hulle beskou 'n fisiese voorstelling van die spirituele krag wat hulle god noem, te wees. Daardeur skryf hulle aan hierdie beeld die essensie en krag toe van die god wat dit verpersoonlik. Hulle bid ook en praat met hierdie fisiese voorstelling en glo dat, deur daarna te kyk of dit te aanbid, hul gebede gehoor en verhoor sou word. Afgodery is dus nie dat die mensgemaakte afbeelding God is nie, maar eerder dat hierdie beeld bedoel is om God te verteenwoordig. Om te glo dat jy God kan aanbid deur middel van 'n mensgemaakte beeld, is afgodery!
Selfs indien hulle moontlik nie eers glo dat die voorwerp van hulle aanbidding 'n god is nie, is bloot die gedagte dat dit 'n fisiese teken of voorstelling van God is, afgodery. Baie mense openbaar die beste bedoelings wanneer hulle fisiese- of geïllustreerde voorstellings van God koop en in hul huise of elders vertoon. Ons God stel egter nie in ons goeie bedoelings belang nie, maar wel in ons gehoorsaamheid.
Eksodus / Shemot {32:26} “het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel. {32:27} En hy het vir hulle gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat elkeen sy swaard aangord aan sy heup. Gaan heen en weer van poort tot poort in die laer, en laat elkeen sy broer en elkeen sy vriend en elkeen sy naaste doodmaak. {32:28} En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drie duisend man geval.“
Die kinders van Israel het sekerlik goeie bedoelings gehad toe hulle die goue kalf gemaak en opgerig het. Ongetwyfeld was dit reg in hul harte. Aäron het selfs bevestig dat dit in hul harte reg was toe hy uitgeroep het:
Eksodus / Shemot {32:5} “Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor ‘n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die HERE.”
Indien dit slegs goeie bedoelings was wat getel het, sou God die kinders van Israel sekerlik nie gestraf het oor wat hulle gedoen het en waarom duisende mense hul lewens moes verloor nie.
Moet egter nie mislei word nie: iets so onskuldig soos 'n prent van Jesus wat aan jou muur hang, is afgodery volgens die begrip wat ons sopas hierbo bespreek het. Kinders is baie ontvanklik vir hierdie soort afgodery. Hulle sien só 'n prent, word vertel dit stel Jesus voor en assosieer onmiddelik dié afbeelding in hul verstande met 'n fisiese teken of voorstelling van God – dit is afgodery.
Wat behoort 'n mens te doen? Die antwoord op daardie vraag is eenvoudig: Verwyder enige fisiese – of geïllustreerde voorstellings van God uit jou lewe.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2010-05-08
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking