Saterdag 05 Augustus 2017

Wat van julle?

Va’Etchanan
(En ek het gesmeek)

Wat van julle?

Deuteronomium / Devarim {5:17} “Jy mag nie doodslaan nie.”

Matthéüs / Mattityahu {5:17} “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. {5:18}  Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. {5:19}  Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. {5:20}  Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. {5:21}  Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. {5:22}  Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.”

Het julle gemerk hoedat dinge aansienlik verander het met die koms van Jesus? In plaas daarvan dat die Tora ter syde gestel is, het dit inteendeel selfs strenger geword! Waarom? Omdat ons, deur die aanvaarding van Jesus as ons Messias, nuwe skepsels geword het en die vervulling van Jeremia 31:31-34 in ons plaasgevind het. Die Tora van God is deur Jesus in ons binneste gevestig en as gevolg daarvan herdefineer Jesus dit vir ons.

In die bovermelde Skrifgedeeltes het ons sopas gelees hoedat Jesus verduidelik dat moord eenvoudig die voortgaande verloop van woede is. Die eerste stadium van moord, sê Jesus, word in 'n mens se hart gepleeg: Dit is naamlik woede, woede wat teen enigiemand gekoester word. Dit is waar die sonde van moord allereers begin. Die tweede stadium van moord, volgens Jesus, is wanneer ons vir iemand “Raka” sê. Die woord “Raka” beteken om iemand vir 'n niksnut of 'n skobbejak uit te skel. So word die tweede stadium van moord bereik wanneer ons woede tot veragting oorgaan. Jesus leer ons dat die derde stadium van moord plaasvind wanneer ons iemand 'n dwaas noem. Hierdeur skend ons nie net iemand se karakter nie, maar maak ons 'n bewering aangaande sy geloofsoortuiging en houding teenoor God. Indien julle graag wil weet waarom dit so 'n ernstige belediging is om iemand 'n dwaas te noem, gaan lees gerus wat staan daar oor 'n dwaas geskryf in die boek Spreuke (Mishlei). Die vierde stadium van moord is wanneer ons werklik 'n persoon se lewe neem.

God het beveel dat die fisiese straf vir die vierde stadium van moord, die fisiese dood van die moordenaar moet wees. Terwyl 'n mens wag tot die fisiese stadium om straf toe te dien, het God – op geestelike gebied – reeds vanaf die eerste stadium, die toestand van woede, Sy straf begin toepas. Hy wag nie vir die werklike manifestasie van moord nie, want wat God betref, bestaan daar geen erger straf as die straf vir moord, wat alreeds in ons harte ontvlam het nie.

Begryp julle nou dat God woede en fisiese moord as slegs verskillende grade van dieselfde sonde beskou? Aldrie die stadia van woede, wat ek nou net verduidelik het, word deur God geag as moord. Dit beteken dat ons almal inderdaad aan moord skuldig is, wanneer ons ons skuldig maak aan sonde in ons harte, wat nie bely word of waaroor ons geen berou het nie!

Het julle al ooit vir iemand, wat 'n fout begaan het, kwaad geword? Dan het julle moord gepleeg! Mans: Was julle al ooit vir julle vrouens kwaad gewees as julle tuisgekom het en jul ete nog nie gereed was nie? Dan het julle oor 'n maaltyd van byvoorbeeld spaghetti en frikkedelle moord gepleeg! Wat van die kere wat julle vir 'n kelnerin of huurmotorbestuurder kwaad geword het? By hoeveel geleenthede het julle die integriteit van 'n geregsdienaar of doeanebeampte beledig? Het julle al beledigende kommentaar oor iemand se motorbestuursvermoë gelewer? Indien wel, het julle moord gepleeg! Wat van sommige van julle wat so vroom by die shul voorkom, maar julle tuis aan die uitbarsting van woedebuie oorgee? Julle het moord gepleeg! Wat van julle wat vir 'n week lank nie met julle vrouens gepraat het nie omdat hulle jul verjaar- of huweliksherdenkingsdag vergeet het? Julle is moordenaars! Wat van diegene van ons wat so vroom optree maar tuis julle kinders verskree in plaas daarvan om hulle volgens die Skrif te dissiplineer? Terloops, as julle hierdie laasgenoemde uitweg gevolg het, dan het julle 'n verwronge beeld van God aan hulle voorgehou, wat erger as moord is! Hoe dikwels het ons nie al 'n kelnerin, wat telank met ons bestelling gesloer het, vermoor nie, of die motorwerktuigkundige wat ons motor nie behoorlik herstel het nie, of 'n persoon wat geskakel het, of die dokter wat ongeërg voorgekom het, of die verpleegkundige wat nie dadelik gedoen het wat ons versoek het nie? Hoeveel van ons het nie al werkgewers of werknemers vermoor nie? Hoeveel van ons het nie al uit woede ons hele gesin vermoor wanneer ons na 'n veeleisende dag by die werk, moeg en moedeloos tuiskom nie? Hoeveel van ons het selfs al vir God vermoor? Dit alles is skokkende ontnugterende inligting, nie waar nie?

Verkies jy om kwaad deur die lewe te gaan? Ek glo nie so nie! Indien dit wel die geval is, wil ek graag vir jou 'n oplossing bied: Bid elke keer wat jy kwaad word en bid in die besonder vir die persoon vir wie jy kwaad is. Stort jou hart en siel daarin uit. In plaas daarvan om as 'n persoon wat gou kwaad word, beskou te word, staan dan eerder bekend as 'n biddende persoon.

Voordat ek afsluit, is daar tog nog iets wat ek graag wil sê: Selfs as ons almal aan die eerste drie stadia van moord skuldig is, het ons nogtans die geleentheid om vergifnis te ontvang. Ons hoef nie op die elektriese stoel te sterf of 'n dag in die gevangenis deur te bring of vir ewig in die verdoemenis (hel) te verkeer nie. Indien julle glo in Jesus die Messias jul Heer en Redder, hoef julle slegs jul sondes te bely, om vergifnis te smeek en die bloed wat aan die kruis vir julle gestort is, sal julle vrymaak. Indien julle egter nog nooit vir Jesus as jul Messias aangeneem het nie en julle aan moord skuldig is, dan het julle twee keuses: (1) Julle kan steeds ly onder die gevolge van wat julle gedoen het, wat, trouens reeds in jul lewens aan die gang is of (2) julle kan nou vir Jesus as jul Messias aanneem, Hom om vergifnis smeek en al julle sondes van die verlede sal deur Sy versoenende bloed afgewas word.

 Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-07-24

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking