Saterdag 19 Augustus 2017

Vermaning en Aansporing deur HaShem

Re’eh
(Kyk)


Deuteronomium (Devarim) {11:29} " As dan die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, moet jy die seën op die berg Gerísim lê en die vloek op die berg Ebal. {11:30} Lê hulle nie oorkant die Jordaan, agter die pad in die weste, in die land van die Kanaäniete wat in die Vlakte woon, teenoor Gilgal, by die terpentynbome van More nie?"

Watter soort vraag vra God (HaShem) dan hier? God (HaShem) weet tog immers waar berg Gerisim (Gerizim) en berg Ebal geleë is. Waarom stel God (HaShem) hierdie vraag aan die kinders van Israel (bnei Yisrael)? Die antwoord, glo ek, word duidelik as ons onthou wat deur God (HaShem) gespreek is aan die einde van verlede week se oordenking: ...Parasha Ekev.

Deuteronomium / Devarim) {11:24} "Elke plek waar julle voetsool op trap, sal aan julle behoort; van die woestyn en die Líbanon, van die rivier, die Eufraatrivier, tot by die Westelike See sal julle grondgebied wees. "

God (HaShem) het waarskynlik 'n retoriese vraag aan die kinders van Israel (bnei Yisrael) gestel. Hy was mos vanselfsprekend bewus van waar berg Gerisim (Har Gerizim) en berg Ebal (Har Ebal) geleë was en die kinders van Israel (bnei Yisrael) het ook geweet. Maar, ten einde die land, waarvan die berge deel was, in besit te neem, moes die kinders van Israel (bnei Yisrael) se voete werklik raak aan die grond waar die berge geleë was. Inderdaad sou God (HaShem) aan hulle die hele land gee waarop hul voetsole getrap het, maar hulle moes eers deur die Jordaan (Yarden) gaan en dit in besit neem; hulle moes letterlik daarop loop ten einde dit te ontvang. God (HaShem) se retoriese vraag - glo ek - was 'n aansporing vir die kinders van Israel (bnei Yisrael) om aanstaltes te maak, die land binne te gaan en begin om dit in besit te neem.

Deur fisies op die land te loop, was egter nie die enigste vereiste wat God (HaShem) gestel het nie: Die kinders van Israel (bnei Yisrael) moes ook God (HaShem) se gebooie (mitzvoth) onderhou. Juis om daardie rede sou berg Gerisim (Har Gerizim) geseën en berg Ebal (Har Ebal) vervloek word. Hierdie berge sou vir Israel (Yisrael) 'n voortdurend sigbare herinnering in hierdie land wees dat die benutting van die land, wat God (HaShem) aan hulle gegee het, daaraan onderhewig sou wees dat hulle Sy gebooie (mitzvoth) onderhou.

Dit kom vir my voor - ten minste soos God (HaShem) Sy retoriese vraag bewoord het - asof die kinders van Israel (bnei Yisrael) te gemaklik geraak het aan die oostekant van die Jordaan (Yarden). Miskien was dit nodig om 'n bietjie aangepor te word - vandaar die ietwat verbale retoriek deur God (HaShem) - om hulle uit hul gemaksone te kry en sodoende weswaarts te laat begin beweeg om die land wat God (HaShem) aan hulle gegee het, in besit te neem.

Levitikus / Vayikra {18:26} "Maar júlle moet my insettinge en my verordeninge onderhou en niks van al hierdie gruwels doen nie die kind van die land of die vreemdeling wat onder julle vertoef. {18:27}  Want die mense van die land, wat voor julle gewees het, het al hierdie gruwels gedoen, en die land het onrein geword. {18:28}  Laat die land julle dan nie uitspuug as julle dit verontreinig nie, soos dit die nasie uitgespuug het wat daar voor julle was."

Om die land in besit te neem en behou, was twee verskillende dinge. Die kinders van Israel (bnei Yisrael) het die land met die trap van hulle voetsole in besit geneem, maar sou volgens hul getrouheid die land behou of verloor, vanweë die seëninge óf vervloekings deur God (HaShem). Die in besitname van die land, asook die behoud daarvan sou egter inspanning vereis. Niks word maklik verkry nie; niks wat die moeite werd is, gebeur maklik nie.

Ons redding, as gelowiges in Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach), wat aan ons toegang tot die Koninkryk van God (HaShem) verleen, is die enigste vrye gawe van God (HaShem). Ná ons redding, is dit nou ons plig om, volgens Paulus (Shaul) "... werk julle eie verlossing uit met vrees en bewing;" (Fillipense (Pilifim) {2:12}).

Heiligmaking, wat voortspruit uit die onderhouding van die gebooie (mitzvoth) van God (HaShem), is wat Paulus (Shaul) bedoel het. Dit verskaf aan ons die volle vreugde van ons redding, maar is afhanklik van ons onderhouding van - en leefwyse volgens - die gebooie (mitzvoth) van God (HaShem). Somtyds, waar dit die onderhouding van die gebooie betref, het ons ook 'n bietjie aansporing op gehoorsaamheidsvlak deur God (HaShem) nodig. Dus, laat God (HaShem) beproewings en toetse oor ons lewens kom, ten einde ons in die regte rigting te laat beweeg. Ons weet waarheen Hy ons wil laat gaan en wat Hy van ons verwag om te doen. Sy geskrewe Woord deel ons dit alles mee; trouens, dit is ons berg Gerisim (Har Gerizim) en berg Ebal (Har Ebal), maar soos die kinders van Israel (bnei Yisrael), verval ons ook in ons eie gemaksones en weier soms om te beweeg - gevolglik versuim ons om op dit wat Hy aan ons geskenk het, aanspraak te maak. Die beproewings en toetse in ons lewens laat ons dus beweeg sodat ons op die hele "gebied" (voordele van redding), wat God (HaShem) ons beloof het, aanspraak kan maak.


 Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2008-08-30

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking