Saterdag 12 Augustus 2017

Die Uiteindelike Resultaat

Ekev
(As Gevolg Van)



Deuteronomium / Devarim {8:1} “Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat die HERE aan julle vaders met ‘n eed beloof het. {8:2}  En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. {8:3} En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan. {8:11}  Neem jou in ag dat jy die HERE jou God nie vergeet deur sy gebooie en sy verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie; {8:16} wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie, om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen— ”

Julle het seker gemerk dat ek enkele verse in die bovermelde Skrifaanhaling uit hierdie week se parasha oorgeslaan het. Die rede daarvoor was dat ek dié verse wat pertinent op ons bespreking betrekking het, wou aanhaal.

Ek wil graag hê dat ons eerstens daarop moet let dat God ons gehoorsaamheid aan Hom vereis en al Sy gebooie onderhou. Hy het belowe dat indien ons dit nakom, ons nie net sal lewe nie, maar ook voorspoedig wees, vermeerder en die land van ons vyande besit. God wil egter hê dat ons moet onthou dat ofskoon ons Sy gebooie gehoorsaam, Hy dit tog mag nodig vind om ons van tyd tot tyd te verootmoedig om te toets of ons toewyding aan Hom eg is. Soos Hy hierbo gespreek het, het Hy die kinders van Israel verootmoedig, deur hulle ondermeer te laat honger ly en hulle dan van die skamelste voedsel (manna) te voorsien, wat onder normale omstandighede, skynbaar ‘n persoon fisies nie juis versadig het of voedsaam was nie. Wonder bo wonder het hierdie voedsel hulle egter tydelik wel versadig. In ons Skrifgedeelte hierbo, het God verduidelik dat Hy dit gedoen het om te bewys dat “die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (vers 2).

My eggenote en ek is baie gesondheidsbewus, daarom probeer ons ons bes om gesond en voedsaam te eet. Beide van ons besef egter dat, ongeag hóé goed ons eet en ten spyte van ons gesondheidsbewustheid, ons, sonder om aan God en Sy gebooie gehoorsaam te wees, nie in staat sal wees om goeie gesondheid te handhaaf nie. Ons gesondheid en welsyn word nie alleenlik deur brood bepaal nie, maar wel deur elke Woord wat uit die mond van God uitgaan.

Ons word elke dag aangeraai om gebalanseerde gesonde maaltye te nuttig. Skole verskaf nie langer Coca Cola en ander potensieel ongesonde koeldrank en voedsel by hul kafeterias nie, maar hierdie selfde skole het God reeds uit hul klaskamers weggelaat – God word verhinder om ons skole binne te gaan (ten minste die God van Abraham, Isak en Jakob). Wat is dan ons gevolgtrekking? Wel, soos God gesê het dat: “die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan”. Ons kan dus aflei dat ongeag die mens se pogings om gesonde eetgewoontes by ons skoolkinders in te prent dit nie ‘n geslag van gesonde volwassenes sal verseker nie, altans nie op die lange duur nie.

Tweedens wil ek graag hê ons moet besef dat God teëspoed in ons lewens toelaat om ons te verootmoedig. Ek het agtergekom, selfs ook in my geval, dat indien voorspoed ongehinderd toegelaat word, ons geneig is om selfsugtig, selfverheerlikend en snobisties te raak. Dit kan ontwikkel tot by ‘n punt waarop ons op ander neersien en slegs diegene uitsoek wat ons posisies of loopbane kan bevorder.

Teëspoed in ‘n mens se lewe daarenteen, genees beslis hierdie houding. Wanneer ‘n mens moeilikhede ondervind, besef jy dat jy hoegenaamd nie onoorwinlik of onveilbaar is nie, maar wel dat jy slegs soos elke ander mens in hierdie bose en perverse wêreld is. Jy is kwesbaar en blootgestel aan siekte, besmettings en probleme. Met hierdie wete en deur die ervaring van enige van hierdie boodskappers van God, word nederigheid in ons teweeg gebring.

In die laaste instansie wil ek graag hê ons moet besef dat alles wat God oor ons toelaat, geskied volgens die laaste Skrifgedeelte, wat ek hierbo aangehaal het, naamlik “...jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen - ...”. Die satan verlei ons sodat hy ons uiteindelik kan kwaad aandoen. Hy wil hê ons moet misluk, knoei en van Gog af wegdwaal, maar God beproef ons sodat ons nie opgeblase, selfverheerlikend en snobisties sal wees nie. God toets ons teneinde later aan ons goed te doen. Telkens wanneer ons so ‘n toets slaag en ons God se wil bo ons eie stel, kom ons nader aan God, wat uiteindelik daartoe sal lei dat Hy ons seën.

 Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2010-07-24

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking