Saterdag 03 Maart 2018

Die Mikvah – Die Kern van ‘n Bybelse Samelewing

KiTisa
(Wanneer Jy Verhef)


Eksodus / Shemot {30:17} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {30:18}  Jy moet ook ‘n koperwaskom maak met sy kopervoetstuk, om in te was; en sit dit tussen die tent van samekoms en die altaar, en gooi water daarin, {30:19}  dat Aäron en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan was. {30:20}  As hulle in die tent van samekoms gaan, moet hulle hul met water was, sodat hulle nie sterwe nie; of as hulle naby die altaar kom om te dien deur ‘n vuuroffer aan die HERE aan die brand te steek. {30:21}  Hulle moet dan hul hande en hulle voete was, sodat hulle nie sterwe nie. En dit moet vir hulle ‘n ewige insetting wees, vir hom en sy nageslag in hulle geslagte.”

Dit is die eerste aangetekende verwysing ooit na ‘n mensgemaakte waskom (mikvah). Die priesters moes hulle hande en voete daaruit was, wat beteken dat hulle die water in die waskom gebruik het om hulself te reinig. Die rede waarom God hulle beveel het om hulself daaruit te reinig, is “… sodat hulle nie sterwe nie;”. Die vraag ontstaan nou egter: wat sou die verband dan wees tussen versuim om met water gereinig te word en om te sterwe?

In talle opsigte is die indoop (t’vilah) in water, die drumpel van onderskeid tussen die onheilige en heilige – maar selfs meer as dit. Die blote indoop in ‘n mikvah, dui op ‘n statusverandering of méér korrek ‘n verandering van aansien. Die ongeëwenaarde werking daarvan lê in die mag van transformasie, die vermoë om ‘n metamorfose te weeg te bring. Byvoorbeeld: vanaf die aanvang van haar menstruasie, is ‘n vrou geag om in ‘n staat van uitsluiting (Nidda) te verkeer. Sy is van haar man afgesonder tot na afloop van haar menstruasie en totdat sy in ‘n mikvah gereinig is. Slegs dan is sy tot geslagsgemeenskap met haar man herenig. In tempeltye is mans en vrouens, wat vanweë rituele verontreiniging van dienslewering uitgelsuit is, ná t’vilah, toegelaat om die tempelberg op te gaan, die huis van God binne te gaan en self by die wydingsofferande betrokke te raak. Nog meer dramaties, kon ‘n proseliet, wat in die mikvah as ‘n nie-Jood gereinig is, as ‘n Jood uit die water kom.

Die gebooie van God word in drie onderskeie kategorieë verdeel:

Strawwe (Mishpatim) – Wette wat die siviele en morele lewe beheer. Dit is logies, geredelik verstaanbaar en algemeen as deurslaggewend en tot handhawing van ‘n gesonde samelewing geag. Voorbeelde van die mishpatim is die veroordeling met betrekking tot moord, diefstal en egbreuk.

Statute (Eidut) – Rituele en rites, wat beste beskryf kan word as bewyslewering. Hierdie kategorie behels die vele godsdienstige handelinge, wat Jode herinner aan historiese gebeure in hulle geskiedenis en dien as erkenning van die vernaamste instellings (gebruike) van die Joodse geloof. Voorbeelde hiervan is die onderhouding van die Sabbat, die vier van Paasfees (Pesach) en die aanbring van ‘n mezuzah aan die deurkosyn.

Ordonansies (Chukkim) – Bonatuurlike beginsels. Dit behels Goddelike verorderinge wat die menslike verstand nie by magte is om te oordeel nie. Chukkim gaan alle beskrywing deur mense intellek en begrip te bowe. Dit is juis onder hierdie kategorie waarin t‘vilah in ‘n mikvah ressorteer, tesame met ander instellings soos die Kosher-wette (Kashrut) en die Rooi Verskalf. Chukkim mitzvot word beskou as die vernaamste, aangesien dit die siel op sy diepste vlak beïnvloed. Onbelemmerd deur die beperkings van die menslike verstand, word hierdie ordonansies om slegs één rede beoefen – gehoorsaamheid aan God se Woord. Eenvoudig gestel, ons onderhou hierdie mitzvot slegs omdat God dit so beveel  het.

Ongeag die feit dat t’vilah in ‘n mikvah vir ons as ‘n misterie voorkom, kan ons nietemin sekere insigte verkry wat ons behulpsaam kan wees om tot ‘n beperkte begrip van die dimensies en implikasies van die t’vilah binne óns t’vilah-ervaring te verkry.

Die konsep van ritueel rein (tamei) en ritueel onrein (tahor), soos in die Torah beveel en in tempeltye toegepas is het geen vergelyking of gelykwaarde in hierdie postmoderne eeu nie. Moontlik is die rede waarom dit vir die hedendaagse Westerse begrip moeilik is om by die begrip aanklank te vind en dit as toepaslik te beskou. In antieke tye, was tamei en tahor van die uiterste belang – dit was die bepalende faktore in ‘n samelewing wat rondom die tempel en gepaardgaande stelsels van offerandes gesentreer het. Die aansien van ‘n persoon – of hy/sy rein of onrein was – was die kern van die Bybelse samelewing. Dit het ‘n persoon se betrokkenheid in alle aspekte van, nie slegs die rituele lewe nie maar inderdaad ook die lewe self, dikteer en beheer. Daar was talryke tipes van onreinheid wat op ‘n persoon se rol in sowel die samelewing as tempeldiens betrekking gehad het. Ofskoon die onreinheid ‘n verskeidenhied reinigingsprosesse behels het, was t’vilah in die mikvah die hoogtepunt van reiniging in elke geval. Selfs vir ‘n persoon wat ritueel rein was, was die proses van verheffing ‘n hoër vlak van geestelike betrokkenheid of heiligheid, deur t’vilah in ‘n mikvah ‘n vereiste. As sulks, was die instelling van t’vilah van die deurslaggewende betekenis in die lewe van enigeen wat in die tempel (Biet HaMikdash) diens verrig het. In ‘n rituele samelewing, wat in ‘n toestand van tahor verkeer het, sou toegang tot die tempel onmoontlik gewees het en korbanot-offerandes dus geheel-en-al nie aangebied kon word nie.

Ons keer dus nou terug tot ons vraag: “Wat sou die verband dan wees tussen versuim om met water gereinig te word en om te sterwe?” Op dieselfde wyse sou die inbring van vreemde vuur in die tempel, tot die dood van Aäron se seuns gelei het – dit geld vir enigiemand anders en dit is vir ons die antwoord. Aäron en sy seuns sou God hoegenaamd nie op sommer enige wyse kon nader nie. Ten einde in Sy teenwoordigheid te kom, moes hulle gereinig wees en verhef gewees het tot ‘n hoër geestelike aansien, wat oënskynlik uitsluitlik deur God se Chukkim van reiniging met water, vervul kon word.


Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-02-19

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking