Saterdag 24 Maart 2018

Om te kan dien, moet ons tweeledig gesalf wees

Tzav
(Opdra)


Levitikus / VaYikra {8:24} “Moses het ook die seuns van Aäron laat nader kom en van die bloed aan hulle regteroorlel en aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet gestryk; daarna het Moses die orige bloed rondom teen die altaar uitgegooi.”

Die eerste gedagte wat by my opgekom het toe ek hierdie Skrifgedeelte gelees het, was: “Waarom het God verkies dat noodwendig die regterhand van die priesters met bloed gesalf word? Is dit dan verkeerd om linkshandig te wees?” Die antwoord daarop is natuurlik, nee! Insgelyks het God so ook aan die regteroor en – groottoon voorkeur verleen. Ons het nog nooit verneem van iemand wat regs of links van gehoor of toon is nie, veral met ‘n sekere negatiewe konnotasie, wat in die verlede algemeen van toepassing was op mense wat linkshandig-dominant was. Gevolglik moet daar ‘n ander verduideliking bestaan.

Psalm / Tehillim {118:15} “‘n Stem van gejubel en van heil is in die tente van die regverdiges: die regterhand van die HERE doen kragtige dade. {118:16}  Die regterhand van die HERE verhef; die regterhand van die HERE doen kragtige dade.” 

Psalm / Tehillim {110:1} “Van Dawid. ‘n Psalm. Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.”

Hebreërs / Ivrim {12:2} “die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.”

Op grond van die bovermelde asook talle ander soortgelyke verse, kan ons aanvaar dat die regterhand Jesus die Messias simboliseer. Ons weet ook dat al die naderkomsofferandes (korbanot) simbole was van ons Messias, Jesus, wat, trouens, die finale korban was. Dit is Sy bloed wat ons reinig van ons sonde, Sy bloed wat ons red en Sy bloed wat ons heilig (wy) vir diens. Die voorbeeld wat God dus aan ons voorhou, is soos volg: Die bloed van Sy (d.w.s. Jesus) regterhand gesmeer aan die regteroorlel, die regterduim en regtergroottoon van Aäron en sy seuns, het hulle geheilig vir diens. Hierdie drie ekstremiteite verteenwoordig die dienslewering deur die Hoëpriester, wat Jesus by die volk verteenwoordig het: Die oor is om die stem van die Here te hoor, die duim is om die werk van die Here te verrig en die groottoon is om te wandel in die weë van die Here. Die natuurlike mens ontvang nie die geestelike gawes van die Here nie. Dit is onmoontlik om Hom te dien, soos wat Hy dit van ons vereis, sonder dat ons gered is. Daarom is dit bloed, spesifiek die bloed van versoening – Jesus die Messias, ons finale versoening – wat ons red.

Hebreërs / Ivrim{9:14} “hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.”

Ons moet veral let op iets baie betekenisvol aan die einde van vers 14 hierbo. Afgesien van die aanwending van bloed aan Aäron en sy seuns, het Moses ook rondom teen die altaar, die bloed gesprinkel. Bloed op die altaar simboliseer God se genade.

Efesiërs / Efesos {2:18} “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;”

Die simboliek eindig egter nie daar nie.

Levitikus / VaYikra {8:30} “Moses het ook van die salfolie en van die bloed wat aan die altaar was, geneem en dit op Aäron, op sy klere, sowel as op sy seuns en op die klere van sy seuns gesprinkel. So het hy dan Aäron, sy klere, sowel as sy seuns en die klere van sy seuns geheilig.”

Aäron en sy seuns is ingeseën met bloed en olie. Die aanwending van bloed wás ‘n simbool van sondevergifnis en die olie ‘n simbool van salwing met die Heige Gees. Sonder sondevergifnis en salwing met die Heilige Gees, sou dit vir Aäron en sy seuns onmoontlik gewees het om namens God diens te verrig. 

Levitikus / VaYikra {17:11} “Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.”

Tot vandag toe het niks verander nie:

Matthéüs / Mattityahu {26:28} “Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.”

Jesus die Messias – ons finale versoening – het Sy bloed vir ons gestort dat ons sondevergifnis mag ontvang en Hy het ons met die Heilige Gees gesalf, sodat ons as gesalfde priesters van die Allerhoogste God, Sy getuies hier op aarde mag wees.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-03-19


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking