Shemini
(Agste)
Levitikus/ Vayakira {9:23} “Daarop het Moses en Aäron in die tent van samekoms gegaan; en toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. En die heerlikheid van die HERE het aan die hele volk verskyn {9:24} vuur het van die aangesig van die HERE uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en op hulle aangesig geval.”
Levitikus/ Vayakira {10:1} “En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. {10:2} Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE.”
Dit was vir my interessant dat beide hierdie Skrifgedeeltes verwys na vuur wat vanuit die hemel gekom het. Ofskoon albei vure van die aangesig van God afgekom het, het dit met ‘n heel verskillende doel gebeur. In beide gevalle was dit ‘n verterende vuur – die één het egter die korban (naderkomsoffer) op die altaar verteer en lewe meegebring terwyl die ander vuur die seuns van Aäron verteer en dus die dood meegebring het.
Die Hebreeuse woord vir vuur is “Aish” en daarvan word die woorde “Ish” (as ēēsh uitgespreek) en vir vrou “Isha” (as ēēsha uitgespreek) afgelei. Die feit dat die woorde vir man en vrou van die woord vir vuur afgelei is, dui vir ons aan dat die vuur van God binne-in ons moet wees.
Die rabbi’s glo dat elke mens met die vonk van God in hulle geskep is. Hierdie vonk of essensie van God moet aangesteek / ontbrand word, vir ons om waarlik te lewe. Ek is van mening dat dit juis dít was wat Paulus bedoel het toe hy geskryf het:
Romeine / Romim {12:1} “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”
Die korban moes altyd op die altaar geplaas word, waar dit deur die vuur van God verteer sou word. Dit was dan juis dáár waar sondevergifnis plaasgevind het. Vandag egter, moet ons by die kruis bly, waar die vuur van God die sonde in ons binneste sal verteer – ten einde daagliks aan onsself te sterf en daagliks tot eer van die Messias, Jesus, te lewe. By baie mense bestaan daar ‘n wanvertolking van die woorde van Johannes die Doper toe hy gesê het:
Lukas / Uri {3:16} “antwoord Johannes almal en sê: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie—Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.”
Christene van die Pinkster-denominansies vertolk hierdie Skrifgedeelte asof God hulle gaan vul, nie slegs met die Heilige Gees nie maar ook met die vuur (=krag) van die Heilige Gees. Ofskoon dit blykbaar aansluit by hulle “brandende”– teologiese oortuigings, is dit hoegenaamd nie wat met hierdie vers bedoel word nie. Die werklike betekenis hiervan gaan terug na die Tora, besonderlik die verse hierbo aangehaal. Die vuur van God daal neer van die hemel om een van twee dinge te doen en dit is óns keuse wat dit vir ons sal doen. Indien ons onsself as lewende korbanot (offers) wy, dan sal ons aan onsself sterwe en vir Jesus die Messias lewe. Indien ons verkies om ons eie gang te gaan en nie die gebooie van God te gehoorsaam nie, sal die vuur uit die hemel in oordeel neerdaal en ons lewens verteer.
Josua / Yehoshua {24:14} “Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE. {24:15} Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.”
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2012-04-15
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking