VaYakhel/Pekude
(En Hy Het Byeengebring)
Soos julle uit die titel sal merk, is daar hierdie week ‘n dubbele Tora-lesing. En ek het na verwante Skrifgedeeltes uit elke deel gesoek en verskaf één kommentaar vir albei Parashot. Graag wil ek hiermee ook erkenning verleen aan Rabbi Jonothan Cahn, wie se lesings in hierdie kommentaar bygewerk is.
(Uit parasha Vayakhel)
Eksodus {36:35 – 36:38) “Verder het hy die voorhangsel gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne; as kunstige werk het hy dit gemaak, met gérubs. (36:36) En hy het vier pilare van akasiahout daarvoor gemaak en dit met goud oorgetrek; hulle kramme was ook van goud; en hy het daarvoor vier silwervoetstukke gegiet. (36:37) Hy het ook vir die ingang van die tent ‘n bedekking gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk; (36:38) en die vyf pilare wat daarby behoort, met hulle kramme; en hy het hulle toppe en ringe met goud oorgetrek; en hulle vyf voetstukke was van koper.”
(Uit parasha Pekude)
Eksodus {39:1} “Hulle het ook kunstige klere van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe gemaak om in die heiligdom te dien. Ook het hulle die heilige klere vir Aäron gemaak soos die HERE Moses beveel het.”
Ons weet dat alles wat God doen van betekenis is. Sekerlik is dit van toepassing op wat Hy in die Bybel doen en wat Hy in die tabernakel (Mishkan) gedoen het. Wat insiggewend van die bovermelde Skrifgedeeltes is, is die verwysing na die drie kleure: blou, pers en bloedrooi. Wat ook interessant is, is dat die tabernakel uit drie dele bestaan het: die buitevoorhof, die Heiligdom en die Heiligste der Heilige – oftewel die Kadosh Kedoshim.
Blou is die kleur van die hemel, dit wil sê die lug en daarom verteenwoordig blou dus die hemel. Skarlaken is rooi en die Hebreeuse woord vir rooi is “Adom”, waaraan die naam “Adam” ontleen is. Die grond in die Midde-Ooste is rooierig en Adam is uit die Midde-Oosterse stof van die aarde geformeer – vandaar sy naam. Die naam Adam is nie slegs die naam van die eerste mens nie, maar verwys ook na die ganse mensdom. Die kleur, Adom, rooi of skarlaken rooi, verteenwoordig dus die mens. Dit is dus interessant dat met hierdie twee kleure blou en rooi, ons ‘n skakel het tussen hemel en aarde: God en die mens; trouens, dit is waaroor die tabernakel eintlik gaan – die ontmoeting of skakeling tussen God en mens en mens met God. Die tabernakel is op soortgelyke wyse met betrekking tot hierdie twee kleure saamgestel. Ons vind die Heiligste der Heilige waar God woon en die voorhof waar die mens woon.
Die middelste kleur in ons Skrifgedeeltes vermeld, is pers (purperrooi), wat, soos ons weet, ‘n samevoeging van blou en rooi is. Wat verder van hierdie kleur interessant is asook die betrekking daarvan tot die tabernakel, is dat laasgenoemde die Plek van Ontmoeting (dit wil sê die “ontmoeting” van blou en rooi) genoem is. Nie net dat dit ‘n volgorde van die kleure is nie: blou is altyd eerste en rooi altyd laaste, met pers altyd in die middel. Daar was ook dieselfde kleurvolgorde met die oprigting van die tabernakel: blou (hemel / die Heiligste der Heilige) is eerste en die voorhof (rooi / die mens) laaste opgerig en waar dié twee gedeeltes bymekaarkom (ontmoet), in die middel, die altaar. Ons sien dus hier dat die beweging is van die hemel af na die mens.
Op die voorhangsel van die tabernakel is gerubs ingeweef in dieselfde kleure: blou, pers en bloedrooi en die bedekking van die ingang na die tabernakel, weereens in blou, pers en bloedrooi.
Wanneer ons die Hoëpriester (Kohen HaGadol) sien en hoe hy in die tabernakel diens verrig, merk ons dat hy van die voorhof na die Heiligste der Heilige beweeg: van die altaar na die ark, waaroor die teenwoordigheid van God was. Dit is baie interessant omdat dit ‘n afskaduwing is van Jesus se beweging vanaf die kruis: vanaf die mens na die altaar, na God toe, oftewel van die kruis na die hemel. Hy het by die mens begin en na God opgevaar.
Volgens die Skrif, is ons met die geregtigheid van Jesus beklee, dit wil sê dat ons die klere van God dra in blou, pers en bloedrooi. “Wie kan ons skei van die liefde van die Messias…”. Dit behels om in God te lewe en God in ons; om ons in Sy vreugde te verbly, om deur sy oë te kyk en in Sy voetspore te volg. Elke geslote deur gaan oop vir dié een wat in God lewe, elke sluier van vrees sal deur die krag van God weggeem word. Indien ons in God wandel, sal Hy ons bemagtig net soos blou en rooi in pers kan verander!
Kom gou Jesus!
PDF weergawe
Voorheen uitgegee: 2012-03-11
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking