Saterdag 23 Maart 2019

Dit is nie wetties (legalisties) nie, dit is om gehoorsaam te wees

Tzav
(Opdrag)

Levitikus / VaYikra 6:8-8:36

Levitikus / Vayikra {8:5} “Toe sê Moses aan die vergadering: Dit is die saak wat die HERE beveel het om te doen. {8:6} En Moses het Aäron en sy seuns laat nader kom en hulle met water gewas. {8:7} Daarop het hy hom die rok aangetrek en hom met die gordel gegord en hom die mantel aangetrek; ook het hy hom die skouerkleed aangetrek en hom gegord met die band van die skouerkleed en daarmee hom die skouerkleed omgebind. {8:8} Verder het hy hom die borstas aangeheg en in die borstas die Urim en die Tummim gesit. {8:9} En hy het die tulband op sy hoof gesit en aan die tulband, aan die voorkant, die goue plaat, die heilige kroon, bevestig, soos die HERE Moses beveel het. {8:10} Toe het Moses die salfolie geneem en die tabernakel en alles wat daarin was, gesalf en dit geheilig. {8:11} En hy het daarvan sewe maal op die altaar gesprinkel en die altaar gesalf en al sy gereedskap, met die waskom en sy voetstuk, om dit te heilig. {8:12} Daarna het hy van die salfolie op die hoof van Aäron gegiet en hom gesalf om hom te heilig. {8:13} Ook het Moses die seuns van Aäron laat nader kom en hulle die rokke aangetrek en hulle gegord met 'n gordel en hulle die musse omgebind soos die HERE Moses beveel het.”

Soos ons verder tot aan die einde van hierdie week se parasha lees, sien ons dat Moses God se bevele tot in die fynste besonderheid uitgevoer het. Ek bring dit juis onder julle aandag omdat ons dikwels, vanweë ons tipe aanbiddingsdiens daarvan beskuldig word dat ons wetties is. Ek wonder dus, was Moses inderdaad wetties of kon hy nie maar ‘n paar kortpaaie geneem en die hele proses veel korter en eenvoudiger gemaak het nie? Die antwoord is natuurlik beslis NEE!

Om dinge volgens reëls uit te voer en in ooreenstemming met God se opdrag, is van kardinale belang. Dit is nie wetties nie – dit is om gehoorsaam te wees. Indien God ons beveel om iets op ‘n bepaalde wyse uit te voer en ons doen dit gerieflikheidsonthalwe op ‘n ander wyse, is dit afgodery. Ja, dit is sonder twyfel afgodery! Ons sou onsself voordoen om God te wees, terwyl ons redeneer dat óns beter weet en oor ‘n verbeterde en vinniger wyse beskik om dinge uit te voer.

1 Korinthiërs / Koritim Alef {14:40} “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.”

Ek glo dat wat Paulus (Shaul) hier vir ons vertel, is dat daar God se wyse en daar ‘n menslike wyse is, maar dat ons dinge op God se wyse móét uitvoer.

Myns insiens raak baie gelowiges te gesteld op wat hulle as wetties beskou. Laat my toe om dit vir julle te definieer. Wettigheid is enigiets wat ons doen wat menslik bedink word, wat dan toegevoeg word tot wat werklik deur God vereis word. Ook om ‘n legalis te wees, is om te probeer om God se gebooie af te dwing op ‘n “nuwe” gelowige, wat nog nie vir Jesus as sy / haar Messias aangeneem het nie. Dit is presies die punt wat Paulus in die boek van Romeine maak, toe hy gesê het:

Romeine / Romim {14:1} “1 En neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie. {14:2} Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente. {14:3} Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem.”

Hierdie Skrifgedeelte verwerp geensins die Tora nie, soos sommiges sou wou leer nie, maar alles wat betrekking daarop het om die gebooie af te dwing op diegene wat nog swak (nuwe gelowiges) is of aan ‘n Messiaanse Joodse gemeente behoort, maar hulself nog nie daartoe verbind het of Jesus as hul Messias aanvaar het nie.

Om dinge op die regte wyse – God se wyse – te doen, is nie legalisties / wetties nie: Dit is die wyse waarop Hý verwag dat dinge gedoen moet word.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2013-03-17


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking