Shelach
(Ondersoek Jouself )
Numeri/Bamidbar (15:13) “Elke kind van die land moet hierdie dinge op dieselfde manier doen, om ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE te bring. {15:14} En as ‘n vreemdeling by julle vertoef, of hy wat vir geslagte onder julle is, en ‘n vuuroffer van lieflike geur vir die HERE berei—soos julle doen, so moet hy doen. {15:15} Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. ‘n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die HERE wees. {15:16} Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef.”
Baie mense, wat hulle kerk verlaat en by die Messiaanse Joodse gemeente, veral één soos die Gemeente Melech Yisrael, aansluit, verkeer uiteindelik onder die indruk dat die kerk nie gered is nie. Die rede vir hierdie indruk is omdat ons die Hernieude Vebond (Brit Chadasha) met betrekking tot die Joodse konteks, sienswyse en begrip daarvan onderrig. Dit is natuurlik iets geheel-en-al vreemd vir ‘n kerk wat die Joodsheid en Tora verwerp. Niks is egter verder van die waarheid verwyder nie – die kerk is vir die grootste gedeelte gered.
Omdat hulle egter hulle Joodse afstamming en die Tora verwerp het, het die kerk nie tot die volle begrip van die Woord van God gekom nie. Hulle het ook die volheid van die krag, wat tot hulle beskikking is, verbeur vanwëë hulle ongehoorsaamheid aan die Tora, maar hulle is wel gered. Toegegee dat sommige kerke in afvalligheid verval het as gevolg van hulle uiterste ongehoorsaamheid en verwerping van Israel. Behalwe diegene, is die mense van die kerk gered.
Dit bring ons by die punt wat ek graag wil bespreek. Soos ons in die bovermelde Skrifgedeelte gelees het, is vreemdelinge, wat hulself by Israel aansluit en begeer het om aan die gebruike en tradisies van Israel deel te hê, as één met Israel beskou. Indien dit vandag van toepassing is, beteken dit dat nie-Jode wat hulle by ‘n Messiaanse Joodse gemeente aansluit, self Messiaanse Jode (nie Joods nie, maar Messiaanse Jode) sal word. Nie alle vreemdelinge (nie-Joodse gelowiges) is egter bereid om daardie keuse te maak nie; trouens, die oorgrote meerderheid het verkies om te bly by hulle onderskeie kerklike tradisies. Dit beteken nie dat met die wederkoms van Jesus, nie-Joodse gelowiges en die nasies waaraan hulle behoort, deel daarvan sal wees of ophou om te bestaan nie.
Sagaría/Zechariah {4:17} “En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie—hulle sal geen reën kry nie. {4:18} En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die HERE die nasies tref wat nie opgaan om die huttefees te vier nie. {14:19} Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie optrek om die huttefees te vier nie.”
In hierdie gedeelte beskryf Sagaria wat gedurende die Duisendjarige Ryk (die Duisendjarige Ryk van die Messias op aarde) met die nasies sal gebeur, wat nie na Jerusalem optrek om met die huttefees voor God te verskyn nie. Hieruit kan ons dus aflei dat die verskillende nasies van die aarde tydens die Duisendjarige Ryk sal bestaan en dat hulle apart van Israel sal wees. Hierdie feit lei my tot die volgende gevolgtrekking:
Na my mening, sal daar tydens die Duisendjarige Ryk twee groepe mense op aarde wees. Die eerste groep sal Israel wees, ‘n volk wat uit fisiese mense bestaan, wat hulle afstamming kan naspoor tot by die patriarge, Abraham (Avraham), Isak (Yitzchak) en Jakob (Ya’acov), tesame met diegene uit die nasies van die wêreld wat hulself met Israel verbind en sodoende één met hulle geword het. Die tweede groep sal die onbesnede of nie-Joodse nasies wees wat glo, van wie baie sal oorleef en steeds bestaan ná die typerk van verdrukking. Ongelukkig sal baie van hulle teen die einde van die Duisendjarige Ryk, deur die Satan verlei word en weereens anti-Semities, Anti-Israel, raak.
Openbaring / Hitgalut {20:7} “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; {20:8} en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. {20:9} En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.”
Daar is egter iets interessant in die Skrif aangaande die vreemdeling, wat ek julle graag sou wou laat sien. Dit het betrekking op dié nasies wat verkies om hulle met Israel te verbind:
Esegiël / Ezekial (47:23) “En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE.”
Die mense van die nasie wat verkies om hulleself met Israel te verbind, sal vergun word om te kies van welke stam hulle deel wil word.
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2012-06-10
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking