Vrydag 07 Junie 2019

Nageslag van Abraham, en Erfgenaam Volgens die Belofte

BaMidbar
(In Die Woestyn)

Númeri / BaMidbar {1:16} “Dit was hulle wat uit die vergadering opgeroep was, die owerstes van hulle voorvaderlike stamme, die stamhoofde van Israel. {1:17}  Toe het Moses en Aäron dié manne geneem wat met hulle name aangewys was, {1:18}  en hulle het die hele vergadering op die eerste dag van die tweede maand bymekaar laat kom; en dié het hulle afkoms opgegee volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, hoof vir hoof,”

Moses was nou besig om die kinders van Israel te tel ten einde ‘n leër op die been te bring. Hulle sou gaan oorlog voer, met die doel om die land, wat God aan hulle voorouers belowe het, in besit te neem. Elke volwasse man van twintig jaar en ouer, wat geskik was om te veg, moes getel word. Aangesien hierdie die tweede jaar van hulle bevryding was, was dit die eerste geslag bevryde slawe, wat uit Egipte gekom het. Ek veronderstel dat dit die rede was waarom Moses en Aäron van hulle vereis het om hulle afkoms of voorgeslagte te verklaar. In die eerste instansie, het ons verneem dat daar ‘n gemengde skare was wat Egipte saam met die kinders van Israel verlaat het. Diegene, soos ek in vorige kommentare reeds verduidelik het, het bestaan uit gevange slawe van ander lande, wat deur die Egiptenare verslaan was, mense van gemengde huwelike asook kinders uit sodanige huwelike of Egiptenare, wat in die God van Israel begin glo het. Hierdie mense moes geïdentifiseer word om te verseker dat hulle nie swakker of enigsins anders as die res behandel sou word nie.

Eksodus / Shemot {23:9} “Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ‘n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.”

Dit was ook noodsaaklik om vas te stel wie hulle was, sodat hulle geaffilieer kon word met ‘n bepaalde stam of één van hulle keuse. Tweedens, vir almal wat werklik van Israel afgestam het, sou die verklaring van herkoms verseker dat hulle geïdentifiseer word met die regte stam – die stam van hulle voorvaders – en dus onder die korrekte banier marsjeer. Genealogie was van die uiterste belang in Bybelse tye, net soos dit vandag in Israel belangrik is, veral in die geval van immigrasie. Allerbelangrik egter, deur die verklaring van iemand se afkoms, was dat dit sy affiliasie met- en toewyding aan die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob verseker het. God het hoegenaamd geen verdraagsaamheid ten opsigte van afgodery gehad nie!

Eksodus {34:14} “Want jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers—’n jaloerse God is Hy.”

Jesus die Messias se afkoms was ewe belangrik. Ten einde die Koning in Israel te wees, moes Hy aan twee maatstawwe voldoen: Eerstens moes Hy afgestam het van die patriarge, spesifiek van die stam van Juda en tweedens, mag Hy nie ‘n afstammeling van die vervloekte afstamming (lyn) van koning Jekonia gewees het nie. Sy geslagsregister, soos opgeteken in beide Matthéüs en Lukas, verstrek aan ons Sy afkoms en bevestig Sy aanspraak op die troon van Dawid.

As gelowiges in Jesus die Messias, is ons afkoms ewe belangrik vandag as wat dit in Númeri was. Ons mag geen ander God as die God van Israel dien nie.

Dikwels vertel mense aan my dat hulle ‘n familielid of vriend het wat byna gered (wedergebore) is. Jy kan nie byna gered wees nie – jy is óf vír Jesus die Messias óf jy is téén Hom; daar bestaan geen grys area wanneer dit by redding kom nie! Elkeen in die ganse wêreld sal eendag voor die enigste ware God, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob verskyn en Hy sal elkeen versoek om sy/haar afkoms te verklaar. Indien hulle nie hulle afkoms van Abraham deur Jesus die Messias kan nagaan nie, sal geen Jood of nie-Jood geag word om kinders van God te wees en sal hulle nie die Komende Wêreld (Olam Haba) kan ingaan nie.

Galasiërs / Galatim {3:26} “Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; {3:27}  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. {3:28}  Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. {3:29}  En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-05-26

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking