Vrydag 05 Julie 2019

Die Erns van Leierskaphoedanigheid

Korach
(Korag)

Romeine / Romim 13:1 - 7

Númeri {16:6} “Doen dit: Neem vir julle vuurpanne, Korag en sy hele bende, {16:6} en gooi daar môre vuur in en lê daar reukwerk op voor die aangesig van die HERE; dan sal die man wat die HERE uitkies, die heilige wees. Dit is nou genoeg, kinders van Levi!”

Waarom het ek hierdie Skrifgedeelte gekies om kommentaar oor te lewer? Dit is as gevolg van wat in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) plaasgevind het. Judas was dood en die apostels het één gekort. Waarom hulle gedink het dat hulle noodwendig twaalf in plaas van elf moes wees, bly ‘n misterie. Ja, Jesus het oorspronklik twaalf manne gekies maar Hy sowel as sy apostels het geweet dat één uitgesonder is spesifiek om Hom te verraai. Waarom moes hierdie bedriëer vervang word?

Johannes / Yochanan {6:70} “Jesus antwoord hulle: Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel!”

Die apostels kon net sowel voortgegaan het om slegs elf te wees, maar om een of ander onverklaarbare rede, het hulle dit nodig geag om Judas te vervang. Was dit moontlik omdat daar twaalf stamme van Israel was en hulle dus gemeen het dat daar dus twaalf apostels moes wees? Was dit miskien bloot omdat hulle dit wóú doen of was dit omdat hulle deur die Heilige Gees (Ruach Kadesh) daartoe gelei is om dit te doen? Niemand sal weet nie!

Handelinge / Ma’asei HaTalmidim {1:23} “En hulle het twee voorgestel: Josef wat genoem is Bársabas, met die bynaam van Justus, en Matthías. {1:24} En hulle het gebid en gesê: U, Here, wat die harte van almal ken, wys uit hierdie twee die een aan wat U uitverkies het {1:25} om die lot van hierdie bediening en apostelskap te verkry, waarvan Judas afgewyk het om heen te gaan na sy eie plek. {1:26} Toe werp hulle die lot, en die lot het op Matthías geval; en hy is gekies om saam met die elf apostels te wees.”

Ons lees in Openbaring (Hitgalut) dat die mure van die nuwe Jerusalem gebou sal wees op twaalf fondamente, vernoem na die twaalf apostels. Dit skep ‘n probleem: Jesus self het aan Saulus (later Paulus) verskyn en hom as apostel gekies, soos ons in Handelinge 22:6-15 lees – ‘n feit wat deur Paulus bevestig is:

Romeine {11:13} “Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek ‘n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening”

Indien Matthías dus deur die elf as ‘n apostel aangewys is, nadat hulle tot die Here daaroor gebid en daarna deur die lot bepaal het wie Judas sou opvolg en God vir Paulus aangewys het, was daar dan nou dertien apostels? Dit kon nie wees nie! Aangesien daar slegs twaalf fondamente vir die nuwe Jerusalem was, vernoem na die twaalf apostels, soos in die boek Handelinge aangedui, kon daar slegs twaalf apostels wees.

Sommige mense het al hierdie misterie probeer wegredeneer deur te beweer dat Matthías óf in Judea deur die Jode óf in Ethiopië deur die Ethiopiërs doodgemartel is. Indien dit wel die geval was, waarom het die apostels dan nie vir Jakobus (Ya’acov), wat ook doodgemartel is, vervang nie?

Ek wil nie graag enige perke oorskry en voorstel dat die apostels uit hule eie en sonder om God te raadpleeg, Judas deur Matthías vervang het nie, maar dit wil tog so voorkom. Dan is daar weer aan hulle die gesag verleen om “te bind en los te maak”. Hierdie gesag, in die regte perspektief beskou, glo ek, het slegs op die beskrywing in die Hernieude Verbond betrekking. Met inagneming dus dat daar slegs twaalf apostels kon wees en God vir Saulus gekies het, was die verkiesing van Matthías nie geldig nie.

Dit bring die betekenisinhoud van ons Skrifgedeelte van hierdie week se Parasha sterk na vore, wat lui: “Dan sal die man wat die Here uitkies, die heilige wees...

Dit is nie vir ons om te kies nie óf onsself óf iemand anders vir die ampte van leierskap nie, want die keuse berus by God. Ek dink ons almal het iets om na uit te sien wanneer ons eindelik die nuwe Jerusalem binnegaan en werklik sien wie se naam op die twaalfde fondament geskrywe staan!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2013-06-02


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking