Vrydag 19 Julie 2019

Valse Profete: Bedrieër – ‘n Werktuig van die Satan

Balak
(Balak)


Numeri / Bamidbar {22:41} “En in die môre het Balak Bíleam geneem en hom op die hoogtes van Baäl laat opklim vanwaar hy die kant van die volk kon sien. {23:1} Toe sê Bíleam vir Balak: Bou vir my hier sewe altare en berei vir my hier sewe bulle en sewe ramme. {23:2} En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het; en Balak en Bíleam het ‘n bul en ‘n ram op elke altaar geoffer. {23:3} Daarop sê Bíleam vir Balak: Bly by jou brandoffer staan, en ek sal heengaan; miskien sal die HERE my tegemoetkom, en wat Hy my ook al laat sien, sal ek jou bekend maak. En hy het na ‘n kaal heuwel gegaan.”

Bileam was nie ‘n ware volgeling van God nie. Hy was nie een van God se profete nie en ook nie ‘n lid van die gemeenskap van Israel nie. Hy was ‘n Mesopotamiese astroloog, ‘n waarsêer wat waarskynlik vir homself naam gemaak het as iemand wat ‘n vloek oor mense kon bring. Hoedat hy van die God van Israel te wete gekom het, is onbekend maar ons weet wel dat hy van iets aangaande die aanbidding van God kennis gedra het.

In die verse hierbo aangehaal, sien ons dat Bileam van die getal sewe gebruik maak. Hierdie getal is God se getal van voltooiing en volmaaktheid. Waarom Bileam dus die getal sewe (sewe altare, sewe bulle en sewe ramme) gekies het, word nie aan ons meegedeel nie, maar ons weet egter dat hy ‘n opportunis was. Uiteindelik het hebsug die oorhand oor hom gekry en het hy geswoeg voor die wense van Balak en sodoende ‘n bose plan teen Israel gesmee.

Bileam het voorgegee dat hy ‘n man van God is, maar was dit inderdaad nie. Net so het hy homself voorgedoen om ‘n profeet van God te wees, wat hy beslis ook nie was nie; trouens, hy was ‘n bedrieër en werktuig van die satan.

Die punt wat ek graag hier wil maak, is dat nie elkeen wat homself ‘n gelowige noem, werklik ‘n gelowige is nie.

Matthéüs / Mattityahu {7:15} “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.”

Jesus het ons dikwels gewaarsku teen bedrieërs, mense wat voorgee om van God te wees, maar nie is nie. Hy het verwys na koring wat saam met onkruid groei (Matthéüs 13:25). Hy het ons gewaarsku teen diewe (= valse herders) wat van ‘n anderkant af in die skaapstal inklim, in plaas daarvan om by die deur in te gaan (Johannes 10:1-3) en die dief wat net kom om te steel, slag en verwoes (Johannes 10:10). Daar is baie bedrieërs daarbuite en tot my spyt, het ek al talle van hulle deur die jare teëgekom. Daar is selfs ook godsdienstige organisasies wat hulself daarop beroem om Christelik en volgelinge van Jesus die Messias te wees, maar nie is nie. Dit is ontstellend om die voorspoed van hierdie instellings te sien asook die misleiding van hulle volgelinge – maar Jesus het ons ook van hulle vertel.

2 Timothéüs / Timoteus Bet {4:3} “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,” 

Daar is ‘n gebed wat ons Donderdae met ons oggendgebed (Shacharit) bid, wat soos volg lui: “U het die mens genadiglik met kennis toegerus en ‘n brose sterfling insig geleer. Rus ons genadiglik vanuit Uself toe met wysheid, insig en kennis. Geseënd is U, o God, genadige Skenker van kennis.” (Vrye vertaling uit Engels)

Daar is vandag soveel bedrog in die wêreld en soveel valse leermeesters, valse Messiaanse leermeesters ingesluit. Hulle verkondig valse leerstellings en mislei mense daardeur. Ofskoon Bileam uiterlik goed voorgekom het, was hy innerlik net so bedrieglik soos Balak.

Matthéüs / Mattityahu {23:25} “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.”

Waak daarteen om nie tussen diegene te wees wat deur bedrieglike leermeesters en valse profete mislei word nie. Maak gerus die Shacharit-gebed deel van jou daaglikse gebedslewe.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-07-01


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking