Sondag 06 Oktober 2019

Verbondenheid

VaYelech
(En Hy Het Gegaan)


Deuteronomium / Devarim {31:1} "DAARNA het Moses gegaan en die hele Israel met hierdie woorde toegespreek {31:2} en vir hulle gesê: Ek is vandag honderd-en-twintig jaar oud; ek kan nie meer uit- en ingaan nie, en die HERE het vir my gesê: Jy mag deur hierdie Jordaan nie gaan nie. {31:3} Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het. {31:4} En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het; {31:5} die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het. {31:6} Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie. {31:7} Toe het Moses Josua geroep en aan hom voor die oë van die hele Israel gesê: Wees sterk en vol moed, want jý sal met hierdie volk in die land ingaan wat die HERE aan hulle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee; en jý sal hulle dit laat erwe. {31:8} En dit is die HERE wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie; jy mag nie bevrees of verskrik wees nie. {31:9} EN Moses het hierdie wet opgeskrywe en dit gegee aan die priesters, die seuns van Levi, wat die verbondsark van die HERE gedra het, en aan al die oudstes van Israel. {31:10} En Moses het aan hulle bevel gegee en gesê: Aan die einde van sewe jaar, op die bepaalde tyd van die jaar van kwytskelding, op die huttefees, {31:11} as die hele Israel kom om te verskyn voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies, moet jy hierdie wet voor die hele Israel, voor hulle ore lees. {31:12} Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou. {31:13} En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om die HERE julle God te vrees al die dae wat julle lewe die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem. {31:14} N die HERE het vir Moses gesê: Kyk, jou dae kom nader dat jy moet sterwe; roep Josua, en gaan julle in die tent van samekoms staan, dat Ek aan hom bevel kan gee. Toe het Moses en Josua gegaan en in die tent van samekoms gaan staan. {31:15} En die HERE het in die tent in ’n wolkkolom verskyn terwyl die wolkkolom by die ingang van die tent bly staan het. {31:16} Toe sê die HERE vir Moses: Kyk, jy ontslaap met jou vaders, en hierdie volk sal opstaan, en hulle sal die vreemde gode van die land waarheen hulle gaan, in sy midde agternahoereer en My verlaat en my verbond verbreek wat Ek met hulle gemaak het. {31:17} Dan sal my toorn op dié dag teen hulle ontvlam, en Ek sal hulle verlaat en my aangesig vir hulle verberg, sodat hulle verteer word en baie onheile en node hulle oorkom. Dan sal hulle op dié dag sê: Het hierdie onheile ons nie oorgekom, omdat onse God nie onder ons is nie? {31:18} Maar Ek sal op dié dag my aangesig heeltemal verberg weens al die kwaad wat hulle gedoen het; want hulle het na ander gode afgewyk. {31:19} Skryf dan nou vir julle hierdie lied op, en leer dit aan die kinders van Israel; lê dit in hulle mond, dat hierdie lied vir My ’n getuie teen die kinders van Israel kan wees. {31:20} Want Ek sal hulle inbring in die land wat Ek aan hulle vaders met’n eed beloof het, wat oorloop van melk en heuning, en hulle sal eet en versadig en vet word; dan sal hulle afwyk na ander gode en dié dien, en hulle sal My verag en my verbond verbreek. {31:21} En as dan baie onheile en node oor hulle kom, dan sal hierdie lied in hulle aangesig as getuie antwoord — want dit sal uit die mond van hulle nageslag nie vergeet wees nie — want Ek ken hulle gedagtes wat hulle vandag koester voordat Ek hulle inbring in die land wat Ek met ’n eed beloof het. {31:22} Toe het Moses hierdie lied op dié dag opgeskrywe en dit aan die kinders van Israel geleer. {31:23} En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol moed, want jý sal die kinders van Israel inbring in die land wat Ek hulle met ’n eed beloof het; en Ek sal met jou wees. {31:24} En toe Moses die woorde van hierdie wet klaar in ’n boek geskryf het tot die einde toe, {31:25} het Moses aan die Leviete wat die verbondsark van die HERE gedra het, bevel gegee en gesê: {31:26} Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark van die HERE julle God, dat dit daar as getuie teen jou kan wees. {31:27} Want ék ken jou wederstrewigheid en jou hardnekkigheid. As julle, terwyl ek nog vandag by julle lewe, wederstrewig was teen die HERE — hoeveel te meer dan ná my dood! {31:28} Laat al die oudstes van julle stamme en julle opsigters by my vergader, dat ek voor hulle ore hierdie woorde kan spreek, en teen hulle die hemel en die aarde as getuies kan neem. {31:29} Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom deur die werk van julle hande te terg.{31:30} Toe het Moses voor die ore van die hele vergadering van Israel die woorde van hierdie lied tot die einde toe uitgespreek."

Hierdie gedeelte (Vayelech) word gewoonlik gelees saam met Nitzavim (“julle het gestaan”), wat vanjaar nie die geval is nie. Die Parasha word gevolglik op sy eie behandel. Alhoewel dit ‘n redelik kort gedeelte is - slegs 30 verse - behels dit nietemin talle onderwerpe waaroor ek graag kommentaar sou kon lewer. Die volgende is egter die gedeelte wat ek gekies het om met julle te deel:

Deuteronomium / Devarim {31:3} "Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het . {31:4} En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het;  {31:5} die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het."

Die kinders van Israel sou dus heelwat teenstand ondervind het om die land in besit te neem, wat gewis nie maklik sou wees nie. Die Kanaäniete en Hitiete onder andere was daar en hulle sou nie die kinders van Israel binne hulle grense toegelaat het sonder ‘n geveg nie. So, watter pragtige belofte maak God hier aan die kinders van Israel! Hulle almal het gesien hoedat die konings van Sihon en Og in oorlog verdelg is en nou verseker Moses hulle dat God dieselfde sou doen met die inwoners van die land wat hulle in besit sou neem. Dit moes ongetwyfeld vir hulle ‘n besondere aanmoediging gewees het. Dit het dus nie saak gemaak hoe moeilik die teenstand sou wees nie, hoe dapper hulle sou moes veg nie of hoe ’n groot leër hulle gehad het nie, want God sou die vyand verslaan. Sou ons nie graag so ‘n belofte verwelkom het nie? Die feit is, ons sou ongetwyfeld! Ek het al dikwels oor die koninkryk van God gesels, dat dit nie ‘n koninkryk is wat iewers in die toekoms sal bestaan nie, maar eerder dat dit reeds hier en nou bestaan en dat dít ons is! God se koninkryk lewe binne elkeen van ons! As gevolg hiervan, is ons as gelowiges in Jesus die Messias gesamentlik ‘n bedreiging vir die vyand wat tans die wêreldstelsels bedreig. Telkens wanneer ons bid, God prys met ons sang, Hom verheerlik en elke keer wanneer ons die Evangelie van Jesus die Messias met iemand deel, word die vyand die hoof gebied, maar probeer dit ons getuienis vernietig en ons geloofwaardigheid betwyfel. Die Kanaäniete Hitiete en ander volke was God se vyande toe die kinders van Israel gereed was om die Beloofde Land binne te gaan en sou nie sonder ‘n geveg gestuit word nie. Dieselfde is op ons van toepassing. Ons is gereed om ‘n standpunt vir God en geregtigheid hier op aarde in te neem, maar God het ook hier vyande. Soos wat Israel gereed was om hulle vyande te onteien, is ons ook in die proses om óns vyande te onteien, maar daar is demone in die land! Die vyand van God hier op aarde en vanselfsprekend ook óns sin, is die koninkryk van Duisternis (die Satan, sy heersers en bose magte) en hulle gaan nie sonder ‘n geveg gestuit word nie. Ons moet dus geensins onder die indruk verkeer dat ons lewens as gelowiges in Jesus die Messias maklik gaan wees nie. As God se koninkryk hier op aarde, kan ons ook van God se vyande, wat saam met ons die aarde bewoon, teenstand verwag. 

Efesiërs / Efesos {6:12} "Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug." 

Hierdie demone sal nie rus sonder ‘n geveg nie. Indien julle in Jesus die Messias glo, het julle alreeds te staan gekom teen hulle teenstand en sal julle verstaan wat ek bedoel en waaroor ek praat. Die duiwel is onverbiddelik en ons kan verwag om in stryd met hom te wees vir die res van ons lewens, maar hou moed want die Here sê:

Deuteronomium / devarim {31:6} "Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie." 

Ja, hierdie Skrifgedeelte is netso van toepassing op ons as wat dit op die kinders van Israel toepaslik was. Laat ons hierdie les by Israel leer: wat die Here duisende jare gelede belowe het om vir hulle te doen, sal Hy ook vandag vir ons doen. Ons moet vasberade en volhardend wees met ons gebede, getuienis en dade van geregtigheid omdat die stryd die Here s’n is.

Johannes / Yochanan {16:33} "Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin."

Kom gou Jesus!

 PDF weergawe





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking