✦

Verbondenheid

VaYelech
(En Hy Het Gegaan)


Deuteronomium / Devarim {31:1} "DAARNA het Moses gegaan en die hele Israel met hierdie woorde toegespreek {31:2} en vir hulle gesê: Ek is vandag honderd-en-twintig jaar oud; ek kan nie meer uit- en ingaan nie, en die HERE het vir my gesê: Jy mag deur hierdie Jordaan nie gaan nie. {31:3} Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het. {31:4} En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het; {31:5} die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het. {31:6} Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie. {31:7} Toe het Moses Josua geroep en aan hom voor die oë van die hele Israel gesê: Wees sterk en vol moed, want jý sal met hierdie volk in die land ingaan wat die HERE aan hulle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee; en jý sal hulle dit laat erwe. {31:8} En dit is die HERE wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie; jy mag nie bevrees of verskrik wees nie. {31:9} EN Moses het hierdie wet opgeskrywe en dit gegee aan die priesters, die seuns van Levi, wat die verbondsark van die HERE gedra het, en aan al die oudstes van Israel. {31:10} En Moses het aan hulle bevel gegee en gesê: Aan die einde van sewe jaar, op die bepaalde tyd van die jaar van kwytskelding, op die huttefees, {31:11} as die hele Israel kom om te verskyn voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat Hy sal uitkies, moet jy hierdie wet voor die hele Israel, voor hulle ore lees. {31:12} Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om die HERE julle God te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie wet te hou. {31:13} En hulle kinders wat dit nie ken nie, moet hoor en leer om die HERE julle God te vrees al die dae wat julle lewe die land waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem. {31:14} N die HERE het vir Moses gesê: Kyk, jou dae kom nader dat jy moet sterwe; roep Josua, en gaan julle in die tent van samekoms staan, dat Ek aan hom bevel kan gee. Toe het Moses en Josua gegaan en in die tent van samekoms gaan staan. {31:15} En die HERE het in die tent in ’n wolkkolom verskyn terwyl die wolkkolom by die ingang van die tent bly staan het. {31:16} Toe sê die HERE vir Moses: Kyk, jy ontslaap met jou vaders, en hierdie volk sal opstaan, en hulle sal die vreemde gode van die land waarheen hulle gaan, in sy midde agternahoereer en My verlaat en my verbond verbreek wat Ek met hulle gemaak het. {31:17} Dan sal my toorn op dié dag teen hulle ontvlam, en Ek sal hulle verlaat en my aangesig vir hulle verberg, sodat hulle verteer word en baie onheile en node hulle oorkom. Dan sal hulle op dié dag sê: Het hierdie onheile ons nie oorgekom, omdat onse God nie onder ons is nie? {31:18} Maar Ek sal op dié dag my aangesig heeltemal verberg weens al die kwaad wat hulle gedoen het; want hulle het na ander gode afgewyk. {31:19} Skryf dan nou vir julle hierdie lied op, en leer dit aan die kinders van Israel; lê dit in hulle mond, dat hierdie lied vir My ’n getuie teen die kinders van Israel kan wees. {31:20} Want Ek sal hulle inbring in die land wat Ek aan hulle vaders met’n eed beloof het, wat oorloop van melk en heuning, en hulle sal eet en versadig en vet word; dan sal hulle afwyk na ander gode en dié dien, en hulle sal My verag en my verbond verbreek. {31:21} En as dan baie onheile en node oor hulle kom, dan sal hierdie lied in hulle aangesig as getuie antwoord — want dit sal uit die mond van hulle nageslag nie vergeet wees nie — want Ek ken hulle gedagtes wat hulle vandag koester voordat Ek hulle inbring in die land wat Ek met ’n eed beloof het. {31:22} Toe het Moses hierdie lied op dié dag opgeskrywe en dit aan die kinders van Israel geleer. {31:23} En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol moed, want jý sal die kinders van Israel inbring in die land wat Ek hulle met ’n eed beloof het; en Ek sal met jou wees. {31:24} En toe Moses die woorde van hierdie wet klaar in ’n boek geskryf het tot die einde toe, {31:25} het Moses aan die Leviete wat die verbondsark van die HERE gedra het, bevel gegee en gesê: {31:26} Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark van die HERE julle God, dat dit daar as getuie teen jou kan wees. {31:27} Want ék ken jou wederstrewigheid en jou hardnekkigheid. As julle, terwyl ek nog vandag by julle lewe, wederstrewig was teen die HERE — hoeveel te meer dan ná my dood! {31:28} Laat al die oudstes van julle stamme en julle opsigters by my vergader, dat ek voor hulle ore hierdie woorde kan spreek, en teen hulle die hemel en die aarde as getuies kan neem. {31:29} Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom deur die werk van julle hande te terg.{31:30} Toe het Moses voor die ore van die hele vergadering van Israel die woorde van hierdie lied tot die einde toe uitgespreek."

Hierdie gedeelte (Vayelech) word gewoonlik gelees saam met Nitzavim (“julle het gestaan”), wat vanjaar nie die geval is nie. Die Parasha word gevolglik op sy eie behandel. Alhoewel dit ‘n redelik kort gedeelte is - slegs 30 verse - behels dit nietemin talle onderwerpe waaroor ek graag kommentaar sou kon lewer. Die volgende is egter die gedeelte wat ek gekies het om met julle te deel:

Deuteronomium / Devarim {31:3} "Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het . {31:4} En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het;  {31:5} die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het."

Die kinders van Israel sou dus heelwat teenstand ondervind het om die land in besit te neem, wat gewis nie maklik sou wees nie. Die Kanaäniete en Hitiete onder andere was daar en hulle sou nie die kinders van Israel binne hulle grense toegelaat het sonder ‘n geveg nie. So, watter pragtige belofte maak God hier aan die kinders van Israel! Hulle almal het gesien hoedat die konings van Sihon en Og in oorlog verdelg is en nou verseker Moses hulle dat God dieselfde sou doen met die inwoners van die land wat hulle in besit sou neem. Dit moes ongetwyfeld vir hulle ‘n besondere aanmoediging gewees het. Dit het dus nie saak gemaak hoe moeilik die teenstand sou wees nie, hoe dapper hulle sou moes veg nie of hoe ’n groot leër hulle gehad het nie, want God sou die vyand verslaan. Sou ons nie graag so ‘n belofte verwelkom het nie? Die feit is, ons sou ongetwyfeld! Ek het al dikwels oor die koninkryk van God gesels, dat dit nie ‘n koninkryk is wat iewers in die toekoms sal bestaan nie, maar eerder dat dit reeds hier en nou bestaan en dat dít ons is! God se koninkryk lewe binne elkeen van ons! As gevolg hiervan, is ons as gelowiges in Jesus die Messias gesamentlik ‘n bedreiging vir die vyand wat tans die wêreldstelsels bedreig. Telkens wanneer ons bid, God prys met ons sang, Hom verheerlik en elke keer wanneer ons die Evangelie van Jesus die Messias met iemand deel, word die vyand die hoof gebied, maar probeer dit ons getuienis vernietig en ons geloofwaardigheid betwyfel. Die Kanaäniete Hitiete en ander volke was God se vyande toe die kinders van Israel gereed was om die Beloofde Land binne te gaan en sou nie sonder ‘n geveg gestuit word nie. Dieselfde is op ons van toepassing. Ons is gereed om ‘n standpunt vir God en geregtigheid hier op aarde in te neem, maar God het ook hier vyande. Soos wat Israel gereed was om hulle vyande te onteien, is ons ook in die proses om óns vyande te onteien, maar daar is demone in die land! Die vyand van God hier op aarde en vanselfsprekend ook óns sin, is die koninkryk van Duisternis (die Satan, sy heersers en bose magte) en hulle gaan nie sonder ‘n geveg gestuit word nie. Ons moet dus geensins onder die indruk verkeer dat ons lewens as gelowiges in Jesus die Messias maklik gaan wees nie. As God se koninkryk hier op aarde, kan ons ook van God se vyande, wat saam met ons die aarde bewoon, teenstand verwag. 

Efesiërs / Efesos {6:12} "Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug." 

Hierdie demone sal nie rus sonder ‘n geveg nie. Indien julle in Jesus die Messias glo, het julle alreeds te staan gekom teen hulle teenstand en sal julle verstaan wat ek bedoel en waaroor ek praat. Die duiwel is onverbiddelik en ons kan verwag om in stryd met hom te wees vir die res van ons lewens, maar hou moed want die Here sê:

Deuteronomium / devarim {31:6} "Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie." 

Ja, hierdie Skrifgedeelte is netso van toepassing op ons as wat dit op die kinders van Israel toepaslik was. Laat ons hierdie les by Israel leer: wat die Here duisende jare gelede belowe het om vir hulle te doen, sal Hy ook vandag vir ons doen. Ons moet vasberade en volhardend wees met ons gebede, getuienis en dade van geregtigheid omdat die stryd die Here s’n is.

Johannes / Yochanan {16:33} "Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin."

Kom gou Jesus!

 PDF weergawe





Verbondenheid

VaYelech
(En Hy Het Gegaan)


Devarim / Deuteronomium {29:10} ”Julle staan vandag almal voor die aangesig van die HERE julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters—al die manne van Israel; {29:11} julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter, {29:12}  om oor te gaan in die verbond van die HERE jou God—en in sy eedswering—wat die HERE jou God vandag met jou sluit; {29:13} sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ‘n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het. {29:14} En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie, {29:15} maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie. {29:16} Want julle weet self hoe ons in Egipteland gewoon en hoe ons dwarsdeur die nasies getrek het waardeur julle getrek het. {29:17} En julle het hulle verfoeisels en hulle drekgode, hout en klip, silwer en goud, by hulle gesien, {29:18} sodat daar onder julle geen man of vrou of geslag of stam mag wees wat sy hart vandag van die HERE onse God afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wilde-als dra nie,”

Indien julle wedergebore gelowiges in Jesus die Messias is, dan behoort julle tot die Verbond wat God met Abraham, Isak en Jakob gesluit het. Aangesien julle tot die verbond behoort, behoort julle ook tot die volk en land Israel. As gelowiges is ons woning in die hemel, maar ons tuisland is Israel. Waarom is Israel dan ons tuisland? Dit is omdat Jesus die Messias vanuit Israel vir ‘n duisend jaar sal heers en regeer en aan ons gesê het dat waar Hy ookal is, ons sal wees.

Hitgalut / Openbaring {20:6} ”Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

Dit maak nie saak in welke land van die wêreld julle nou woon nie. Elke keer wanneer julle die Tora (die eerste vyf boeke van Moses) lees en dit op julle self toepas, soos dit op jul lewe vandag toepaslik is, word julle herhinner aan julle verbintenis aan die Verbond, volk en land van Israel. Israel is jul tuisland! Moontlik mag julle tans nie welkom wees om julle dáár te vestig nie, veral as julle nie-Jode is of indien julle Joodse gelowiges in Jesus die Messias is, maar dit sal alles verander wanneer Jesus die Messias weer kom.

Ons behoort almal tot die Verbond omdat ons dáár by die kinders van Israel gestaan het toe hulle die Goddelike Verbond van God by berg Sinaï ontvang het, soos in die eerste Skrifaanhaling hierbo vermeld word. Ons behoort tot die volk omdat julle Jode is of as julle nie-Jode is nie, sal julle eendag kan kies aan watter stam julle wil behoort en ‘n erfdeel in daardie stam ontvang:

Yechekiel / Esegiël {47:23} ”En in die stam waar die vreemdeling by vertoef, daar moet julle hom sy erfdeel gee, spreek die Here HERE.”

Laastens, behoort ons tot die land omdat daar in die Skrifgedeelte uit Openbaring (20:6) hierbo, geskryf staan dat ons saam met Hom vir ‘n duisend jaar in Jerusalem sal heers en regeer.

Devarim / Deuteronomium {31:28} ”Laat al die oudstes van julle stamme en julle opsigters by my vergader, dat ek voor hulle ore hierdie woorde kan spreek, en teen hulle die hemel en die aarde as getuies kan neem. {31:29} Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom deur die werk van julle hande te terg. {31:30} Toe het Moses voor die ore van die hele vergadering van Israel die woorde van hierdie lied tot die einde toe uitgespreek. ”

Dit is behoorlik asof ‘n mens die pyn in Moses se hart kan aanvoel toe hy gespreek en hierdie woorde geskryf het. Hy sou sterf maar God het hom toegelaat om te weet dat die kinders van Israel, na sy dood, ‘n afvallige nasie sou word. Moses het lank en hard gestry om die kinders van Israel op die regte weg te hou en ek is oortuig dat hy baie slapelose nagte in gebed vir hulle deurgebring en namens hulle by God voorspraak gedoen het, al sy gebede, al sy onderrig en al sy onderhandelinge met God sou eindig met die afvallig-wording van die kinders van Israel. Dit moes inderdaad vir hom ontmoedigend gewees het!

Jesus, aan ons bekend as die tweede Moses, het ‘n baie soortgelyke belewenis gehad met diegene vir wie Hy Sy lewe opgeoffer het:

Mattityahu / Mattheüs {26:31} ”Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word. {26:32} Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan. {26:33} Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. {26:34} Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën. ”

Ek veronderstel dat dit die geval is wanneer enige leier te sterwe kom of weggaan. Daar is nooit werklik ‘n ononderbroke oordrag van gesag nie. Aan Moses is dit egter gegun om die wederkoms van Jesus te “sien”: Die saad van herstel van Israel.

Die mens is feilbaar, maar God nooit!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-09-12

Goddelike Bevestiging

Va Yeitzei 

(En Hy Het Gegaan)


Genesis / BeReshit {29:9} "Terwyl hy nog met hulle praat, kom Ragel met die kleinvee van haar vader aan, want sy het hulle opgepas. {29:10} Toe Jakob Ragel sien, die dogter van Laban, sy moeder se broer, en die vee van Laban, sy moeder se broer, loop Jakob nader en rol die klip weg van die opening van die put, en hy laat die vee drink van Laban, sy moeder se broer. {29:11} En Jakob het Ragel gesoen en sy stem verhef en geween. {29:12} En Jakob het Ragel vertel dat hy haar vader se broer en die seun van Rebekka was. Daarop het sy geloop en dit aan haar vader vertel."

Die vers wat my aandag getrek het uit hierdie Skrifgedeelte, geneem uit vandeesweek se Parasha, is die volgende:

Genesis / BeReshit {29:11} "En Jakob het Ragel gesoen en sy stem verhef en geween."

Dit was nog altyd vir my vreemde waarom Jakob gehuil het nadat hy vir Rachel gekus het. Eerstens, met inagneming van antieke Midde-Oosterse protokolle tussen ongetroude pare, was dit nie 'n passievolle kus nie. Ek is seker dit was eerder die soort kus wat Paules voorgestel het waarmee gelowiges in Jesus die Messis, mekaar moes groet; min of meer soos wat die Franse en Russe kus, wanneer hulle mekaar groet.

Romeine {16:16} "Groet mekaar met ‘n heilige kus. Die gemeentes van Christus groet julle."

Ek vertolk 'n heilige kus as 'n vlugtige kus, gewoonlik in die lug, of op één of albei wange, sonder enige laer liggaamlike kontak. Dit was die mees algemene tipe kus daardie tyd onder die Semitiese volk, 'n gebruik wat skynbaar tot in die eerste eeu oorgedra is. Dus het Jakob vir Rachel 'n heilige kus gegee toe hy haar die eerste keer ontmoet het. Maar waarom het hy dan sy stem verhef en gehuil? Daar word vermoed dat hy op daardie oombliklik oorweldig is deur liefde, maar ek beskou dit nie so nie. Volgens my mening was dit eerder so: Het God moontlik ooit tot julle gespreek en dat julle getwyfel het of julle werklik God gehoor het, maar dat julle Hom wel gehoor het? Ja, ek glo dit is wat met Jakob gebeur het. In sy droom die voirige nag, het Jakob vir God sien staan aan die bokant van die leer wat uit die hemel tot op die aarde gestrek het. Vanuit daardie posisie, het God tot hom gespreek:

Genesis / BeReshit {28:13} "En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; {28:14} en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. {28:15} En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het."

Dit was inderdaad die belofte en ek is oortuig daarvan dat Jakob baie beïndruk was deur die droom, maar seker dat hy ook getwyfel het of dit werklik 'n profetiese droom was, dat dit waar was en voorwaar God was wat tot hom gespreek het. Ek sou ook my bedenkinge daaroor gehad het en ek is seker julle ook.

Hoe weet ek dat Jakob getwyfel het? Ek weet, op grond van wat hy die volgende oggend ná die droom gesê het:

Genesis / BeReshit {28:18} “Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as ‘n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. {28:19} En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus. {28:20} En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, {28:21} en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees. {28:22} En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.”

Het julle gelet op die woord "As" in vers 20? Dit laat my dink dat Jakob tog aan sy droom getwyfel het! Sekerlik het hy, netsoos julle en ek ook sou. God sou egter nie toelaat dat Jakob vir die res van sy lewe met hierdie twyfel leef nie - Hy het aan Jakob bevestig dat dit Hy was wat hy gehoor het.

Jakob was besig om vir sy broer Esau te vlug en het gevolglik in 'n onbekende gebied koers ingeslaan; hy was soekend na iemand wat hy nog nooit ontmoet het of geken het nie. Waar sou hy begin om na sy moeder se broer te soek? Wat moes hy te wagte wees wanneer hy hom sou ontmoet? Sou Laban hom selfs ontvang? Al hierdie vrae en moontlik selfs meer, het sekerlik by Jakob opgekom. Toe kom hy toevallig 'n put teë, maar nie net énige ou put nie. Ek is seker daar was vele sulkes in die omtrek, maar dié put was die juiste een waar Laban sy dogter hul skape laat drink het. Ek glo nie dit was blote toeval nie! Dit was van die Here en Jakob het dit besef! Die kus wat hy Ragel gegee het was dus 'n kus van vreugde dat God Sy belofte bevestig het en hy het dus sy stem verhef om God te prys vir die bevestiging wat hy deur hierdie ontmoeting beleef het. Jakob het nou geweet dat hy reg gehoor het, dat hy inderdaad van God gehoor het. Hierna het hy nie getwyfel oor sy bestemming nie omdat al God se beloftes "Ja en Amen" is!!

2 Korinthiërs / Korintim Bet {1:20} "Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons."

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-11-28