Shemini
(Agste)
Levitikus {10:16} "En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Ítamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê:" {10:17} Waarom het julle die sondoffer nie op ’n heilige plek geëet nie? Want dit is hoogheilig, en Hy het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem, om versoening vir hulle te doen voor die aangesig van die HERE. {10:18} Kyk, die bloed daarvan is nie binne in die heiligdom gebring nie. Julle moes dit sekerlik in die heiligdom geëet het soos ek beveel het. {10:19} Toe sê Aäron vir Moses: Kyk, hulle het vandag hul sondoffer en hul brandoffer voor die aangesig van die HERE gebring, en sulke dinge het my oorgekom; as ek vandag sondoffer geëet het, sou dit goed gewees het in die oë van die HERE? {10:20} Toe Moses dit hoor, was dit goed in sy oë."
Hierdie gedeelte van die Skrif was nog altyd vir my moeilik om te begryp. Die bok van die sonde-offer moes, in ooreenstemming met die opdrag van God, geslag word. Gedeeltes daarvan moes verbrand en ‘n deel daarvan in die heiligdom deur Aäron en sy twee seuns geëet word. Die bloed van die offerande moes dan in die heiligdom ingebring word as versoening vir sonde. Aäron en sy seuns het egter geen van hierdie voorskrifte nagekom nie en Moses was tereg vir hulle kwaad daaroor. Versuim om instruksies van God na te kom, kon verskriklike gevolge vir die hele kamp van die kinders van Israel ingehou het.
Levitikus {6:25} "Spreek met Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die sondoffer: Op die plek waar die brandoffer geslag word, moet die sondoffer voor die aangesig van die HERE geslag word. Dit is hoogheilig. {6:26} Die priester wat dit as sondoffer bring, moet dit eet; op ’n heilige plek moet dit geëet word, in die voorhof van die tent van samekoms. {6:29} Almal wat manlik is onder die priesters, mag dit eet; dit is hoogheilig. {2:30} Maar elke sondoffer waarvan ’n deel van die bloed in die tent van samekoms gebring word, om in die heiligdom versoening te doen, mag nie geëet word nie; dit moet met vuur verbrand word."
Die priester wat dit as sondoffer bring, moet dit eet; op ’n heilige plek moet dit geëet word, in die voorhof van die tent van samekoms.
Aäron het nagelaat om die instruksies, wat Moses van God ontvang het en aan hom opgedra het, na te kom. Soos wat Israel dikwels vantevore ervaar het, het versuim om die instruksies van God uit te voer, ongetwyfeld ernstige gevolge ingehou. Toe Aäron egter aan Moses ‘n logiese verduideliking verstrek het waarom die instruksies van God nie uitgevoer is nie, het Moses dit aanvaar en is hy vergewe. Juis dit is wat vir my onverstaanbaar is. Wysig God Sy reëls indien ons ‘n goeie verskoning aanbied waarom Sy instruksies nie nagekom is nie? Voordat ek dít egter behandel, wil ek graag oorweging skenk aan die rede waarom Moses kwaad geword het.
Volgens die Skrif was Moses die nederigste man wat ooit geleef het, maar tog dui die teks daarop dat hy vir sy broer en neefs kwaad geword het omrede hulle nagelaat het om te doen wat hulle veronderstel was om te doen. Is dit moontlik om kwaad te word, maar steeds as nederig en sagmoedig beskou te word? Die antwoord is ja, indien jou woede uit reverdigbare verontwaardiging ontstaan. Moses was kwaad, nie omdat Aäron en sy twee seuns iets teen hom persoonlik gehad het nie, maar wél omdat hulle aan God ongehoorsaam was.
Toe ek die rabbi by Melech Israel was, het ek dikwels vir mense kwaad geword oor dinge wat hulle gedoen of nagelaat het om te doen. Dit het byvoorbeeld gebeur wanneer iemand ‘n eed afgelê en dit nie eerbiedig het nie. Dit het my laat kwaad word wanneer iemand ‘n rebelse daad pleeg of sonder enige rede haat teen ‘n mede-lidmaat van die gemeente gekoester het. Ek was nie kwaad omdat hulle hierdie dinge teen my persoonlik gedoen het nie, maar wel omdat hulle dit teen God gedoen het! Dit was uit liefde vir God en my begeerte vir die lidmate om God te eer deur Sy gebooie te onderhou, dat ek kwaad was. Jesus het iets baie soortgelyk gedoen:
Johannes {2:15} "En Hy het ’n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. {2:16} En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ’n handelshuis maak nie."
Jesus was kwaad oor die handel wat in Sy Vader se huis gedryf is. Hy was nie kwaad oor iets wat hulle Hom persoonlik aangedoen het nie. Hy was regverdigbaar verontwaardig en netso was Moses en op dieselfde wyse, ek ook. Dit was nie woede wat nederigheid vernietig nie, maar wel woede ter verdediging van die Woord van God en Sy geregtigheid; dit is woede veroorsaak deur die bewustheid van die gevolge daarvan om God nie te gehoorsaam nie.
Wat nou van die indruk dat God reëls wysig indien ons nie ‘n geldige verskoning het nie? Blote verskonings stel ‘n mens nie vry van straf deur God nie. In der waarheid het Aäron nie net ‘n verskoning aangevoer nie – hy het oor uitstekende redenaarsvermoë beskik! Sy oudste seuns het pas vantevore gesterf vanweë hulle ongehoorsaamheid en moontlik het hy regstreeks verantwoordelik vir hulle dood gevoel. Indien dit julle kinders was, sou julle waarskynlik ook skuldig vir hulle dood gevoel het. Moontlik kon julle gedink het: “As ek hulle maar net meer behoorlik onderrig het, sou hulle vandag nog geleef het”. Aäron en sy seuns het vanweë die gebeure van die dag, blykbaar geen eetlus vir voedsel of lus vir die nakoming van die vereistes van die heiligdom gehad nie. As ons in Aäron se posisie was, sou voedsel of ons werk voorwaar die laaste in ons gedagtes gewees het. Die vraag is: “Is dit gepas om iets vir die Here te doen indien ‘n mens nie in jou hart daartoe geneë voel nie?” Ek dink dat dit vir enigeen van ons ‘n probleem sou wees om daardie vraag in ‘n negatiewe (dit is nie betaamlik nie!) sin te beantwoord.Wanneer ons iets vir die Here doen met die verkeerde gesindheid, is dit vir Hom nie aanvaarbaar of behaaglik nie. Indien Aäron die offer met die verkeerde gesindheid sou gebring het, sou hy die heiligheid van God en die offerande ontheilig het, wat in wese deur Nedav en Avihu gedoen is voordat God hulle laat sterf het.
Aäron het nie ‘n verkeerde verskoning aangevoer nie, maar gedoen wat reg was: hy het die heilige van die onheilige onderskei. Ons behoort dieselfde te doen omdat blote verskonings nie deur God aanvaar word nie – so staak julle verskonings!
Levitikus {10:10} "en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is;"
Kom gou Jesus!
![]() |
| PDF weegawe |

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking