Tzav
(Opdrag)
Levitikus {6:8 - 13} "VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: {6:9} Gee bevel aan Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die brandoffer: Dit, die brandoffer, moet op sy vuurherd op die altaar die hele nag lank tot die môre toe bly, en die altaarvuur moet daardeur aan die brand gehou word. {6:10} En die priester moet sy linnekleed aantrek, en die linnebroek moet hy oor sy vlees aantrek; dan moet hy die as wegneem waartoe die vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en dit langs die altaar uitgooi. {6:11} Daarna moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek, en die as buitekant die laer op ’n rein plek uitbring. {6:12} En die vuur op die altaar moet daardeur aan die brand gehou word, dit mag nie doodgaan nie; maar die priester moet elke môre daaroor hout aan die brand steek en die brandoffer daaroor reglê en die stukke vet van die dankoffers daaroor aan die brand steek. {6:13} Vuur moet gedurigdeur op die altaar aan die brand gehou word; dit mag nie doodgaan nie."
Soos wat ek verder gelees het in hierdie week se Parasha, het dit vir my gevoel asof ek na ‘n volledige taakbeskrywing vir die Cohenim (Priesters) kyk. Die Priesters het voor die Here namens die mense diens gedoen en soos wat ek deur die streng vereistes waaraan hulle moes voldoen aflei, het ek besef dat om ‘n Priester te wees, geensins so’n benydenswaardige taak was nie: dit was veeleisende werk!
Baie mense het ‘n onrealistiese begrip van wat dit behels om in ‘n voltydse bediening te staan. Ek het deur die jare as gemeentelike leier ervaar, dat dit soms gebeur dat wanneer iemand hulle werk verloor of ontnugter raak met die werk wat hy/sy besig was om te doen, hul gedagtes onwillekeurig gegaan het oor die moontlikheid om in ‘n voltydse bediening te staan. Hulle het onder die indruk verkeer dat dit ‘n laer stresvlak en druk sou behels om vir die Here te werk: die waarheid is egter dat dit nie so is nie! Om in die bediening te staan, is harde, stresvolle werk soos uit Parasha Tsav blyk. Selfs die Priesters se lone was bepaal afhangend van die aantal offerandes wat hulle sou moes waarneem (soortgelyk soos om in die hedendaagse tyd teen ‘n kommisie te werk).
Levitikus {7:7 - 8} "Soos die sondoffer, so die skuldoffer; een wet geld vir hulle — die priester wat daardeur versoening doen, aan hom kom dit toe. {7:8} En die priester wat die brandoffer van iemand bring — die vel van die brandoffer wat hy gebring het, aan die priester, aan hom kom dit toe."
Hier word ons vertel dat die Cohen (Priester) die vel van die sonde-offer as deel van sy loon ontvang het. Soos ons verder lees, verneem ons dat hulle ook ‘n deel van die meeste offerandes as voedsel vir hulself en hul gesinne ontvang het. Soos in die res van die wêreld, moes Priesters hard werk vir hulle lone.
Ek was altyd verbaas oor hoeveel mense skielik die roeping gevoel het om in die bediening te gaan wanneer hulle ontevrede geraak het met hulle werkgewer, hulle werk, in die pad gesteek is of bedank het. Skielik het die voltydse bediening ‘n aantreklike alternatief geword. Daar is niks daarmee verkeerd om vir die Here te wil werk nie; trouens, dit is baie bewonderingswaardig en mees vervullend. Die probleem is dat hierdie mense onder die indruk verkeer dat die bediening vir God nie harde werk sou vereis nie - ten minste geensins soos in die sekulêre wêreld nie. Hulle het hulself minder frustrasie, minder druk en baie minder stres voorgestel. Indien hierdie week se Parasha egter nie daardie ideaal verwesenlik nie, laat ek mý ondervinding om in die voltydse bediening te staan, verduidelik.
Ek was ‘n algemene kontrakteur voordat ek begin het om vir die Here in die bediening te staan. Toe ek die roeping ontvang het om tot die voltydse bediening toe te tree, het my kontrakbesigheid floreer en ek was inderdaad baie gelukkig in my werk.Terwyl ek nog gewerk het, het ek myself vrywillig by die gemeente aangemeld, bedienings gelei en Bybelstudie behartig; daarbenewes was ek ‘n ouderling en raadslid, met alles wat dit behels het. Verder het ek nooit ‘n Erev Sabbat of enige ander Sabbatsdiens gemis nie. Ek het nie tot die bediening toegetree omdat ek gefrustreerd, ontnugterd of ontevrede was om in die sekulêre omgewing te werk nie!
Ek vertel dit nie om ‘n gunstige indruk te skep of myself goed voor te stel of bewonder te word nie. Ek noem dit omdat, ongeag wat ek alreeds vir die Here gedoen het, ek nog nie voorbereid was vir alles wat sou gebeur toe ek tot die voltydse bediening toegetree het nie. Die werk wat ek in die voltydse bediening gedoen het, die tyd en inspanning wat dit geverg het, hulpverlening, gebed, berading, besoeke en net eenvoudig alles wat dit behels het aan diegene aan wie ek bediening verleen het, het baie meer vereis as wat ek in ‘n sekulêre werksomgewing moes doen. Om nie eers te meld van die studies, onderrig, sosiale aangeleenthede, raadsvergaderings, administratiewe pligte en om byna vier-en -twintig uur per dag beskikbaar te wees nie. Dit het feitlik alles van ‘n sekulêre werk wat ek ooit in my hele lewe gedoen het, oortref. Ongelukkig het dit in baie gevalle sonder enige waardering deur diegene wat ek moes bedien, geskied. Ek wonder of die kinders van Israel alles waardeer het wat die Priesters vir hulle gedoen het! Moet my nie verkeerd verstaan nie - ek kla geensins daaroor nie. Ek het geniet wat ek gedoen het en sou niks daarvan wou verander nie, maar ek dink tog dat ons almal behoort te verstaan dat bediening WERK is en boonop harde werk! Daarbenewens om God as jou “baas” te hê, maak dat jy alles wil gee en dít jou uiterste bes! Julle weet dat Hy van ons verwag om ons uiterste bes vir Hom te doen!
Die Cohenim (Priesters) moes werk en hard werk daarby. Hulle kon nie waag om met die diens ten opsigte van offerandes nalatig te wees nie. Moet dus nooit dink aan die bediening as ‘n beroep, wat nie juis harde werk behels nie. Ons moet onthou dat die werk van diegene in ‘n voltydse bediening, nie soseer ‘n gewone beroep is nie - miskien véél meer as werkers in ‘n sekulêre omgewing. Terloops, elke gelowige in Jesus die Messias behoort hulself sodanig te beskou asof hulle in ‘n voltydse bediening staan, ongeag wat hulle sekulêre beroep is!
Kom gou Jesus!
![]() |
| PDF Weergawe |

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking