Saterdag 23 Mei 2020

Boek van Ewige Lewe

BaMidbar
(In Die Woestyn)

Númeri {1:5} En dit is die name van die manne wat julle moet bystaan: Vir Ruben: Elísur, die seun van Sedéür; {1:6} vir Símeon: Selúmiël, die seun van Surísaddai;{1:7} vir Juda: Nagson, die seun van Ammínadab; {1:8} Vir Íssaskar: Netáneël, die seun van Suar; {1:9} vir Sébulon: Elíab, die seun van Helon; {1:10} vir die kinders van Josef: vir Efraim: Elisáma, die seun van Ammíhud; vir Manasse: Gámliël, die seun van Pedásur; {1:11} vir Benjamin: Abídan, die seun van Gideóni; {1:12} vir Dan, Ahiëser, die seun van Ammísaddai; {1:13} vir Aser: Págiël, die seun van Ogran; {1:14} vir Gad: Éljasaf, die seun van Réhuel; {1:15} vir Náftali: Ahíra, die seun van Enan.

Met die aanvang van ons studie van die eerste boek Númeri, het ek deur vandeesweek se Parasha gelees en was getref deur God se opdrag aan Moses. Moses is versoek om die stamme van Israel te tel en te nommer - geen geringe taak in daardie dae nie! Dit was egter tot óns voordeel, want daardeur is die name van die stamhoofde en getalle van elke stam te alle tye aangeteken. Hier is ons duisende der duisende jare later en ons lees en noem die name van mense op, wat die Here vir Moses laat opteken het in hierdie boek.

Dit is egter nie die enigste plek in die Bybel waar die name van mense opgeteken is nie. Ons vind dat dwarsdeur die Bybel baie name vir ewig opgeteken is vir toekomstige generasies om te lees en onthou - sommige ten goede en ander nie so nie. Ons word iets anders vertel oor die name in die Skrif. God beskik oor boeke in die hemel waarin al ons name opgeskryf is.

Psalm {69:28} "Voeg skuld by hulle skuld, en laat hulle nie in u geregtigheid kom nie."

Maleági {3:16} "Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer."

Filippense {4:3} "En ek vra jou ook, opregte metgesel, wees hierdie vroue behulpsaam wat met my saam gestry het in die evangelie, ook saam met Clemens en my ander mede-arbeiders wie se name in die boek van die lewe is."

‘n Verdere verwysing na boeke in die hemel waarin name opgeteken word ,kom vyf keer in die boek Openbaring voor: 

Openbaring {3:5} "Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele."

Openbaring {13:18} "Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ’n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig."

Openbaring {17:8} "Die dier wat jy gesien het, was en is nie, en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is."

{20:12} "En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke."

{22:19} "En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is."

Ek dink dus dat ons almal verseker kan wees dat God ons name in ‘n boek in die hemel opgeskryf het of dit ten goede is aldan nie, in afwagting van ons aankoms dáár; nie vir alle geslagte om te sien nie, maar vir die bepaling van ons ewige bestemming. Indien dít die geval is en dit ís so, is ek oortuig daarvan dat ons almal in God se Boek vir die goeie opgeskryf wil wees.  

Ek het eens ‘n gesprek gevoer met ‘n ongeredde Joodse man oor my sienswyse ten opsigte van bekering. Hy wou weet of ek geglo het dat ‘n persoon wat gesterf het en nie Jesus die Messias as sy versoening aanvaar het nie, hel toe gaan. My antwoord was: “Ek weet nie wat in die sekondes voordat ‘n mens sterf, in sy hart aangaan nie, slegs God weet dit. Ek weet ook nie van God se plan of die mate van Sy genade nie. Iemand wat sterf, gaan nie vir veroordeling voor my verskyn nie. Elkeen sal voor die Here moet verskyn en rekenskap gee oor sy lewe en hoedat hy gelewe het met betrekking tot Sy gebooie en Voorligtingsboek (die Bybel) vir die lewe. Dit is dan wanneer hy sal uitvind of sy naam in die Boek van Ewige Lewe (by God) of Ewige Dood (by die Satan) geskryf is”. Ek het egter voortgegaan om te verduidelik: “Daar is ‘n weg om honderd persent seker te wees dat jy jou naam geskrywe sal sien in die Boek van Ewige Lewe, wanneer jy na jou dood eindelik voor God verskyn. Ontvang Jesus die Messias as jou enigste (kapora) versoening, jou Here en Redder nóú, voordat jy sterwe en dan sal jy ‘n Ewige Lewe met God in die hemel gewaarborg word”.

Ek vra julle dus nou reguit: het julle Jesus die Messias in julle harte en lewens ingenooi? Indien julle hom nog nie in soveel woorde ingenooi het nie - Hy staan steeds buite julle harte en wag om Hom binne te nooi. Waarom doen julle dit nie nou nóú nie alvorens julle dit later gaan berou?

Handelinge {16:30} "En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word? {16:31} Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin." 
  
Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking