Saterdag 09 Mei 2020

Verskonings: God Ken My Hart

Emor
(Spreek)


Levitikus {23:15} "Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring — sewe volle weke moet dit wees; {23:16} tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ’n nuwe spysoffer aan die HERE bring."

Ons sien dat hierdie gebod weer in Deuternomium herhaal word : 

Deuternomium {16:9} Sewe weke moet jy tel; vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan word, moet jy sewe weke begin tel. {16:10} Dan moet jy die fees van die weke hou vir die HERE jou God ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate die HERE jou God jou sal seën. {16:11} En jy moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is, en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat by jou is, op die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon. {16:12} En jy moet daaraan dink dat jy ’n slaaf in Egipte was; en jy moet hierdie insettinge sorgvuldig hou."

Hierdie Skrifgedeelte verwys na ’n tydperk (nege-en-veertig dae) wat ons wysgere “Die tel van die Omer” noem. Dié moes begin op die Sabbat na die viering van die Pasga. Daar het egter veel strydvrae hieroor ontstaan. Sommige meen dat dit vanaf die weeklikse Sabbat behoort te tel, wat sou beteken dat dit op ’n Sondag moes begin, terwyl ander meen dat die eerste dag van Pasga ’n Sabbat, trouens ’n Hoë Sabbat, is en daarom behoort dit vanaf die eerste dag van Pasga te tel, ongeag op watter weeksdag dit val. Ek ondersteun en stem saam met die laasgenoemde siening.

Die kinders van Israel is beveel om die Omer te tel terwyl hulle Egipte verlaat het en die proses van belewenis van hulle reis uit slawerny na vryheid ervaar het. Soos wat ’n mens deur die Geskrifte lees, wat met hierdie reis ooreenstem, kan ons medelye hê met die probleme en stryd wat hierdie uiters moeilke uittog vir die kinders van Israel ingehou het. Nogtans sidder ’n mens om aan die kinders van Israel se ondankbaarheid teenoor hulle liefdevolle God en Sy gesalfde leier, Moses, te dink. ’n Mens is selfs geneig om ietwat vererg te voel oor hulle gemor, klagtes en opstand as ons lees hoe dikwels die kinders van Israel wou moed opgee en na hulle vorige lewe van slawerny terugkeer.

Ongelukkig weespiëel dít wat ons oor die kinders van Israel lees, ons eie lewens as gelowiges in Jesus die Messias. Het julle al ooit teenoor God gemor en gekla en opstandig geraak oor swaarkry wat julle in jul lewens reeds ervaar het en steeds verduur? Wou julle al ooit moed opgee en na julle vorige lewenswyse terugkeer? Wees eerlik met julleself want ek het ook al hierdie dinge in my lewe met die Here beleef!

Ons sien dus weereens in hierdie Parasha hoedat die Here tot óns spreek deur die kinders van Israel se ontberings, soos in die Tora opgeteken. Trouens die kinders van Israel is ’n toonbeeld van ons lewens van “oorwinning” as gelowiges. Ons reis van oorwinning het begin vanaf die oomblik dat ons Jesus die Messias as ons Heer en Redder aangeneem het. Dit was toe ons van ons persoonlike sonde verlos is. Die kinders van Israel se fisiese verslawing aan Egipte is ’n toonbeeld van ons eie lewensveslawing aan sonde en die kinders se bevryding uit Egipte, verteenwoordigend van ons verlossing uit sonde.

Deur ons redding en nuutgevonde bevryding van sonde en geestelike dood waartoe dit lei, ondervind ons almal struikelblokke en probleme, met ander woorde, ons almal kom te staan voor beproewings, vedrukking en toetsing van ons geloof. Die kinders van Israel se wedervaringe versinnebeeld ons eie wilderniservaring. Dit is ’n weerspiëeling van alles waardeur ons gaan en trouens, alles waardeur ons God toelaat om die sonde in ons lewens te ontbloot en weg te neem. Hierdie proses word in ons weerspiëel soos wat ons God se Wil nakom deur die tel van die Omer.

Hierdie veertig dae wat die Pasga voorafgaan, is bedoel om ons te identifiseer met die stryd wat die kinders van Israel ervaar het en dit te vergelyk met ons daaglikse worstelinge om ons eie redding “uit te werk” deur sonde in ons lewens te bowe te kom. Hierdie “uitwerk” van ons redding, sluit in die stryd teen die sonde in ons lewens en die proses begin met die oomblik van ons redding en duur tot daardie finale dag wanneer ons oorgaan tot geestelike lewens aan die einde van ons reis. Die lesse geleer deur die tel van die Omer elke dag vir sewe weke, tot die vyftigste dag, versinnebeeld ons daaglikse stryd om sonde in ons lewens te bowe te kom. Dit is ’n beeld van ons wat ons lewens blootlê deur die Gees van God toe te laat om ons harte te deursoek en dié dele van ons lewens wat reiniging verg, te suiwer. Dít, glo ek, stem ooreen met wat koning Dawid sê:

Psalm {90:12} "Leer ons om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart mag bekom!"

Die vyftigste dag (Shavuot), glo ek, is ’n beeld van die groot huwelik, wat ons met die koms van ons Messias sal belewe. Daarom, gedurende hierdie nege-en -veertig dae wat ons Omer noem, moet ons dink en mediteer om ”oorwinnaars” te word, ter voorbereiding vir ons ontmoeting met ons Messias. Ons moet die Heilige Gees toelaat om ons geestelik voor te berei, en van alle oorblywende sonde te reinig, sodat ons waardige ontvangers van Sy heerlikheid mag wees.

Lukas {21:36} "En die hele volk het vroeg in die môre na Hom in die tempel gekom om na Hom te luister."

Handel God met die sonde in jou lewe?          

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking