Sondag 31 Mei 2020

Bane

Naso
(Ophef)

Numeri {4:21} "En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {4:22} “Neem die volle getal op ook van die seuns van Gerson volgens hulle families, volgens hulle geslagte. {4:23} Jy moet hulle tel van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat verplig is om diens te doen, om dienswerk te verrig by die tent van samekoms.{4:24} Dit sal die dienswerk van die geslagte van die Gersoniete wees by die diens en by die vervoer: {4:25} hulle moet die tentdoeke van die tabernakel dra, ook die tent van samekoms, sy dekkleed en die dekkleed van robbevelle wat daar bo-oor is, en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms {4:26} en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die poort van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en hulle lyne sowel as al die gereedskap wat by die bediening daarvan behoort; en alles wat daarvoor gedoen moet word, moet hulle verrig."

Soos die Here die verantwoordelikhede van die priesterlike familie van Gerson toegeken het, so het Hy ook met die priesterlike families van Merari en Korag gedoen. Aan elke familie is ‘n besondere taak toegeken en geeneen van die families kon die ander se pligte uitvoer nie. Indien hulle wel take uitgeruil het, sou dit wees asof hulle “‘n vreemde vuur” voor die Here bring en ons onthou hoedat Hy voorheen daarmee gehandel het! Elke familie het sy eie spesifieke taak gehad om uit te voer en elke keer wat die Here besluit het om die kinders van Israel te verskuif, kon elke priesterlike familie hulle toegekende taak uitvoer; hulle moes dit volgens ‘n spesifieke volgorde doen en in samewerking met die ander priesterlike families.

Ek glo dat God sekere verantwoordelikhede aan elkeen van ons toegeken het wat ons hier op aarde moet uitvoer en daarom word aan ons gesê:

1 Korinthiërs {12:14} "Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. {12:15} As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? {12:16} En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? {12:17} As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? {12:18} Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het."

Ons het al atlete by ‘n Olimpiese Spele gesien; elke atleet moet hardloop in die baan wat aan hom/haar toegewys is. Indien hulle uit een baan na dié van ‘n ander beweeg, word hulle gediskwalifiseer. God het aan julle ‘n besondere taak toegeken wat deur niemand anders op aarde uitgevoer kan word nie. Hy het julle in júlle baan geplaas. As julle dus in die verkeerde baan hardloop of in iemand anders s’n of heen en weer tussen die bane beweeg, sal julle gediskwalifiseer word en die voltooiing van die wedren misloop - netso sal julle ook die vervulling van die Godgegewe taak aan julle misloop. Wees versigtig om nie te gaan waar God julle nie geplaas het nie. Bepaal dus waar God julle geroep het en bly in daardie baan - dit is baie belangrik. As julle in die regte baan kom en alles wat julle terneergedruk,maak, verwerk, sal julle die wedren wat God vir julle bepaal het, wen en die prys ontvang wat Hy  vir elkeen voorberei het.

Numeri {16:1} "EN Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem, {16:2} en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met tweehonderd-en-vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam. {16:3} En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE?"

God het aan die priesterlike familie van Korag, ‘n spesifieke en belangrike taak toegeken. Hulle was verantwoordelik vir die versorging van die ark, tafel van toonbrode, lampstaander, altare en alle artikels wat in die bediening gebruik is, met inbegrip van die gordyne en alles wat met die gebruik daarvan, in verband gestaan het. Hulle was egter nie tevrede nie. Hulle het begeer en was jaloers op Moses en Aäron, asook die posisies aan hulle verleen. Die gevolg van hulle begeerte om van bane te verander, was rampspoedig. God het meeste van die familie van Korag asook 250 manne, wat hulle gevolg het, met die dood gestraf. Daarbenewens het Hy ook ‘n plaag oor die kamp van Israel gestuur.

Sommige van julle hardloop heen en weer. Julle raak verveeld met die taak, deur God aan julle toegeken en kyk en begeer wat ander doen. Julle wil dit net vir ‘n kort rukkie uitvoer en doen dit dan met oorgawe, maar wanneer julle na ‘n tydjie daarmee verveeld raak, besluit julle dat dit God se wil is om te verander. Julle verander dan met oorgawe na iets anders. Julle volhard om van bane te verwissel, sonder om selfs te besef dat julle julself diskwalifiseer. Volhard om te hardloop in die baan waarin God julle geplaas het en bly in jóú baan. Dit is die enigste waarborg om die wedren te voltooi en eindelik die prys te ontvang wat Hy vir diegene wat Hom liefhet, voorberei het. 

Kom gou Jesus!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking