Shoftim
(Rigters)
Deuteronomium {16:18} "REGTERS en opsigters moet jy vir jou aanstel in al jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee volgens jou stamme; en hulle moet die volk oordeel volgens ’n regverdige regspraak. {16:19} Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het. {16:20} Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die HERE jou God jou sal gee. {16:21} Jy mag vir jou nie ’n heilige boomstam — enige boom — plant langs die altaar van die HERE jou God wat jy vir jou sal maak nie. {16:22} Ook mag jy vir jou geen klippilaar, wat die HERE jou God haat, oprig nie."
Hierdie week se Parasha begin met die Here se gebod om altyd onpartydig te wees met ons oordele en nooit ‘n omkoopgeskenk te aanvaar nie. Ons besef dit alte goed en dit hoef nie verder gesê te word nie, dat omkoop of geskenk ons oordeel sal vertroebel. Toe ek Rabbi by Kehila Melech Yisrael was, was ek uiters versigtig om nooit iemand aan te moedig om groot geskenke-veral geld aan my te gee nie. Ek benadruk die woord “groot” omdat klein geskenke normaalweg uitdrukking van waardering kan wees en soms in ‘n toepaslike situasie, aanvaarbaar is. Ek kan egter insien hoedat ‘n groot geskenk of een wat met verkeerde motiewe gegee word, my oordeel sou kan vertroebel en my moontlik kon beïnvloed het om iemand nie behoorlik tereg te wys of dissiplineer nie. Regverdige oordele en die gee van omkoopgeskenke is baie belangrike onderwerpe en ek sou sekerlik ’n hele kommentaar daaroor kon skrywe. Dit was egter nie wat my opgeval het terwyl ek die Tora Parasha deurgelees het nie. Die volgende verse het inderdaad uitgestaan:
Deuteronomium {16:21} "Jy mag vir jou nie ’n heilige boomstam — enige boom — plant langs die altaar van die HERE jou God wat jy vir jou sal maak nie. {16:22} Ook mag jy vir jou geen klippilaar, wat die HERE jou God haat, oprig nie."
Ons kan net aflei dat die Here onwrikbaar is oor die plant van ‘n (Asherah) heilige boomstam of enige soort boom of die oprig van enige soort klippilaar langs Sy altaar of verbrande offerande. ‘n Asherahpaal of pilaar is ‘n simbool van heidense aanbidding. Die heidense nasies wat Israel sou verdryf, het hierdie gekerfde bome en pilare op hulle godsdienstige plekke opgerig as deel van hulle heidense verering van hulle sataniese gode. Die Here wou nie gehad het dat Sy volk enigiets met hierdie of enige ander tipe heidense praktyk te doen het nie. Hy wil veral ook nie hê dat ons heidense praktyke met ons aanbidding van Hom inmeng nie.
Watter betekenis het hierdie gebod vandag vir ons? Baie, sou ek sê, ongelukkig omdat meeste Christelike denominasies heidense praktyke vermeng met die aanbidding van die Een Ware God. Eerstens het hulle die heidense simbool van ‘n versierde boom (Kersboom) geïnkorporeer met die aanbidding van die geboorte van ons Messias, Jesus. Tweedens, het baie Christelike denominasies paaseiers, ‘n simbool van die Mesopotamiese godin van seksuele liefde en vrugbaarheid, geïnkorporeer met die opstanding van Jesus. Daar is selfs sekere denominasies wat veelgodery inkorporeer in hulle geloof deur die aanbidding van heiliges. Onwetend glo hulle valslik dat hierdie “heiliges” vir hulle ‘n voorspraak by God kan wees, terwyl hulle inderwaarheid afgestorwenes aanbid, iets soortgelyk aan Taoisme.
Christene is egter nie die enigste skuldiges nie. Judaïsme het die antieke Egiptiese simbool, wat met die maangodin Tania geassoosieer word, geïnkorporeer in hulle godsdiens. Die “hamsa hand”, ook bekend as die “hand van Maria en die hand van Miriam,” tesame met die simbool van die “alsiende oog,” is beide van heidense oorsprong, maar is tot vandag toe nog deel van Judaïsme. Daarbenewens het Judaïsme ook die onderrig en praktyk van kabbalah geïnkorporeer: ‘n vorm van Joodse mistiek, onder die ander gruwels, wat astrale projeksie en reïnkarnasie behels. Kabbala is egter nie die enigste gruwel onder die Judaïsme nie! Selfs Messiaanse Jode laat Kabbala-praktyke in hulle onderrig toe. Boonop hou ontelbare gelowiges kopieë van die Koran, die boek van die Mormone en ander boeke wat gruwels verkondig, in hulle huise aan en dink niks daarvan nie. Dan is daar ook die praktyk om Boedabeelde en ander sataniese, heidense godheidsimbole as versierings te hê.
Deuteronomium {7:26} "En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal ’n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek."
Ons kan nie dubbelhartig wees nie. Ons aanbid God met ons hele siel, met al ons krag, met al ons harte en Hom alleenlik of ons misbruik ons aanbidding van Hom deur vreemde heidense praktyke daarby te inkorporeer.
Matthèüs {7:13} "Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. {7:14} Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind."
Kom gou Jesus!

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking