Ki Teitzei
(Wanneer jy Uittrek)
Deuteronomium {21:10} “AS jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en die HERE jou God hulle in jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer, {21:11} en jy onder die gevangenes ’n vrou sien wat skoon van gestalte is, en jy haar liefkry en haar as vrou vir jou neem, {21:12} dan moet jy haar in jou huis inbring; en sy moet haar hoof skeer en haar naels knip. {21:13} En sy moet die klere waarin sy weggevoer is, uittrek en in jou huis bly en haar vader en haar moeder ’n maand lank beween; en daarna kan jy by haar ingaan en met haar trou, en sy sal jou vrou wees. {21:14} En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het.”
Ek is al dikwels versoek om hierdie Skrifgedeelte te verduidelik. Wat dit behels, is dat wanneer ‘n soldaat ‘n vroulike gevangene aantreklik vind, moet hy, voordat hy haar as sy vrou neem, haar eers toelaat om oor haar vader en moeder- wat waarskynlik in die oorlog omgekom het- te rou vir ‘n tydperk van dertig dae. Gewoonlik is slegs maagde gevange geneem en alle ander vroue normaalweg doodgemaak. In die geval van die aantreklik gevange maagd, nadat haar routyd (een maand) verstryk het, is die gevangenemer toegelaat om met haar te trou. Die Skrif vereis dat indien sy haar gevangenemer nie meer langer behaag nie, hy haar moet vrylaat maar nie verkoop nie aangesien hy haar onteer het.
Baie mense het al probeer om hierdie Skrifgedeelte te gebruik om egskeiding te regverdig. Hulle beweer dat indien die Here so iets met ’n vreemde vrou toelaat, Hy dan sekerlik die egskeiding van alle vroue sou toelaat. Met die eerste oogopslag en vanuit ‘n oppervlakkige indruk van hierdie Skrifgedeelte, sou ek moes saamstem. Oënskynlik dui dié op egskeiding volgens die gier van die man, maar is dit wat werklik bedoel word?
Eerstens, soos ons bewus is, verafsku God egskeiding! Daarom sou Hy die seksuele op-die-proefstel van jou vrou, (soos wanneer ‘n mens ‘n paar skoene aanpas) voordat jy besluit of jy met haar wil trou, hoegenaamd nie kondoneer nie. Ook sou Hy haar verwerping nie kondoneer indien sy die man se misnoeë op die hals haal, soos die Skrif blykbaar bepaal nie. Kom ons beskou die gedeelte van nader en probeer presies bepaal wat die Here hier vir ons sê.
Soos wat ek hierdie gedeelte lees en verstaan, kondoneer die Here nie egskeiding nie! Hy gee eerder opdrag dat ‘n vrou wat in oorlog gevange geneem is, redelik en met medelye behandel moet word. Tydens oorlog was verkragting en vanuit ‘n posisie van bevoorregting bo gevange vroue, ‘n baie algemene praktyk onder die heidense nasies, wat Israel besig was om van hulle grondgebied te ontneem. God se volk sou uiteenlopende standaarde van moraliteit hê, selfs in oorlogstyd. Dus het die Here toegewings gemaak vir soldate, wat ná oorlog ‘n gevange vrou aantreklik sou vind. Die vrou moes haar hare afskeer, haar naels afknip, haar klere vervang met rougewaad en onaangeraak vir dertig dae in haar buitmaker se huis bly. Die afskeer van haar hare, afknip van haar naels en die dra van ‘n sakgewaad sou ongetwyfeld alle oppervlakkige fisiese aantreklikheid van die vrou ontneem. Die dertig dae wagtyd sou aan die man die geleentheid bied om die ware vrou, haar persoonlikheid, karakter en temperament waar te neem. Na dertig dae kon die man geslagsgemeenskap met haar hê en en haar as sy vrou neem. Dan bepaal die Skrif verder:
Deuteronomium {21:14} “En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het.”
Dit is hier waar die misverstande ontstaan Om te begryp wat hierdie vers eintlik beteken, moet ons sekermaak waarna die woorde “omdat jy haar onteer het“ verwys. Daar is ‘n aantal in die Hebreeuse Geskrifte, wat op die regte betekenis hiervan kan dui:
1 Kronieke {19:4} “Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer hulle en sny hulle klere in die helfte af tot by die sitplek, en hy het hulle laat gaan.”
Hierdie gebeurtenis van die afskeer van koning Dawid se dienaars, was ‘n vorm van vernedering in die antieke Nabye Ooste. Soos ons meegedeel word, het die mans, uit skaamte nie na Jerusalem teruggekeer voordat hulle baarde weer gegroei het nie. Net so was die afskeer van ‘n vrou se hare,’n vorm van vernedering en skande vir haar.
Job {1:20} “Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval”
Hierdie gedeelte dui daarop dat Job sy hare afgeskeer het as ‘n vorm van verootmoediging voor die Here nadat hy die nuus van die dood van sy kinders verneem het.
1 Korinthiërs {11:15} “maar as ’n vrou lang hare dra, dit vir haar ’n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as ’n bedekking?”
Die afskeer van ‘n vrou se hare, die afknip van haar naels en die dra van rougewaad, is almal antieke Nabye Oosterse metodes van verootmoediging en vernedering van ‘n persoon. Daarom sou “omdat jy haar onteer het” nie toepaslik wees op die feit dat die man geslagsgemeenskap met haar gehad, haar tot vrou geneem en toe nie van haar gehou het nie, maar eerder verwys na die feit dat die vrou sowel verootmoedig as verneder is deur die afskeer van haar hare, afknip van haar naels en die dra van ‘n rougewaad voordat hy met haar getroud is. Ons God vereis regverdige behandeling en respek vir alle vrouens.
Dit sou dus die werklike verloop van gebeure wees wat in die aangehaalde gedeelte verduidelik is. ‘n Soldaat het ‘n gevange vrou aantreklik gevind en wou haar tot sy vrou neem. Voordat hy dit egter kon doen, moes hy haar fisies onaantreklik maak, as bewys van sy ware toegeneentheid en voorneme; ook met in agneming dat sy nou nie ‘n moeder of vader gehad het om haar saak te bepleit nie. Derhalwe moes sy haar hare afskeer, haar naels afknip en vir dertig dae ‘n sakgewaad dra. Indien hy ná dertig dae haar steeds aantreklik gevind het, kon hy met haar trou. As hy egter gedurende die tydperk van dertig dae, voordat hy met haar geslagsgemeenskap gehad het, vind dat sy hom nie langer behaag nie, moet die man haar vrylaat en kan hy haar nie as ‘n slavin behandel nie omdat hy haar onderdanig gemaak en verneder het deur haar hare af te skeer, haar naels af te knip en haar rougewaad te laat dra het.
Ons kan dus sien dat hierdie gedeelte geensins ‘n egskeiding kondoneer volgens die nuk van die man nie, maar eerder die regte en waardigheid van die vrou verdedig! Ons God is ‘n ontsagwekkende God!!!
Kom gou Jesus!
![]() |
| PDF weergawe |

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking