Sondag 11 April 2021

Voedsel

 Shemini

(Agste)


Levitikus 9:1 – 11:47

Esegiël 36:16 – 38

Handelinge 10:9 – 22; 10:34 – 35


Levitikus {11:1-47} “Die Here het vir Moses en Aäron gesê: {11:2} “Sê vir die Israeliete: Van al die diere wat op land hou, mag julle {11:3} net dié eet wat volledig gesplete kloue het en herkou. {11:4} Maar dié wat net herkou of net gesplete kloue het, mag julle nie eet nie. Dit geld vir die kameel, want, alhoewel die dier herkou, het hy nie gesplete kloue nie. Julle moet hom dus as onrein beskou. {11:5} Dit geld ook vir die dassie {11:6} en vir die haas. {11:7} 'n Vark het weer volledig gesplete kloue, maar hy herkou nie. Hy is vir julle dus 'n onrein dier. {11:8} Julle mag nie die vleis van hierdie diere eet of selfs aan hulle karkasse raak nie: hulle is vir julle onrein. {11:9} “In die geval van waterdiere mag julle alles eet wat vinne en skubbe het. Dit geld vir soutwaterdiere en varswaterdiere. {11:10} Maar enige ding wat in die water lewe en nie vinne en skubbe het nie, is vir julle verbode. {11:11} Hulle is vir julle verbode en julle mag glad nie van dié diere eet of selfs raak aan een wat dood is nie. {11:12} Alle waterdiere wat nie vinne en skubbe het nie, is dus vir julle verbode. {11:13} “In die geval van diere met vlerke is die volgende soorte verbode en hulle mag dus nie geëet word nie: arende, lammervangers en visarende; {11:14} aasvoëls en valksoorte; {11:15} al die kraaisoorte; {11:16} volstruise, nagvalke, seemeeue en alle soorte roofvoëls; {11:17} uile, visvangers, ibisse, {11:18} flaminke, pelikane, swane, {11:19} ooievaars, al die reiersoorte, hoep-hoepe en vlermuise. {11:20} “Alle insekte wat vlerke het en op pote loop, is vir julle verbode. {11:21} Julle mag egter dié eet waarvan die pote so is dat hulle kan spring. {11:22} Dit sluit in alle soorte sprinkane en krieke. {11:23} Alle ander insekte wat vlerke het en op pote loop, is vir julle verbode. {11:24} “Sommige diere se karkasse maak iemand wat net daaraan raak, onrein vir die res van die dag. {11:25} As iemand die karkas van so 'n dier gedra het, moet hy sy klere was, maar hy is vir die res van die dag onrein. {11:26} Dit is alle mak diere waarvan die pote nie volledig gesplete is nie en wat nie ook herkou nie. Dit is onrein diere, en elkeen wat aan die karkas van so 'n dier raak, is onrein. {11:27} Verder is alle viervoetige wilde diere wat nie hoewe het nie, onrein. As iemand aan die karkas van so 'n dier raak, is hy onrein vir die res van die dag. {11:28} As hy so 'n karkas gedra het, moet hy sy klere was, maar hy is nog vir die res van die dag onrein. {11:29} “Die volgende diertjies wat volop voorkom in die veld, moet julle as onrein beskou: molle, muise en al die akkedissoorte {11:30} soos geitjies, sandakkedisse, boomakkedisse, gewone akkedisse en ook verkleurmannetjies. {11:31} Dit is onrein diertjies en elkeen wat aan so 'n diertjie raak as hy dood is, is die res van die dag onrein. {11:32} Enigiets waarop so 'n dooie diertjie val, is ook onrein. Dit geld vir enige gebruiksartikel van hout, lap, leer of growwe linne, enige gewone gebruiksartikel. Dit moet in water gedruk word, maar is nog vir die res van die dag onrein. Eers daarna is dit rein. {11:33} As een van die diertjies in 'n kleipot val, is alles wat in die pot is, onrein. Die pot moet dan gebreek word, {11:34} want enige kos waarby water uit so 'n pot gegooi is, is onrein, en enige vloeistof uit so 'n pot is onrein. {11:35} Enigiets waarop een so 'n dooie diertjie val, is onrein. 'n Kleioond of kleikookplek moet in so 'n geval afgebreek word; dit het onrein geword, en julle moet dit as onrein beskou. {11:36} 'n Fontein of opgaardam is wel nie onrein as so 'n dooie diertjie daarin val nie, maar iemand wat aan die diertjie raak, is onrein. {11:37} As so 'n dooie diertjie op saad val wat gesaai gaan word, word die saad nie onrein nie. {11:38} As dit egter gebeur wanneer die saad in water lê om te week, is dit onrein. {11:39} “As enige dier wat julle wel mag eet, vrek, is iemand wat aan die karkas raak, die res van die dag onrein. {11:40} As iemand van die dooie dier se vleis eet of die karkas dra, moet hy sy klere was, maar self is hy die res van die dag onrein. {11:41} “Alle klein diertjies wat volop voorkom in die veld, is vir julle verbode: {11:42} of hulle nou seil of op vier pote loop of baie pote het, julle mag nie een van hulle eet nie, want dit is verbode. {11:43} Julle moet julle nie besoedel met een van dié diere dat julle onrein word nie. {11:44} Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig. Julle mag julle nie verontreinig met enige van die kleiner diertjies wat volop voorkom in die veld nie. {11:45} Ek is die Here wat julle uit Egipte laat trek het sodat Ek julle God kan wees. Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees. {11:46} “Dit is dan die reëling wat betrekking het op diere en voëls en op alles wat in water lewe en wat op die grond beweeg. {11:47} Julle moet noukeurig onderskei tussen rein en onrein, tussen diere wat geëet mag word en diere wat nie geëet mag word nie.””


Hierdie gedeelte van Levitikus handel oor die opdrag rakende diere wat nie geëet mag word nie, watter soort vis geëet kan word en selfs watse insekte geëet kan word.


Levitikus {11:46} “Dit is dan die reëling wat betrekking het op diere en voëls en op alles wat in water lewe en wat op die grond beweeg. {11:47} Julle moet noukeurig onderskei tussen rein en onrein, tussen diere wat geëet mag word en diere wat nie geëet mag word nie.””


In hierdie Parasha verstrek God aan ons ‘n lys van wat Hy bepaal het as voedsel vir menslike verbruik. Baie mense het egter al die hedendaagse geldigheid van hierdie lys bevraagteken. Hulle verklaar dat met die koms van Jesus en die skryf van die Nuwe Testament, ons nie langer onder die Tora-bepaling gebonde is nie, of meer uitdruklik, ons nie langer onder die Wet val nie. Die hoofgedagte van die Skrif uit die Nuwe Testament, bied hulle as hul bewys die volgende tekste aan:


Handelinge {10:11 “Hy het die hemel oop gesien en iets soos 'n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, sien afkom grond toe. {10:12} Daarin was van al die viervoetige en die kruipende diere van die aarde en van al die wilde voëls. {10:13} Hy hoor toe 'n stem vir hom sê: “Kom, Petrus, slag en eet.” {10:14} Maar Petrus sê: “Nooit nie, Here! Ek het nog nooit iets geëet wat onheilig of onrein is nie.” {10:15} Hy hoor die stem toe weer, die tweede keer, vir hom sê: “Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.” {10:16} Dit het drie keer gebeur, en daarna is die doek weer in die hemel opgetrek.”


Petrus se visioen het in werklikheid niks met voedsel of die herroeping van die voedselvoorskrifte soos in hierdie week se Parasha beskrywe, te doen nie. ‘n Noukeurige ontleding van die konteks van hierdie gedeelte, sal aan die lig bring dat Petrus se visioen ‘n gevolg was van wat in ‘n ander area van die land -in Cesarea- besig was om plaas te vind.


Handelinge {10:1} “In Sesarea was daar 'n man met die naam Kornelius, 'n kaptein in die sogenaamde Italiaanse regiment. {10:2} Hy was godsdienstig en godvresend, hy en sy hele huisgesin. Hy het baie gedoen om die armes onder die Joodse volk te help en het gereeld tot God gebid. {10:3} Een middag teen drie-uur het hy in 'n gesig duidelik 'n engel van God na hom toe sien kom wat na hom roep: “Kornelius!” {10:4} Kornelius het hom verskrik aangekyk en gevra: “Wat is dit, Meneer?” Die engel sê toe vir hom: “God het gelet op jou gebede en op wat jy vir die armes doen, en Hy het aan jou gedink. {10:5} Stuur nou dadelik mense na Joppe toe en laat daar 'n sekere Simon haal wat ook Petrus genoem word. {10:6} Hy is tuis by 'n ander Simon, 'n leerlooier, wat by die see woon.””


Petrus was op die punt om kennis te maak met Kornelius, ‘n Romeinse , Hoofman oor Honderd. Kornelius het Petrus laat haal en versoek om na sy huis te kom. Volgens die Judaïsme van daardie tyd, was dit verbode vir Jode om met nie-Jode te assosieer - selfs ook om hulle huise binne te gaan. Nie-Jode was as onrein beskou en dus verontreinigend vir ‘n Jood. Dit is vandag steeds die geval onder sekere ultra-ortodokse sektes van Judaïsme. In sy visioen van die neerlaat van ‘n groot laken, het die Here aan Petrus getoon dat hy nie langer nie-Jode (wat vir ‘n Jood as onrein beskou was, soos die diere wat hy laaste op die laken gesien het) as onrein te beskou nie, maar dat hulle nou in Sy reddingsplan deur Jesus die Messias, ingesluit sou wees. Die Here was besig om uit die twee mense (Jood en nie-Jood), Een nuwe mens te maak en daarby om omgang met mekaar te hê deur Messias Jesus.


Nadat Kornelius aan Petrus meegedeel het wat die engel aan hom gesê het, het Petrus besef sy Goddelike visioen was nie oor die eet van onrein voedsel nie, maar oor wat voorheen onrein genoem genoem is, nou deur God as rein beskou word en hulle in te sluit in Sy plan van redding deur Jesus die Messias. Die doel van Petrus se visioen word duidelik wanneer ons lees oor wat hy vir die Hoofman oor Honderd gesê het toe hy sy huis binnegegaan het.


Handelinge {10:28} “en hy sê vir hulle: “Julle weet dat 'n Jood nie met iemand van 'n ander volk mag omgaan of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie. {10:29} Daarom het ek sonder om teë te stribbel, gekom toe julle my laat haal het. Sê nou vir my waarom julle my laat haal het.””


Handelinge {10:34} “Toe het Petrus aan die woord gekom en gesê: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie, {10:35} maar in enige volk die mense aanneem wat Hom vereer en doen wat reg is.”


In Mattéüs {16:13} en wat daarop volg, nadat Petrus aan Jesus verklaar het dat Hy die Messias, die Seun van God is, het Jesus die sleutels van die Koninkryk aan hom gebied. Wat Jesus hiermee bedoel het, word ook soms misverstaan. Petrus sou nie die eerste Pous wees, soos hierdie verse geinterpreteer word deur die Katolisisme en ander nie, maar hy sou die eerste apostel wees om deel te hê aan God se reddingsplan met die nie-Jode; die ingang na die Koninkryk sou Hy vir hulle oopsluit, vir die eerste keer sedert die kruisiging van Jesus, ook vir nie-Jode om dit binne te gaan en deel te word van God se Koninkryk en reddingsplan. Dit is vervul toe hy Kornelius en sy huishouding na die Here gelei het.

Kom gou Jesus!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking