✦

Chayei Sarah - Sara het geleef


Eksodus {34:6} "En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; {34:7} wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag."

Het jy al ooit gewonder waarom sommige gesinne geneig is om herhalende tragiese patrone in hulle lewens te hê? Wanneer hulle terugkyk na hulle familiegeskiedenis, vind hulle herhalende dinge soos egskeiding, geen vader in die huis nie, persoonlike mislukkings, finansiële probleme, homoseksualiteit, dwelm- en alkoholverslawing, ontydige sterftes, depressie, geestesongesteldheid, onverklaarbare gesondheidsprobleme, vrees en baie ander herhaalde teëspoede wat oor die geslagte van hulle familie voorgekom het? Ek het gehoor dat alkoholisme, tabakverslawing en kriminele gedrag genetiese vatbaarhede is, maar is dit waar? Genetika verklaar waarom ons soos ons ouers lyk, maar kan genetika verklaar waarom sekere rampe deur familielyne teruggevoer kan word? Is dit moontlik dat daar meer aan die werk is as net die rangskikking van chromosome? Kan die sondes van ons ouers, grootouers en selfs ons oupagrootjies en oumagrootjies vir ons kwessies word? Is ons geestelik aan ons geslagte gekoppel?

Dit mag vir sommige moeilik wees om te aanvaar dat ons sondes besoek word aan ons kinders en kleinkinders tot in die derde en vierde geslag. Wat God egter in die vers wat ek aangehaal het gesê het, is nie 'n alleenstaande geval in die Skrif nie. Ek het dit nog vier ander kere gevind. (Eksodus 20:3-6; Numeri 14:18; Deuteronomium 5:9-10; en Jeremia 32:17-18). Aangesien hierdie waarskuwing ten minste vyf keer in die Skrif herhaal word, dink ek dit is veilig om te sê dat God dit as betekenisvol beskou en die moeite werd ag om aandag aan te gee.

Eerstens is dit baie belangrik dat ons verstaan dat God barmhartig, genadig, lankmoedig, ryk aan goedertierenheid en trou is, en dat Hy die sonde vergewe van dié wat Yeshua as hulle Verlosser aangeneem het en hulle sondes bely en hulle bekeer het. Maar hoe kan ons die sondes van vorige geslagte bely wat moontlik aan ons besoek is?

Die sleutel tot vergifnis is om vir vergifnis te vra. As ons nie vra nie, bly ons skuldig aan ons sondes, en soos ons in Eksodus 34 lees, laat God ons skuld nie ongestraf bly nie, maar besoek Hy ons ongeregtigheid aan ons kinders en ons kindskinders vir baie geslagte wat kom. Dit is 'n baie skrikwekkende gedagte vir sowel ouers as hulle kinders! Dink net daaraan! As ons ouers of jou voorvaders sondes gepleeg het en nagelaat het om die Here om vergifnis te vra, kan ons die gevolge van hulle sondes ly, al het ons Yeshua as ons Messias aangeneem!

Neem 'n oomblik om oor ons sondes en hulle moontlike verband met vorige geslagte na te dink. Bid dan hierdie aanpassing van Nehemia se gebed om die vloek van geslagsonde in jou lewe te breek

Nehemia 1:5 "Ag, HERE, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou: laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek nou voor u aangesig bid vir my voorvaders, terwyl ek die sondes bely wat hulle teen U gedoen het. Ek bid ook voor U en bely my sondes en die sondes van my vader se huis. Ons het baie verkeerd gehandel teenoor U, en ons het die gebooie en insettinge en verordeninge wat U aan Moses, u kneg, beveel het, nie gehou nie. Ek vra U om my voorvaders, my vader se huis en my ons sonde te vergewe. Ek vra U om my te reinig van alle ongeregtigheid wat my toegereken word weens hulle sonde en myne. Ek vra dit in die Naam van, en deur die bloed gestort deur, Messias Yeshua."

Titus {2:13} "…terwyl ons die salige hoop verwag en die verskyning van die heerlikheid van die grote God en ons Verlosser, Messias Yeshua."

Shabbat shalom

Jack


D’VAR TORAH

CHAYEI SARAH / SARA HET GELEEF

B’RESHEET / GÉNESIS 23:1-25:18

Génesis {23:1} "En die lewensdae van Sara was honderd-sewen-en-twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara. {23:2} En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3} Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4} Ek is 'n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my 'n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe."

Die woord “egskeiding” behoort nooit op die lippe van 'n gelowige in Messias Yeshua te wees nie; God haat egskeiding! 'n Huwelik moet, soos enige gelofte wat voor God afgelê word, nagekom word op gevaar daarvan om onder die oordeel van God te val. Maar wat gebeur as jy getroud is met 'n mishandelende persoon, 'n dronkaard, of erger nog, wat gebeur as jou eggenoot owerspel pleeg? My lewensbeskouing is dat dit drie neem om 'n huwelik te maak (man, vrou en Yeshua), en as Yeshua ontbreek, net twee om een op te breek (man en vrou).

Dit is interessant om op te let dat baie van die heiliges in die Bybel moeilike huweliksverhoudings gehad het. Byvoorbeeld: Moses en Sippora het oor die besnydenis van hulle seun gestry; daardie konflik het daartoe gelei dat hulle van mekaar geskei het.

In hierdie week se Parasha lees ons dat Sara in Hebron gesterf het, terwyl ons in verlede week se Parasha vertel is dat Abraham in Berséba gewoon het. As hy op vandag se hoofweë gereis het, sou hierdie twee stede net 45 kilometer van mekaar af wees, 'n rit van agt-en-twintig minute (sonder verkeer). In Abraham se tyd het die tog egter deur droë, ruwe, harde, bergagtige terrein sonder paaie gegaan; 'n moeilike, lang en uitputtende reis vir enigiemand, veral vir 'n man van Abraham se ouderdom. Dit is dus duidelik dat Abraham en Sara teen die einde van hulle lewens van mekaar geskei was.

Génesis {22:19} “En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam na Berséba gegaan. En Abraham het in Berséba bly woon.”

Daar word geglo dat Abraham en Sara uitmekaar is oor die Akeda (die binding van Isak), maar daar is geen werklike bewys daarvan nie. As ons egter hierdie mening as waar aanvaar, sou dit beteken dat Moses sowel as Abraham met hulle vrouens gestry het en uitmekaar is weens meningsverskille oor hulle kinders. Kinders is belangrik, maar hulle behoort beslis nie tussen paartjies te kom wat mekaar liefhet en God in die middelpunt van hulle huwelik het nie.

Moses en Abraham was groot manne van God wat belangrike rolle in die Bybelse en die wêreldgeskiedenis gespeel het. Wat was dit wat in hulle lewens of in hulle huwelike ontbreek het, wat slegs deur skeiding opgelos kon word? Wat geleerdes of ek ook al dink tussen hierdie twee paartjies gebeur het, die waarheid sal eers bekend word wanneer ons in die hemel kom en hulle ontmoet, en teen daardie tyd sal ons waarskynlik in elk geval nie meer omgee nie.


Ek steun baie op my vrou se mening en glo dat ons belangrike besluite altyd moet bespreek. Ek glo egter ook dat die finale besluit, as die man, myne behoort te wees. My vrou weet dat ek God vrees en dat ek nooit 'n groot besluit sal neem sonder om God eers in gebed, en waar nodig met vas, te raadpleeg nie. Miskien is die verskil tussen my vrou en die vrouens van Moses en Abraham dat my vrou met dieselfde Heilige Gees vervul is as ek; ons het albei die Gees by ons redding in ons lewens ontvang. Daarom herken sy wanneer dit God is wat deur my werk en wanneer dit my vlees is wat my lei. Ek glo nie dit was die geval met Sippora en Sara nie. Daar is geen aanduiding in die Skrif dat hulle met die Heilige Gees vervul was nie. Die Gees is in daardie tyd van die geskiedenis nog nie op alle vlees uitgestort nie (Handelinge 2:17). Die Heilige Gees het slegs gerus op dié na wie die Here Hom gestuur het, en selfs dan het Hy gekom en gegaan soos die Here dit bedoel het.

Dit bring ons terug by wat ek aan die begin gesê het: Dit neem drie om 'n huwelik te maak en slegs twee om een op te breek. Dit blyk dat sowel Sippora as Sara moontlik die derde persoon in hulle huwelike kortgekom het.

Moses en Abraham het, soos so baie van ons vandag, in hulle verhouding met die Here gesukkel. Dit kan 'n verklaring vir hulle skeidings wees. Miskien het hulle, wat hulle huwelike betref, meer in die vlees as in die Gees opgetree.

God se Tyd

Shemot
(Eksodus)


Eksodus  {2:23} "En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. {2:24} En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. {2:25} En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken."

In hierdie Skrifgedeelte word net terloops gemeld: “En in daardie lang tyd”, skep miskien die indruk asof slegs ‘n paar dae verloop het tussen die tydperk wat Israel in slawerny in Egipte verval het en die dood van die Farao van Egipte. Die feit is egter dat honderde jare verloop het; trouens, tweehonderd- en- vyftig jaar. 

Dit is nie die eerste keer wat ons hierdie tipe van terminologie in die Skrifte teëkom nie. Dit kom dwarsdeur die hele (Tanach) Hebreeuse Geskrifte voor:

Genesis {4:3} "En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ’n offer gebring."

Genesis {38:12} "En ná verloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda, gesterwe. En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet."

Rigters {11:4} "En ’n tyd daarna het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel."

2 Kronieke {21:19} "En ná enige tyd, naamlik teen die einde van die tweede jaar, het sy ingewande by sy siekte uitgekom, sodat hy onder hewige pyne gesterf het; en sy volk het vir hom geen wierookbrand gemaak soos die brand vir sy vaders nie."

Selfs al het sekere van hierdie gebeure nie honderde jare geduur nie, maar “met verloop van tyd”, bring dit ons onder die indruk dat alles gebeur met die verloop binne God se tydsbepaling en niks vind plaas vóór die tyd nie.

Ons is altyd so haastig dat God in ons lewens moet intree; ons verwag dat alles onmiddelik moet gebeur. Dit is veral waar, wanneer dit ‘n gebedsversoek is oor iets wat ons wil hê. Tipies is ons ongeduldige mense. Ons haat dit om in lang toue te staan en raak briesend wanneer die persoon in die ry voor ons sukkel met kleingeld wanneer daar vir die aangekoopte items betaal moet word. Ons krimp omtrent ineen indien die kassier moet gaan om die korrekte prys van een of meer items van die kliënt te gaan vasstel, terwyl ons moet rondstaan en wag. My vrou en ek het eendag by ‘n kruidenierswinkel gestaan, terwyl die persoon voor ons van die kassier verwag het om keer op keer die totaal van haar aankope te verstrek en dan, indien die bedrag nog binne haar begroting was, het sy die ry verlaat om nog ‘n verdere item te gaan haal en die totaal dienooreenkomstig aan te pas. Dit het meer as viermaal gebeur terwyl ons hulpeloos toegekyk en gewag het, Dít was werklik ‘n toets vir ons geduld!

God beskik egter oor oneindige geduld - Hy doen alles “met verloop van tyd”. Hy raak nooit gejaagd nie, Hy is nooit haastig nie en wag altyd tot die geskikte tyd om op te tree. Dit was die geval met Moses in hierdie week se Parasha. Hier leer ons dat God hoegenaamd niks doen voor die regte tyd nie. Hoe weet God wanneer die tyd reg is vir Hom om op te tree? Dit is wanneer Sy doel vervul is, wat dit ook al mag wees!

Johannes {7:6} "Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie Maar julle tyd is altyd daar. {7:7} Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is. {7:8} Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie daar is nie."

Hier is die einddoel, “die verloop van tyd”. Jesus moes op ‘n spesifieke wyse sterf: ‘n Romeinse kruis, in ‘n spesifieke stad; Jerusalem en op ‘n bepaalde dag; die derde Pesach (Paasfees) nadat Hy Sy bediening hier op aarde begin het. Ofskoon die Satan dikwels probeer het om Jesus te laat doodmaak, het Hy altyd gefaal en Jesus het daarin geslaag om ongedeerd weg te kom en nie leed aangedoen te word nie, omdat Sy tyd nog nie aangebreek het nie. Toe Jesus se tyd wel aangebreek het, het Hy gegaan, op die bestemde tyd, na Jerusalem en ons weet wat daarna plaasgevind het.

Die wyse waarop God in die Skrif gewerk het, is dieselfde as wat Hy vandag nog in ons individuele lewens doen. Ons is altyd haastig om met dinge aan te gaan. Ons verlang dat alles wat ons bid of vra dadelik moet gebeur, volgens óns tydsberekening. Ek dink ons almal benodig ‘n realiteitstoets en ons almal behoort te leer uit vandeesweek se Parasha. Dit is nie ons tydsberekening wat saak maak nie - dit is God s’n. Hy het Sy volmaakte tyd om te gee wat ons vra, solank as wat ons vra en bid volgens Sy wil. Hy sal dit alles skenk maar dit sal altyd “ met verloop van tyd” wees, dit is, volgens Sy tydsbepaling!      

Kom gou Jesus!

PDF weergawe


Aanmoediging en Gerustelling Deur God

Shemot
(Eksodus)

Eksodus / Shemot {3:11} “Maar Moses het tot God gespreek: Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei? {3:12}  En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.”

Ek het dit interessant gevind dat God vir Moses berg Horeb (Berg Sinai) aangedui het as plek van aanbidding en Hy vir Moses na die kinders van Israel gestuur het. So ook die feit dat God Berg Horeb as teken bevestig dat Hy met Moses sal wees. Dit is vreemd aangesien die kinders van Israel nie voor ‘n aansienlike tydverloop eers dáár sou aankom nie. Daarbenewens het God vir Moses oor bonatuurlike geestesgawes laat beskik en Homself bewys om dwarsdeur die Eksodus-proses met hom te wees. Waarom sou aanbidding by Berg Horeb dan enigsins ‘n groter teken wees as die tog deur die Rooi See? Wat was dan so uitsonderlik aan Berg Horeb, dat dit ‘n teken was dat God met Moses sou wees, as die ander tekens wat hy alreeds ontvang het?

Dit is klaarblyklik uit sy teësin om na Egipte terug te keer, dat hierdie voormalige, vreeslose prins inderdaad getemper is gedurende die veertig jaar wat hy in die wildernis van Midian skape opgepas het. Hy het duidelik die politieke aandrif en aktivisme waaroor hy vroeër beskik het, verloor. Dit het alles aan die verlede behoort en hierdie ontmoeting met God op Berg Horeb, het Moses onverhoeds betrap. Gevolglik, lees ons dat hy sê: “Wie is ek, dat ek na die Farao moet gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte moet lei?”

Moses het homself nie langer as iemand besonders beskou nie en homself beslis nie bevoeg geag om die Farao te konfronteer nie, nog minder om die kinders van Israel uit Egipte te lei.

Ek kan begryp waarom Moses hierdie woorde tot God gerig het. As ‘n prins in Egipte, het hy kontakte gehad, invloedryke persone geken en dus betrekkinge gehad waardeur hy invloed kon uitoefen. Nou, nadat hy vir veertig jaar ‘n skaapherder was, het hy enige kontakte of invloed verloor. Hy was polities vergete.

Wat Moses op dié stadium beleef het, is tot selfs vandag toe nie ongewoon nie. Baie afgetredenes, wat vroeër oor mag en invloed in hul werkplek beskik het, ervaar na jare se aftrede, dieselfde belewenis. Selfs indien hulle onverwags versoek sou word om na hulle werkplek terug te keer en voort te gaan vanwaar hulle opgehou het, sou hulle ongetwyfeld ook skepties gevoel en die werkaanbod van die hand gewys het, ongeag of dit deur God so beskik was.

God het dit klaarblyklik verstaan en met reg ook, want Hy het Moses immers geskep! God het besef dat Moses behoefte aan aanmoediging sou hê om die politieke aktivis in hom weer te laat opvlam. Gevolglik is aan hom tekens gegee van sy staf wat in ‘n slang verander het en sy hand wat met ‘n velsiekte oortrek geraak het. Ten spyte van hierdie tekens, wat moontlik voldoende sou gewees het om meeste mense te oortuig, het Moses nogtans skepties gebly tot op ‘n punt waar God sy broer, Aäron, saam met hom moes stuur, om as sy spreekbuis op te tree.

Ek is egter oortuig daarvan dat God inderdaad met Moses in Egipte was toe hy eindelik daarheen gegaan het; trouens, die wonders wat hy dáár verrig het, bewys dit onteenseglik. Maar, soos ons almal wil weet of ons ‘n opdrag bevredigend uitgevoer het, het God besef dat Moses ‘n teken daartoe nodig gehad het. God se teken van teveredenheid was tweërlei.

Wat Moses moes uitvoer, was hoegenaamd geen maklike taak nie – hy het deurentyd behoefte aan bemoediging en gerusstelling deur God gehad. Nogtans het Moses, ongeag wat alles plaasgevind het, homself nooit as iemand besonders geag nie; trouens, hy het nooit van die “Wie is ek” – gesindheid afgesien nie, wat myns insiens hierdie Skrifgedeelte genoodsaak het.

Numeri / Bamidbar {12:3) “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.”

Gevolglik was die eerste rede vir die Berg Horeb-ontmoeting, bedoel om as sy uiterste bemoediging en gerusstelling te dien, dat Gód hom gestuur het. Moses het gegaan van prins tot herder en dit was by Berg Horeb wat hy as’t ware weer ‘n prins geword het – selfs meer as ‘n prins, maar wel ‘n koning, priester en profeet. Tweedens, die verlossing en bevryding van die kinders van Israel het eintlik begin met Moses by Berg Horeb. Watter beter, meer gepaste plek vir die volk Israel om “gebore” te word, as op die Berg Horeb!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-01-08