✦

Uitgesluit Uit Die Koninkryk van die Hemel

Tazria
(Ontvang)


Levitikus (12:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {12:2}  Spreek met die kinders van Israel en sê: As ‘n vrou swanger word en ‘n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees.”

Baie mense het al gewonder waarom ‘n vrou onrein geag word nadat sy geboorte geskenk het. Eerstens moet ons onthou dat onrein nie onheilig beteken nie. Dit beteken slegs dat die moeder nie die tempel mag binnegaan of deelneem aan enige rituele wat daarin plaasvind nie. Daar bestaan verskeie redes daarvoor, maar ek glo dat één in besonder meer betekenisvol as die ander is.

Met die geboorte van ‘n baba, is daar bloed betrokke. Bloedstorting het nog altyd ‘n vrou onrein gemaak, soos ons in die wette van nida (menstruasie) leer. (Deuteronomium 15:19 – 30). In die geval van normale maandelikse menstruasie is ‘n vrou egter onrein vir slegs sewe dae, terwyl by kindergeboorte – in hierdie geval ‘n manlike kind – bly sy vir drie-en-dertig dae onrein. Dit bring ons by die tweede punt, wat, ek glo, die mees betekeinsvolle een is.

Romeine  / Romim {5:12} “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het”

Paulus verstrek hier aan ons die dogma van oorspronklike sonde. Adam en Eva (Chava) het gesondig en op daardie oomblik het sonde as sulks in die wêreld ontstaan. Die mens is van toe af vervloek met ‘n sondige natuur: ‘n natuur wat aan alle toekomstige geslagte oorgedra sou word. Sonde het natuurlik ook die dood in die wêreld gebring. Deur die dood en opstanding van Jesus die Messias, het Hy die sonde en dood oorwin en dit aan die kruis vasgenael. Dit het egter nie die sondige natuur van die mens verander nie! Volgens die Psalmis, Dawid:

Psalms / Tehillim {51:5} ”Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.”

Juis hierin lê die rede waarom ‘n vrou, na die geboorte van ‘n seun, vir drie-en-dertig dae onrein is. Dit is op grond van die feit dat elke keer wat ‘n vrou geboorte skenk, sy nóg ‘n sondaar in die wêreld bring.

S.H. Kellog lewer soos volg kommentaar hieroor: “In the birth of a child, the special original curse against the woman is regarded by the Torah as reaching its fullest, most consummate and significant expression. For the extreme evil of the state of sin into which the first woman, by that first sin, brought all womanhood, is seen most of all in this, that now woman, by means of those powers given her for good and blessing, can bring into the world only a child of sin.”

Levitikus / Vayikra {12:5} “Maar as sy ‘n dogter baar, sal sy twee weke onrein wees soos by haar maandelikse onreinheid. Dan moet sy ses en sestig dae in die reinigingsbloed bly.”

Waarom, volgens die bovermelde Skrifgedeelte, is ‘n vrou, na die geboorte van ‘n vroulike kind, dan vir ses-en-sestig dae onrein? God is tog nie ‘n chauvinis nie! Mag die Here dit verhoed! Met die geboorte van ‘n vroulike kind, is ‘n vrou vir ses-en-sestig dae onrein omdat sy nie slegs ‘n sondaar in die wêreld gebring het nie, maar wel ‘n kind wat uiteindelik self ander sondaars in die wêreld sal bring. Dit bring ons verder by ‘n interessante punt, waarop ons in parasha Metzora, moet let:

Levitikus / Vayikra {14:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {14:2}  Dit is die wet van die melaatse op die dag van sy reiniging. Hy moet na die priester gebring word, {14:3}  en die priester moet buitekant die laer gaan. As die priester sien dat die plaag van melaatsheid genees is, van die melaatse weg is,…”

Melaatses was uitgeworpenes en nie net as onrein beskou nie, maar melaatsheid as sulks, as verteenwoordigend van sonde. Die eerste vergelyking, sien ons, is gegrond op die feit dat die melaatse nie die laer kon binnegaan nie. Netso kan ons met die sonde belas ook nie die koninkryk van die hemel (God se laer) ingaan nie; ons sou onrein, melaats beskou en uit die koninkryk van die hemel uitgesluit word.

In die tweede vergelyking, sien ons dat die priester (cohen) uit die laer moes uitgaan om die melaatse rein te verklaar. Insgelyks moes Jesus die Messias, ons Hoëpriester (Cohen Hagadol), die hemel verlaat en na die aarde neerdaal om ons, bedek deur die plaag van sonde, rein te verklaar.

Waarom laat jy Jesus nie toe in jou lewe nie, sodat Hy jou ook rein kan verklaar nie? Vra Hom eenvoudig om dit te doen en Hy sal! 

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-04-22


‘n Volle Deelnemer

Tazria

(Ontvang)



Levitikus / VaYikra {12:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {12:2}  Spreek met die kinders van Israel en sê: As ‘n vrou swanger word en ‘n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees. {12:3}  En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word. {12:4}  Dan moet sy drie en dertig dae in die reinigingsbloed bly. Aan niks wat heilig is, moet sy raak nie en in die heiligdom mag sy nie kom nie totdat die dae van haar reiniging verby is.”

Daar bestaan onder Christene heelwat misverstand oor b’rit milah (die ritueel van besnydenis) en daarom wil ek graag van hierdie geleentheid gebruik maak om daardie misverstand in hierdie week se kommentaar op Parasha Tazria, te verduidelik. Om hierdie rede, gaan ek die waarskynlik mees misvatte Bybelboek, Galasieërs (Galitim) – die een in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), wat meeste oor die besnydenis handel – gebruik.

In die tyd van die apostel Paulus (Shaliach Shaul), was daar ‘n algemene leer onder sekere Joodse gelowiges in Jesus die Messias – veral dié van die Jerusalem-gemeente – aangaande die ritueel van besnydenis. Hulle het daarop aangedring dat ‘n nie-Jood, wat ‘n gelowige in Jesus die Messias wou word, ‘n proseliet in Judaïsme (die geloof!) moes word om ten volle ingelyf te word in die verbond wat tussen Isreael en God bestaan het. Paulus het egter nie daarmee saamgestem nie en, vir die rekord, ek ook nie! Dit is hierdie valse leer, komende uit die geledere van Joodse gelowiges van die Jerusalem-gemeente, wat Paulus aangespoor het om die volgende Skrifgedeelte te skrywe:

Galasiers / Galitim {5:6} ”Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk.”

Juis uit hierdie gedeelte asook ander wat soortgelyk is, ontstaan kerke se leer dat die besnydenis nie langer nodig is nie omdat die dood, opstanding en hemelvaart van Jesus as’t ware daarmee weggedoen het. Hulle beweer dus dat Christene, van hierdie wet vrygestel is. Niks hiervan is egter verder van die waarheid verwyder nie. Vergun my om julle toe te lig hoedat Paulus die woord “besnydenis” in Galasiërs gebruik. 

Die mees  deurslaggewende vereiste in tradisionele Judaïsme vir ‘n nie-Jood om hom tot Judaïsme te bekeer, is die besnydenis. Dit is waarom die faksie van Joodse gelowiges van die Jerusalem–gemeente vereis het dat nie-Joodse gelowiges uit Galisië besny moes word, of anders gestel, dat hulle proseliete moes word om ten volle in die geloof ingelyf te word. Dit is die rede waarom dié gemeente op die besnydenis gefokus het, want, volgens hulle, was die besnydenis ‘n vereiste vir redding.

Paulus begin die voorafgaande vers met die woord “Want”, wat daarop dui dat hierdie vers ‘n rede vir iets bepaal – die propaganda van die faksie Joodse gelowiges in Jerusalem. Daarom moet ons die betrokke vers verstaan, met die betekenis – ongeag of jy ‘n Joodse proseliet is of nie – dat dit niks met ‘n mens se redding te doen het nie. Nóg die Joodse gelowiges, word deur die besnydenis (bekering) gered, maar eerder soos Paulus dit gestel het: “...maar die geloof wat deur die liefde werk.”. 

Ek hou van die manier waarop Tim Hegg dit stel: - “This is why “neither circumcision nor uncircumcision means anything.” Once again, we must understand this terminology as meaning “neither Jewish status nor non-Jewish status means anything.” And we must likewise understand this statement of the Apostle within the context in which he gives it. He is not saying that Jewish identity is nothing, nor is he saying that non-Jewish identity is unimportant. Our station in life is a direct result of G-d’s divine providence. But the point Paul is making is that one’s entrance into Messiah is not predicated upon one’s lineage or membership in a given people group. G-d’s salvation is not automatically given to those who trace their lineage to Jacob, nor is it automatically withheld from those who trace their heredity to the nations. G-d’s salvation is given to those who are “in Messiah Yeshua.”.

Die gevolgtrekking is dus dat Paulus glad nie van die besnydenis as sulks praat nie. Hy gebruik die woord “besnydenis” as sinoniem vir bekering tot die geloof van Judaïsme. Paulus se slotsom is dus dat ‘n nie-Jood homself nie tot Judaïsme hoef te bekeer ten einde ‘n volle deelnemer aan die verbonde van Israel te wees nie.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-04-02