D’Var Torah
Wanneer hy laat gaan het / Beshalach
Eksodus / Shemot {13:17} “Toe Farao die volk laat trek het, het God hulle nie op die pad na die land van die Filistyne gelei nie, alhoewel dit nader was; want God het gesê: Die volk kan dalk berou kry as hulle oorlog sien, en teruggaan na Egipte. {13:18} Daarom het God die volk laat wegdraai in die rigting na die woestyn, na die Skelfsee toe. En die kinders van Israel het goed gewapend uit Egipteland opgetrek. ”.
Julle het seker gemerk dat die kinders van Israel gewapen was toe hulle Egipte verlaat het. ‘n Mens bewapen jouself immers nie tensy jy van plan is om te veg nie en oorlog te voer nie. God het egter die kinders van Israel doelbewus met ‘n ander pad om die land van die Filistyne gelei sodat dit die Filistyne nie aanleiding sou gee om uit te gaan om teen die kinders van Israel oorlog te voer nie. Die rede word in die bogenoemde Skrifgedeelte verstrek: Hulle was nog nie gereed om oorlog te sien nie.
Oorlog is alles behalwe aangenaam om te aanskou. Hier in Noord-Amerika is meeste van ons geïsoleer van oorlog. Ofskoon ons gewapende magte reeds dikwels in die buiteland talle oorloë gevoer het en tans ‘n oorlog in Afghanistan voer, het soortgelyke konflikte ons in Kanada nie weer sedert 1812 bedreig nie.
My vrou en ek het vanjaar inderdaad met oorlog kennisgemaak. Geeneen van ons het ons nog ooit te midde van ‘n konflik bevind nie, deurdat ons die Vietnamese Oorlog misgeloop het, maar met ons besoek aan Israel, tydens die mees onlangse Gaza –konflik, het ‘n mens werklik ‘n voorsmaak – ofskoon dit nie te ernstig was nie – ervaar wat oorlog werklik behels. Oorlog is beslis nie mooi om te aanskou of aangenaam om te ervaar nie.
Vir tien dae lank was die stad wat ons besoek het, die teiken van lukrake missielaanvalle vanuit Gaza. Dag en nag moes ons in die bomskuiling gaan skuil telkens wanneer ‘n waarskuwingsirene gehoor is en dít het gereeld gebeur. Met elke ontploffing, wat ons gehoor het (hulle beweer dat ’n mens nie die één hoor wat jou tref nie!), was ons alte dankbaar dat geeneen in ons buurt geval het nie. Ons was egter terdeë bewus daarvan dat met elke ontploffing iemand êrens in die stad getref is. Ongelukkig was daar sterftes en aansienlike skade, maar veel geringer as wat daar sou gewees het as dit nie vir God se bewaring was nie. Tydens die hele voorval, was ons nie beangs of bevrees nie: ons het op God vertrou en om Sy beskerming gesmeek; ons was egter baie besorg en het besef dat, indien Gaza binnegeval sou word, ons die besondered moeilike besluit sou moes neem om óf te bly óf ontruim te word. Oorlog is geensins aanskoulik of aangenaam om te ervaar nie.
Indien ons nie op daardie tydstip in Israel was tydens die Gaza-oorlog nie, sou ek dit nooit werklik verstaan het waarom God die kinders van Israel met ‘n lang ompad gelei het om die Filistyne te vermy nie. Ons, wat nooit vantevore ‘n oorlogsone gesien of beleef het nie, kan nou bely dat dit nie ‘n aangename ervaring was nie. Ek begryp nou duidelik waarom God die kinders van Israel so ’n belewenis so spoedig na hulle pasverkrygde vryheid wou spaar.
Teen hoeveel traumatiese ervarings het God jou al beskerm? Hoe dikwels het Hy jou met ‘n ompad gelei om te voorkom dat jy ‘n gebeurtenis ervaar, wat jou moontlik sou laat omdraai en van Hom afgedwaal het? Hoe dikwels het Hy nie veroorsaak dat jy laatkom, vassit in die verkeer, vertraag of jou geheel-en-al verhoed om iets te doen en jou daardeur van ‘n ernstige onheil bewaar nie? Die waarheid is egter dat ons nie bewus is van al die kere wat Hy dit inderdaad gedoen het nie. Ons kan sonder twyfel van één ding seker wees: as God dit vir die kinders van Israel gedoen het, het Hy dit ook al vir ons gedoen!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking