Sondag 06 Januarie 2013

Verskonings, ons vrees vir verwerping

D’Var Torah 
En hy het gesê - Vaera 


Eksodus / Shemot {6:11} “ Maar Moses het voor die aangesig van die HERE gespreek en gesê: As die kinders van Israel na my nie geluister het nie, hoe sal Farao dan na my luister terwyl ek onbesnede van lippe is? {6:12} Daarop het die HERE met Moses en Aäron gespreek en hulle met ‘n boodskap gestuur na die kinders van Israel en na Farao, die koning van Egipte, om die kinders van Israel uit Egipteland uit te lei. ”. 

In die voorafgaande verse van hierdie parasha, het God Moses so pas bemoedig deur te sê dat Hy Sy verbond met die kinders van Israel sal vervul en hulle die land wat Hy aan hulle beloof het, in besit sal neem. Ons onthou dat Moses na die kinders van Israel gegaan het met die boodskap wat hy van God ontvang het, maar dat hulle hom verwerp en uitgelag het. Nou beveel God vir Moses om na die farao te gaan en hom te spreek oor die vrylating van die kinders van Israel. Moses reageer egter negatief omrede hy aan erge verwerping ly. 

Is dit nie maar soos dit met ons ook die geval is nie? Ek vind dit veral waar wanneer dit evangelisasie betref. Ons is so ywerig en opgewonde om ons geloof met ander mense te deel, dat ons by die gemeente se evangelisasie-bediening aansluit. Saam met die uitreikspan, gaan ons vol moed op straat uit om met ‘n verbyganger oor Jesus te praat. In plaas van aanvaarding, nadat ons dit met die persoon gedeel het, word ons egter beledig, verskree en selfs gespu. Wat is die gevolg daarvan? Ons stap erg verleë daar weg met ‘n gevoel van verwerping – erger nog ons wil nie weer iemand anders konfronteer nie uit vrees vir wat mag plaasvind. Ons het neutraal geraak uit vrees vir verwerping. Dit was inderdaad die geval met Moses: Hy was vanweë sy vorige verwerping, bang om dit weer te verduur. 

Wat gebeur dus indien ons die eerste maal of selfs ‘n tweede - of derde keer verwerp word, wanneer die feit is dat verwerping eintlik slegs ‘n metode is wat God gebruik om ons geloof te toets? Waarom aanvaar ons bloot dat net omdat ons kinders van God is, alles in ons lewens voorspoedig sal wees? Ons sal wel verwerping ervaar maar dit gaan egter eerder hóé ons daarop reageer en veral op die verwerping as sulks, nie dat óns verwerp word nie. 

Johannes / Yochanan {16:33} “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin. ”. 

Dit is my mening dat Jesus, op grond van die voormelde Skrifgedeelte, dit uitdruklik gesê het dat alles nie altyd aan ons verwagting sal voldoen nie. Ons gaan wel verdrukking asook verwerping verduur, maar Hy stel ons gerus dat Hy dit alles reeds oorwin het. In Hom, kan ons vrede ervaar te midde van verdrukking en selfs verwerping. 

Waarom het die kinders van Israel die eerste keer, toe Moses na hulle gegaan het, hom verwerp? Alles inaggenome, het hy dit nie uit eie beweging gedoen nie. Hy het in opdrag en met die krag van die Koning van die heelal na hulle gegaan. Moses sou dit tog, nadat hy die wonderwerke wat God reeds vir hom gedoen het toe hy die eerste keer geroep is, kon herken. Ongelukkig het hy nie! Die verwerping deur die kinders van Israel, was ‘n toets vir Moses. 

Ons almal móét noodwendig ons vrees vir verwerping oorkom en besef dat God ons geloof toets deur toe te laat dat ons van tyd tot tyd verwerping ervaar. Neem, byvoorbeeld, om voor mense van jou geloof te getuig. Ons besef dat God van ons verwag om ons geloof te deel en dat dit Hy is wat red en nie ons nie. As ons dus met iemand ons getuienis deel en verwerp word, verwerp so’n persoon nie vir ons nie maar wel vir God. Derhalwe moet niks ons ooit daarvan weerhou om oor en oor te getuig net omdat iemand die boodskap, die vorige keer wat ons dit gebring, verwerp het nie. 

Die boodskap wat Moses aan die farao moes bring, was hoegenaamd nie syne nie – dit was van God af. Moses het geen rede gehad om die farao te vrees nie, omrede lasgenoemde deur die verwerping van die boodskap, nie vir Moses sou verwerp nie, maar wel vir God, terwyl God inderwaarheid onaantasbaar is selfs wat verwerping of uittarting aanbetref. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking