Sondag 27 Januarie 2013

Evaluasie van realiteit

D’Var Torah
Jetro / Yitro 

Eksodus / Shemot 18:1 – 20:23

Eksodus / Shemot {18:5} “En Jetro, Moses se skoonvader, het met sy seuns en sy vrou na Moses gekom in die woestyn waar hy by die berg van God met die laer gestaan het. {18:6} En hy het Moses laat weet: Ek, jou skoonvader Jetro, kom na jou met jou vrou en haar twee seuns saam met haar. ”. 

Soos ons weet, was daar onenigheid tussen Moses en sy vrou, wat daartoe gelei het dat sy hom verlaat en hy haar met hulle twee seuns na haar vader se huis gestuur het. In die verhaal word die ouderdomme van Moses se seuns nie gemeld nie. Indien hulle nog baie jonk was, kan ‘n mens begryp waarom hulle met hul moeder saam gegaan het, maar indien hulle ouer – selfs tieners – was, is dit vreemd dat hulle nie by hul vader agtergebly het nie. Vaders en seuns, ouer as sewe jaar kan, soos trouens vandag die geval is, reeds ‘n baie hegte verhouding hê. As dit verder in ag geneem word dat Moses soos ‘n koning vir die kinders van Israel was, wie sou dan meer geskik gewees het om sy opvolger te wees, as een van sy seuns? Ek besef dat ek nou hier veel as vanselfsprekend aanvaar, maar wees asseblief geduldig terwyl ek my standpunt verduidelik. 

Eksodus / Shemot {18:13} “en haar twee seuns. (Die naam van die een was Gersom, want hy het gesê: Ek het ‘n vreemdeling geword in ‘n vreemde land; {18:4} en die naam van die ander was Eliëser; want, het hy gesê, die God van my vader is my hulp en het my van Farao se swaard verlos.) ”. 

In die Joodse godsdiens word Moses verhef tot iemand soortgelyk aan ‘n heilige. Indien daar in Judaïsme heiliges was, sou Moses ongetwyfeld een gewees het. Hy was egter geensins ‘n heilige nie aangesien die feite, volgens die Skrif, eerder daarop dui dat hy ‘n doodgewone man was, soos meeste van ons is, en ek is van mening dat die Skrif dit ten spyte van sy nederigheid, baie duidelik stel. 

Moses was inderdaad soos ‘n koning vir die kinders van Israel en dit blyk dat die taak wat God aan hom opgedra, vir hom te veel geraak het. Indien sy skoonvader nie die inisiatief geneem het om sy vrou en seuns na hom terug te bring nie, sou Moses na alle waarskynlikheid homself onder sy werk toegegooi en moontlik nie so nederig gebly het nie. 

Ons het almal op een of ander tyd, ‘n evaluasie van realitiet nodig: om terug te staan en ons hele lewensbeeld in oënskou te neem, waar ons met ons lewens verkeer en waarmee ons ons tans besig hou. Baie van ons skarrel rond in ‘n poging om te veel op ons eie te bereik, waarvan vele take eerder aan ander gedelegeer kon word, maar in ons huidige situasie, sien ons dit nie altyd so in nie. Soos Moses, word ons byna verblind deur ywer om sake af te handel. Moses is egter deur so ’n evaluasie van realiteit gekonfronteer toe sy skoonvader op die toneel verskyn het. Ons mag miskien ook aan ‘n soortgelyke evaluasie onderwerp word deur ‘n vriend, onderwyser, rabbi of ons gade, maar uiteindelik moet ons onsself sien in dieselfde lig as wat ander mense ons sien en dan, afhangende van húlle indrukke, die nodige positiewe aanpassings maak. Geeneen is volmaak nie, selfs nie eers Moses nie, maar ons kan almal tog beskeie wees, soos hy was, indien ons bereid is om positiewe advies met nederigheid te aanvaar. 

Jakobus / Ya’acov {4:10}“ Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog. ”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking