D’Var Torah
Bevel - Tzav
Levitikus / Viyikr {8:33} “Ook mag julle
sewe dae lank nie by die ingang van die tent van samekoms uitgaan nie tot op
die dag dat die dae van julle wyding verby is; want sewe dae lank moet julle
wyding duur. {8:34} Soos vandag gedoen is, het die HERE beveel om verder te
doen, om vir julle versoening te bewerk. {8:35} Julle moet dan by die ingang
van die tent van samekoms bly, dag en nag, sewe dae lank; en julle moet die
ordening van die HERE hou, dat julle nie sterwe nie; want so is aan my bevel
gegee. {8:36} En Aäron en sy seuns het al die dinge gedoen wat die HERE deur
die diens van Moses beveel het.”.
Dit is baie belangrik dat God verkies het dat Aäron en sy
seuns vir sewe dae – nag en dag – by die ingang van die tabernakel (Mishkan)
moes bly. Indien God slegs sou bepaal het dat hulle vir sewe dae dáár moes bly,
sou dit beteken het dat hulle op die sewende dag sou kon begin met hulle
ampsverrigting. Dit is egter nie wat Hy gesê het nie: Hy het uitdruklik gesê
sewe dae, nag en dag, wat sou beteken dat hulle by die ingang van die
tabernakel moes bly tot en met insluiting van die sewende dag, sonder om uit te
kom vóór die oggend van die agste dag om hulle ampsbediening te verrig. Hulle
sou dan slegs op die agste dag namens die volk hierdie diens kon verrig.
In hierdie parasha, word die besonderhede van die proses
van wyding van Aäron en sy seuns verduidelik, met die doel diens te verrig voor
die aangesig van die Here en ten behoewe van die kinders van Israel. Soos ons
gelees het, moes offerandes namens hulle gedoen en die bloed van wyding op
sowel hulle as die Altaar van Verbrande Offerande aangebring word. Na die
voorlopige offerandes, is Aäron en sy seuns beveel om in die tabernakelingang
te bly terwyl ‘n bykomende offerande daagliks vir hulle wyding gedoen is.
Wyding en heiligheid was oënskynlik ‘n baie vername
element van ampsuitvoering in die teenwoordigheid van God. Uit hierdie
Skrifgedeeltes is dit duidelik hoe ernstig God dit beskou het om heilig en
gewyd te wees voordat hulle in Sy fisiese teenwoordigheid was in die tabernakel
se binneste deel, die Heilige der Heiligste (Kadosh Kedoshim), in die vorm van
‘n wolk en pilaar van vuur. Dit toon ook aan ons dat die priesters (Cohenim)
Jesus die Messias verteenwoordig het – hulle was ‘n sinnebeeld van Jesus die
Messias.
Hebreërs / Ivrim {4:13} ” En daar is geen
skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom
met wie ons te doen het. {4:14} TERWYL ons dan ’n groot Hoëpriester het wat
deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die
belydenis vashou. {4:15} Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons
swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos
ons, maar sonder sonde.”.
Jesus, as die Seun van God (God in die vlees) was heilig
en gewyd, omdat, vanweë wíé Hy was, Hy om ons onthalwe en voor God diens moes
verrig. Hy is ons Hoëpriester (Cohen Gadol), wat vir óns by die Vader intree.
Getalle is baie belangrik by God. Die Tora is geheel-en–al
matematies, in soverre elke Hebreeuse letter met ‘n getal ooreenstem. Die
studie hiervan staan bekend as gematria. Dit is egter nie wat ek wil bespreek
nie, maar hou tog verband vir ons om vandeesweek se Parasha te verstaan. God
het Aäron en sy seuns bevel om vir sewe volle dae by die ingang van die
tabernakel te bly. Sewe is God se getal van volmaaktheid – dit is ook die getal
van God se rus (Shabbat).
Genesis / Bereshit {2:2} “En God het op die
sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van
al sy werk wat Hy gemaak het.”.
Dus is die feit dat Aäron en sy seuns vir sewe dae by die
tabernakelingang moes bly, ‘n verdere sinnebeeld van Jesus die Messias. Dit
verteenwoordig Jesus as God se volmaaktheid – Hy is ons rus. Wat ook belangrik
is, is dat die getal agt, die getal van nuwe begin is. Aäron en sy seuns is nie
toegelaat om op die sewende dag met hulle ampsverrigting te begin nie, maar
moes tot die agste dag wag, synde ‘n dag van nuwe begin. Die agste dag was die
aanvang (begin) van die ingewikkelde stelsel van brandoffers aan God, ten
behoewe van die mense. Dit is ook ‘n verdere beeld van Jesus die Messias, wat
ons nuwe begin is.
Congregation
Melech Yisrael alle
regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking