Dinsdag 11 Maart 2014

Barmhartigheid eerder as offerande

D’Var Torah
Agste – Shemini


Levitikus / Vayikra {10:16} “En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê: {10:17}  Waarom het julle die sondoffer nie op ‘n heilige plek geëet nie? Want dit is hoogheilig, en Hy het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem, om versoening vir hulle te doen voor die aangesig van die HERE. {10:18}  Kyk, die bloed daarvan is nie binne in die heiligdom gebring nie. Julle moes dit sekerlik in die heiligdom geëet het soos ek beveel het. {10:19}  Toe sê Aäron vir Moses: Kyk, hulle het vandag hul sondoffer en hul brandoffer voor die aangesig van die HERE gebring, en sulke dinge het my oorgekom; as ek vandag sondoffer geëet het, sou dit goed gewees het in die oë van die HERE? {10:20}  Toe Moses dit hoor, was dit goed in sy oë. ”.

Wat vir my besonder interessant was van hierdie Skrifgedeelte, is Aäron en Moses se houding met betrekking tot die situasie. Deur dié Skrifgedeelte gee Moses, die, wetgewer, ons ‘n kykie van ‘n ander sy van karakter in soverre hy Aäron toornig teregwys omdat hy God se opdragte nie noukeurig nagekom het nie. Hy was immers wel bewus daarvan dat Aäron sopas sy twee seuns verloor het. Hy het gedink dat sy broer totaal gevoelloos was? Aäron het natuurlik gerou oor sy verlies en was moontlik ontsteld daaroor teenoor God. Nogtans lyk dit asof Moses dit nie in oorweging geneem het nie. Hy was immers taakgeorienteerd en duidelik ‘n streng nakomer van reels, wat dit syns insiens nodig geag het om nie sy emosies te toon nie, maar met die bepaalde taak voort te gaan, ongeag enige versagtende omstandighede. Ek dink Moses het die volgende feit nie in gedagte gehou nie:
Hosea / Hoshea {6:6} “Want Ek het ‘n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers. ”.

Jesus die Messias het dit duidelik uiteengesit en die Skrif bevestig toe Hy gesê het:

Matthéüs / Mattityahu {12:7} “Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie; ”.

As gelowiges in Jesus die Messias, moet ons onthou dat indien ons barmhartigheid verlang, ons ook barmhartigheid moet betoon. Ongeag of daar versagtende omstandighede mag wees, is dit onmoontlik om altyd met reëls te volstaan.

Ons kry ook ‘n kykie in die karakter van Aäron. Hy was in rou gedompel en dit was vir hom dus onmoontlik om met ‘n “skoon” hart voor die Here sy ampsdiens te verrig. Hy kon seker deur al die mosies gegaan en voorgegee het dat alles in orde was maar hy wou dit nie doen nie! Hy was geensins van plan om skynheilig te wees nie! Hy was dus nie van plan om sy priesterlike take met ‘n swaar gemoed uit te voer nie.

Psalms / Mizmor {100:2} “Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.”.

God verlang nie dat ons skynheilig moet wees nie. Indien ons besluit om Hom te dien, behoort ons dit met ons hele hart en aandag te doen want as ons gedagtes in beslag geneem word deur wêreldse dinge of ons eie omstandighede, is dit onmoontlik om met blydskap voor Hom te kom. Aäron het gevolglik reg opgetree deur nie van die offerande te eet nie. In die omstandighede waarin hy verkeer het asook sy gemoedstoestand, sou dit hom nie rein gemaak het nie maar wel skynheilig.

Openbaring / Hitgalut {3:15} “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! ”.

Wanneer ons as gelowiges die Here dien, mag ons nie halfhartig wees nie – dit sal geen doel dien nie. Ons is nie beveel om die Here met droefheid te dien nie maar eerder met blydskap.

Ten slotte, toon hierdie gedeelte aan ons die karakter van God. In die finale instansie het Hy Aäron se verduideliking aanvaar en dít is van die allergrootste belang in die wêreld vir ons. Dit bewys ons diens aan God kan nie volgens streng en vaste godsdienstige reëls geskied nie maar wel deur ‘n persoonlike verhouding. Dit sou nutteloos wees indien ons ‘n gebod, wat Hy gegee het, gehoorsaam slegs omdat Hy dit gegee het. Ons behoort Sy gebooie te gehoorsaam omdat ons Hom liefhet en begeer om Hom te behaag en volg, soos Hy ons versoek het om te doen.

Jesus die Messias het, trouens gesê:

Johannes / Yochanan {14:15} “As julle My liefhet, bewaar my gebooie. ”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking