Maandag 24 Maart 2014

Sonde is aansteeklik

D’Var Torah
Iemand wat ly aan Tzara’at (Leprose) – Metzora


Levitikus / Vayikra {14:1} “VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: {14:2} Dit is die wet van die melaatse op die dag van sy reiniging. Hy moet na die priester gebring word,”

Wanneer ‘n mens hierdie parasha lees, kan jy dit maklik letterlik vertolk en verstrengel raak in die blinde godsdienstige praktyk van wat daardeur geleer word, soos in die geval van ortodokse – en ultra-ortodokse Judaïsme. Andersins kan jy, soos die Kerk, totaal negatief ingestel raak en sê: “Daar is weggedoen met die Wet”. Ek glo egter dat indien ons hierdie parasha verstaan soos wat God dit bedoel het vir ons om te begryp, kry ‘n mens ‘n geheel-en-al verskillende beeld en die gevolglike resultaat is dus nie godsdiens nie maar ‘n verhouding.

Na my mening, handel hoofstuk 14 alles oor sonde, maar beskryf sonde in terme van tzara’at. God het ons volmaak en gesond geskape; trouens, Hy het belowe dat indien ons Sy gebooie getrou nakom, Hy geeneen van die siektes van die Egiptenare oor ons sou laat kom nie.

Eksodus / Shemot {15:26} “en gesê: As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.”.

Wanneer ons die Skrifgedeeltes in hierdie parasha vervat, in oënskou neem, het almal betrekking op dieselfde onderwerp: sonde. Aangesien God ons dus volmaak geskape en ons belowe het, dat deur Sy gebooie te gehoorsaam, ons teen siekte beskerm sal word – die straf, waarvan ons hier lees, verteenwoordig die gevolg van sonde.

Wat God dus deur hoofstuk 14 aan ons probeer verduidelik, is dat sonde ons nie net van Hom skei nie, maar ook van mekaar. Hier vind ons dat God verwys na tzara’at, wat gewoonweg vertaal word om leprose te beteken. Dit kan egter ook toegepas en verstaan word om te bedoel enige tipe velkwaal; trouens, enige kwaal / siekte. Hoe weet ons dit? Eenvoudig op grond van die feit dat die priester (Cohen) nie die ritueel nakom, soos in die parasha voorgeskryf, ten einde ‘n persoon te genees nie, maar eerder met die doel om hom / haar te reinig – reiniging, soos dit blyk, van sonde.

Kom ons let op die proses in geheel: die persoon wat deut tzara’at aangetas is, so word ons meegedeel, word na die priester gebring. Indien ons dit vertolk dat die priester as’t ware ‘n sinnebeeld van Jesus die Messias is, dan moet die persoon, ten einde van die siekte genees te word, na die Messias (Mashiach) gebring word. Waar is die Messias? Hy is in die Hemel! Daarom moet ons, om genees te word, onsself voor die hemel stel. Indien ons verder lees, word aan ons gesê:

Levitikus / Vayikra {14:3} “en die priester moet buitekant die laer gaan. As die priester sien dat die plaag van melaatsheid genees is, van die melaatse weg is,”.

Die genesing van sonde geskied in die hemel maar die reiniging van sonde vind op aarde plaas.
Hebreërs / Ivrim {2:16} “Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen.{2:18} Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.”.

Volgens ons Parasha, moes die priester buite die laer uitgaan om die besmette persoon te ondersoek en reinig. Net so moes Jesus die Messias die hemel verlaat om die mens van sy / haar sonde te reinig.
Sonde, oor die algemeen, moet voor die Vader wat in die hemel is bely word en dan word dit gereinig deur die Een wat die hemel verlaat het: Jesus die Messias.

1 Johannes / Yochanan Alef {1:7} “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”.

Hoofstuk 15 van Levitikus, ook deel van ons parasha, kan ‘n mens ook beïnvloed om wetties te raak. Indien ons hierdie Skrifgedeeltes egter in geheel in oënskou neem, word ons drie dinge geleer: Eerstens, op fisiese gebied, leer dit ons die noodsaaklikheid van persoonlike higiëne; tweedens, op geestelike gebied, leer dit ons die noodsaaklikheid om altyd geestelik rein voor God te verskyn; Derdens, ook op geestelike gebied, leer dit ons hoe maklik die sonde van een persoon ook ‘n ander besmet.

2 Korinthiërs / Korintim Bet {6:17} “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; {6:18}  en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking