Sondag 04 Mei 2014

God se genade oor Israel

D’Var Torah
Op die berg / Behar


Levitikus / Vayikra {25:1} “VERDER het die HERE met Moses gespreek by die berg Sinai en gesê:{25:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land ’n sabbat hou vir die HERE.{25:3}Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel;{25:4}maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ’n sabbat vir die HERE; jou land mag jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie.”.

Daar is iets besonders uniek aan Eretz Yisrael (die land Israel), wat in geen ander land ter wêreld die geval is nie en dit is dat dié land aan God behoort. Dit is gewis so, dat God die ganse wêreld besit en Hy na goeddunke daarmee handel, maar Israel is buitengewoon en ons kan dit verstaan in die lig van die voorwaardes wat God aan die volk Israel opgelê het toe Hy die land aan hulle gegee het. Ja, God het die land Israel aan die kinders van Israel toegesê, maar hulle het dit nie besit nie. Dit was en is ‘n ewigdurende gawe, maar net soos ons aan die hand van die bepalings van die Yovel-jaar (jaar van vrystelling) aflei, sal die land altyd aan God behoort.

Levitikus / Vayikra {25:2} “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land ’n sabbat hou vir die HERE.”.

Ek kan vele Skrifgedeeltes aanhaal waar God die land Israel Sy land noem. Hier volg slegs twee daarvan:

Jeremia / Yirmeyahu {2:7} “En Ek het julle gebring in ’n land van tuine, om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle inkom, het julle my land verontreinig en my erfenis ’n gruwel gemaak.”.

Joël / Yoel {3:2} “sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ’n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.”.

Dit is duidelik dat daar in die Skrif na geen ander land in die wêreld verwys word as Sy land nie en juis om daardie rede, het Hy sulke besondere voorbehoude op die gebruik daarvan neergelê, soos in hierdie week se parasha gemeld word.

Wat ons basies leer uit hierdie parasha is dat ofskoon God die land Kanaän (Canaan) aan die kinders van Israel gegee het, was hulle slegs pagters (huurboere) en kon daar selfs na hulle verwys word as vreemdelinge in die land van God.

Parasha Behar lui behoorlik soos ‘n pagterskontrak. Daarvolgens bepaal God die voorwaardes betreffende die bewoning van die land. Aangesien die land nie aan hulle behoort het nie, kon hulle dit dus nie lewenslank verkoop nie en moes hulle daarmee optree soos wat God met Sy ganse skepping optree: Dit moes ook ‘n Sabbat (jaar) geniet. Toe God die aarde geskep en gesê het:

Genesis / Bereshit {2:2} “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. {2:3} En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.”.

Nadat God die skepping voltooi en Hy op die Sabbat gerus en dit geheilig het, was dit ook op die skepping van die aarde van toepassing: derhalwe is die hele aarde onderhewig aan hierdie rus en nie slegs die Joods volk of die land Israel nie.

Daar is al dikwels by my verneem of die Sh’mitah (Sabbatjaar) – en Yovel-jare toepaslik is op al die lande van die aarde of uitsluitlik op Israel. My antwoord was nog altyd: “Slegs op Israel”. Hierdie antwoord het ek gegrond op God se woorde in ons parasha: “As julle in die land inkom wat Ek julle gee …”; ek het met ander woorde tot die gevolgtrekking gekom dat die jare van Sh’mitah – en Yovel, slegs toepaslik is op die land wat God aan die kinders van Israel gee. Ek het verder afgelei dat dit ‘n buitengewone land is wat verskillend van al die lande van die wêreld, geag moet word. Soms bevraagteken ek egter daardie wysheid!

Israel was bestem om dié voorbeeld-nasie te wees, met ander woorde, ‘n voorbeeld vir die res van die nasies, soos in die volgende Skrifgedeelte gestel:

Deuteronomium / Devarim {4:6} “Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ’n wyse en verstandige volk.”.


Met inagneming hiervan, tesame met die feit van universele rus op die Sabbat, geld die jare van Sh’mitah en Yovel moontlik universeel. Ongelukkig beoefen nie die hele Israel dit nie en kom ook nie in geheel die Torah en gebooie daarvan na nie. Bid asseblief om God se genade oor Israel.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking