D’Var
Torah
Op die
berg / Behar
Levitikus / Vayikra {25:1} “VERDER het die HERE met Moses gespreek by
die berg Sinai en gesê:{25:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir
hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land ’n sabbat hou
vir die HERE.{25:3}Ses jaar lank mag jy jou land saai en ses jaar lank jou
wingerd snoei en die opbrings daarvan insamel;{25:4}maar in die sewende jaar
moet daar vir die land volkome rus wees, ’n sabbat vir die HERE; jou land mag
jy nie saai en jou wingerd nie snoei nie.”.
Daar is iets besonders uniek aan Eretz Yisrael (die land Israel), wat in
geen ander land ter wêreld die geval is nie en dit is dat dié land aan God
behoort. Dit is gewis so, dat God die ganse wêreld besit en Hy na goeddunke
daarmee handel, maar Israel is buitengewoon en ons kan dit verstaan in die lig
van die voorwaardes wat God aan die volk Israel opgelê het toe Hy die land aan
hulle gegee het. Ja, God het die land Israel aan die kinders van Israel toegesê,
maar hulle het dit nie besit nie. Dit was en is ‘n ewigdurende gawe, maar net
soos ons aan die hand van die bepalings van die Yovel-jaar (jaar van
vrystelling) aflei, sal die land altyd aan God behoort.
Levitikus / Vayikra {25:2} “Spreek met die kinders van Israel en sê vir
hulle: As julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land ’n
sabbat hou vir die HERE.”.
Ek kan vele Skrifgedeeltes aanhaal waar God die land Israel Sy land
noem. Hier volg slegs twee daarvan:
Jeremia / Yirmeyahu {2:7} “En Ek het julle gebring in ’n land van tuine,
om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle inkom, het julle my
land verontreinig en my erfenis ’n gruwel gemaak.”.
Joël / Yoel {3:2} “sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van
Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ’n strafgerig te hou ter wille van my
volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land
wat hulle verdeel het.”.
Dit is duidelik dat daar in die Skrif na geen ander land in die wêreld
verwys word as Sy land nie en juis om daardie rede, het Hy sulke besondere
voorbehoude op die gebruik daarvan neergelê, soos in hierdie week se parasha
gemeld word.
Wat ons basies leer uit hierdie parasha is dat ofskoon God die land
Kanaän (Canaan) aan die kinders van Israel gegee het, was hulle slegs pagters
(huurboere) en kon daar selfs na hulle verwys word as vreemdelinge in die land
van God.
Parasha Behar lui behoorlik soos ‘n pagterskontrak. Daarvolgens bepaal
God die voorwaardes betreffende die bewoning van die land. Aangesien die land
nie aan hulle behoort het nie, kon hulle dit dus nie lewenslank verkoop nie en
moes hulle daarmee optree soos wat God met Sy ganse skepping optree: Dit moes
ook ‘n Sabbat (jaar) geniet. Toe God die aarde geskep en gesê het:
Genesis / Bereshit {2:2} “En God het op die sewende dag sy werk voltooi
wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak
het. {2:3} En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop
gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.”.
Nadat God die skepping voltooi en Hy op die Sabbat gerus en dit geheilig
het, was dit ook op die skepping van die aarde van toepassing: derhalwe is die
hele aarde onderhewig aan hierdie rus en nie slegs die Joods volk of die land
Israel nie.
Daar is al dikwels by my verneem of die Sh’mitah (Sabbatjaar) – en
Yovel-jare toepaslik is op al die lande van die aarde of uitsluitlik op Israel.
My antwoord was nog altyd: “Slegs op Israel”. Hierdie antwoord het ek gegrond
op God se woorde in ons parasha: “As julle in die land inkom wat Ek julle gee
…”; ek het met ander woorde tot die gevolgtrekking gekom dat die jare van
Sh’mitah – en Yovel, slegs toepaslik is op die land wat God aan die kinders van
Israel gee. Ek het verder afgelei dat dit ‘n buitengewone land is wat
verskillend van al die lande van die wêreld, geag moet word. Soms bevraagteken
ek egter daardie wysheid!
Israel was bestem om dié voorbeeld-nasie te wees, met ander woorde, ‘n
voorbeeld vir die res van die nasies, soos in die volgende Skrifgedeelte
gestel:
Deuteronomium / Devarim {4:6} “Onderhou dit dan en doen dit; want dit is
julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie
insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ’n wyse en
verstandige volk.”.
Met inagneming hiervan, tesame met die feit van universele rus op die
Sabbat, geld die jare van Sh’mitah en Yovel moontlik universeel. Ongelukkig
beoefen nie die hele Israel dit nie en kom ook nie in geheel die Torah en
gebooie daarvan na nie. Bid asseblief om God se genade oor Israel.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking