D’Var
Torah
Verhef / Naso
Numeri / Bamidbar {4:24} “Dit sal die dienswerk
van die geslagte van die Gersoniete wees by die diens en by die vervoer:
{4:25} hulle moet die tentdoeke van die
tabernakel dra, ook die tent van samekoms, sy dekkleed en die dekkleed van
robbevelle wat daar bo-oor is, en die bedekking vir die ingang van die tent van
samekoms {4:26} en die behangsels van
die voorhof en die bedekking vir die ingang van die poort van die voorhof wat
rondom die tabernakel en die altaar is, en hulle lyne sowel as al die
gereedskap wat by die bediening daarvan behoort; en alles wat daarvoor gedoen
moet word, moet hulle verrig. {4:29} Wat
aangaan die seuns van Merári—dié moet jy tel volgens hulle geslagte, volgens
hulle families. {4:30} Jy moet hulle tel
van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig is, om
die dienswerk van die tent van samekoms te verrig. {4:31} En dit is wat by hulle drawerk besorg moet
word, hulle hele dienswerk by die tent van samekoms: die style van die
tabernakel met sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke {4:32} en die pilare van die voorhof rondom met
hulle voetstukke en hulle penne en hulle lyne—al die gereedskap sowel as alles
wat by die bediening daarvan behoort. En die gereedskap wat by hulle drawerk
besorg moet word, moet julle met die naam aanwys. {7:9} Maar aan die seuns van Kehat het hy niks
gegee nie; want die diens van die heiligdom het op hulle gerus: hulle moes dit
op die skouers dra.”.
Met die
lees van hierdie gedeeltes, wonder ‘n mens op wie van die drie priesterlike
families die moeilikste taak gerus het? Wie se taak, dink julle, was die
belangrikste? Om die waarheid te sê, is dit nie vir óns om te bepaal wie se
taak die moeilikste of mees belangrike was nie. Die feit is dat almal ewe
belangrik was asook werklik moeilik omdat die drie priesterlike familiegroepe
as ‘n span moes saamwerk. Indien één so ’n groep sou verknoei deur hulle werk
nie betyds of in die behoorlike volgorde te verrig nie, sou dit die ander twee
groepe se werk regstreeks beïnvloed het en die hele proses om die tabernakel
(Mishkan) op te breek en verskuif, tot een groot verwarring gelei het.
Dieselfde sou ook met betrekking tot die oprigting daarvan gebeur het.
Elkeen
se taak in diens van die Here is belangrik – ongeag hoe moeilik of hoe gering
dit ookal mag wees.
Te veel
gelowiges, omdat hulle nie iets belangriks doen nie, iets wat aan hulle aansien
in die gemeente sou verleen nie, meen dat hulle diens aan die Here onbelangrik
is. Die feit is egter dat niemand se diens minderwaardig is nie. Dink net
daaraan wat sou gebeur indien die persoon wie se verantwoordelikheid dit is om
te verseker dat afvalhouers gereeld leeggemaak word, nie sy plig nakom nie of
die persoon wat daarvoor verantwoordelik is om die deur van die gemeente vir
vroeë oggendgebed oop te sluit – in die middel van die winter nie! Watter
wanorde en ongerief sou nie daardeur veroorsaak word nie. God gaan ons nie
vergoed vir hoeveel ons doen of vir hoe moeilik ons taak is of hoe belangrik
dit is nie. Hy sal ons wel vergoed vir hoe getrou ons die taak waartoe Hy ons
geroep, uitgevoer het. Indien jy by jouself sou dink: “Die taak wat ek verrig,
is nie deur God aan my toegeken nie, maar eerder deur die gemeenteleiers; ek
hou nie daarvan nie en daarom sal ek nie my bes doen nie”. Dink weer daaroor
na: elke hartsbesluit word deur die Here bepaal. Indien ‘n minderwaardige taak
aan jou toegeken is, was dit eintlik God wat dit aan jou toegeken het, ongeag
wie Hy gebruik het om die fisiese toekenning te behartig. Getrouheid is die
vernaamste wat vir God van belang is, wanneer dit daarop aankom om vir Hom te
werk.
Lukas / Uri {17:7} “En wie is daar van julle wat
‘n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom
sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? {17:8}
Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en
omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en
drink? {17:9} Bedank hy daardie
dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. {17:10} So ook julle, wanneer julle alles gedoen het
wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het
gedoen wat ons verplig was om te doen. ”.
As
diensknegte van die Here, behoort ons nooit dank of waardering of eer te verwag
vir die taak wat ons vir God doen nie. Enige sulke verwagtings sou die sonde
van trots inhou. Van ons word verag om ons taak vir God as Sy getroue
diensknegte te verrig – eenvoudig omdat Hy God is.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking