Woensdag 21 Mei 2014

Eenvoudig omdat Hy God is

D’Var Torah
Verhef / Naso


Numeri / Bamidbar {4:24} “Dit sal die dienswerk van die geslagte van die Gersoniete wees by die diens en by die vervoer: {4:25}  hulle moet die tentdoeke van die tabernakel dra, ook die tent van samekoms, sy dekkleed en die dekkleed van robbevelle wat daar bo-oor is, en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms {4:26}  en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die poort van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en hulle lyne sowel as al die gereedskap wat by die bediening daarvan behoort; en alles wat daarvoor gedoen moet word, moet hulle verrig. {4:29}  Wat aangaan die seuns van Merári—dié moet jy tel volgens hulle geslagte, volgens hulle families. {4:30}  Jy moet hulle tel van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat dienspligtig is, om die dienswerk van die tent van samekoms te verrig. {4:31}  En dit is wat by hulle drawerk besorg moet word, hulle hele dienswerk by die tent van samekoms: die style van die tabernakel met sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke {4:32}  en die pilare van die voorhof rondom met hulle voetstukke en hulle penne en hulle lyne—al die gereedskap sowel as alles wat by die bediening daarvan behoort. En die gereedskap wat by hulle drawerk besorg moet word, moet julle met die naam aanwys. {7:9}  Maar aan die seuns van Kehat het hy niks gegee nie; want die diens van die heiligdom het op hulle gerus: hulle moes dit op die skouers dra.”.

Met die lees van hierdie gedeeltes, wonder ‘n mens op wie van die drie priesterlike families die moeilikste taak gerus het? Wie se taak, dink julle, was die belangrikste? Om die waarheid te sê, is dit nie vir óns om te bepaal wie se taak die moeilikste of mees belangrike was nie. Die feit is dat almal ewe belangrik was asook werklik moeilik omdat die drie priesterlike familiegroepe as ‘n span moes saamwerk. Indien één so ’n groep sou verknoei deur hulle werk nie betyds of in die behoorlike volgorde te verrig nie, sou dit die ander twee groepe se werk regstreeks beïnvloed het en die hele proses om die tabernakel (Mishkan) op te breek en verskuif, tot een groot verwarring gelei het. Dieselfde sou ook met betrekking tot die oprigting daarvan gebeur het.

Elkeen se taak in diens van die Here is belangrik – ongeag hoe moeilik of hoe gering dit ookal mag wees.

Te veel gelowiges, omdat hulle nie iets belangriks doen nie, iets wat aan hulle aansien in die gemeente sou verleen nie, meen dat hulle diens aan die Here onbelangrik is. Die feit is egter dat niemand se diens minderwaardig is nie. Dink net daaraan wat sou gebeur indien die persoon wie se verantwoordelikheid dit is om te verseker dat afvalhouers gereeld leeggemaak word, nie sy plig nakom nie of die persoon wat daarvoor verantwoordelik is om die deur van die gemeente vir vroeë oggendgebed oop te sluit – in die middel van die winter nie! Watter wanorde en ongerief sou nie daardeur veroorsaak word nie. God gaan ons nie vergoed vir hoeveel ons doen of vir hoe moeilik ons taak is of hoe belangrik dit is nie. Hy sal ons wel vergoed vir hoe getrou ons die taak waartoe Hy ons geroep, uitgevoer het. Indien jy by jouself sou dink: “Die taak wat ek verrig, is nie deur God aan my toegeken nie, maar eerder deur die gemeenteleiers; ek hou nie daarvan nie en daarom sal ek nie my bes doen nie”. Dink weer daaroor na: elke hartsbesluit word deur die Here bepaal. Indien ‘n minderwaardige taak aan jou toegeken is, was dit eintlik God wat dit aan jou toegeken het, ongeag wie Hy gebruik het om die fisiese toekenning te behartig. Getrouheid is die vernaamste wat vir God van belang is, wanneer dit daarop aankom om vir Hom te werk.

Lukas / Uri {17:7} “En wie is daar van julle wat ‘n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? {17:8}  Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink? {17:9}  Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. {17:10}  So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen. ”.

As diensknegte van die Here, behoort ons nooit dank of waardering of eer te verwag vir die taak wat ons vir God doen nie. Enige sulke verwagtings sou die sonde van trots inhou. Van ons word verag om ons taak vir God as Sy getroue diensknegte te verrig – eenvoudig omdat Hy God is.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking