Donderdag 29 Mei 2014

Jy kan verduur

D’Var Torah
Volhard in dit wat jy doen– Beha’alotecha


Numeri {11:11} “En Moses sê aan die HERE: Waarom het U u kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê? {11:12}  Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos ‘n oppasser die suigling dra, na die land wat U aan hulle vaders met ‘n eed beloof het? {11:13}  Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet. {11:14}  Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar. {11:15}  En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie.”.

Wanneer ‘n mens aan Moses dink, is ons geneig om hom as ‘n tipe geloofsheld, voor te stel, ‘n man – groter as lewensgroot – wat God volkome vertrou het en onwrikbaar was in sy besluit om die wil van God uit te voer. Die bovermelde Skrifgedeeltes skets egter ‘n algeheel ander beeld van hom. Het Moses miskien net ‘n onaangename dag beleef? Het hy op hierdie betrokke oggend met die verkeerde voet uit die bed opgestaan? Het hy ‘n slapelose nag agter die rug gehad? Was dít die rede waarom Moses in moedeloosheid verval en God versoek het om hom uit sy ellende te verlos? Ek meen dat dit nie die geval was nie. Moses was nie ‘n bonatuurlike mens wat waardig was om verafgod te word nie. Die feit is dat hy slegs ‘n doodgewone man was, blootgestel aan angs, vrees, twyfel en skynbare aanvalle van depressie; met ander woorde, hy was maar net soos ons is. Na alles, wie sou nie fisies en geestelik geknak het onder die geweldige las om dag na dag miljoene mense se klagtes en murmurerings te moet aanhoor nie? Ja, Moses was ‘n sinnebeeld van Jesus die Messias maar laat ons dit besef, hy wás nie Jesus die Messias nie! Jesus self het, trouens, gewanhoop oor die las wat Hy moes dra.

Matthéüs / Mattityahu {26:38} “ Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. {26:39}  En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”.

Nee! Moses was hoegenaamd nie iemand besonders nie, behalwe dat hy deur God aangewys is om ‘n baie besondere taak uit te voer; trouens, as dit nie was dat God hom versterk, aangemoedig en by hom was nie, glo ek dat Moses ongetwyfeld onder die druk sou geknak het.

Hierdie wete vertroos ‘n mens darem en behoort vir ons ook tot bemoediging te dien. Hoeveel male het die lewenslaste, probleme, moeilikhede en sorge van die lewe ons nie al in so ’n mate ondergekry nie dat ons die punt bereik het om tou op te gooi en uit te roep: “Neem my weg God, ek het genoeg verduur, ek kan dit nie langer uithou nie, ek kan nie langer so voortgaan nie!”.

Erken dat jy al so gevoel het, want ekself het dit al ervaar. Waarom sou ons dan nie bemoedig word deur die woorde van Moses in die betrokke Skrifgedeelte (aangehaal) nie? Moses was miskien nie bomenslik nie maar hy was ‘n held en dít met die hulp van God en Sy ondersteuning. Op grond daarvan kan ons almal helde wees, ongeag ons emosionele en geestelike broosheid.

Daar is iets verder wat ons uit hierdie Skrifgedeeltes kan leer en, trouens, uit die hele Tora-dialoog naamlik dat Moses nooit tou opgegooi het nie! Ofskoon hy ongetwyfeld onderhewig was aan angs en depressie, het hy dit hom nie laat onderkry nie en dit beteken die onderskeid tussen om ‘n held of ‘n lafaard te wees. ‘n Held gee nooit die stryd gewonne nie of laat toe dat sy gevoelens hom sodanig oorweldig dat hy tou opgooi nie.

1 Korinthiërs / Korintim Alef {10:13} “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking