Saterdag 27 Februarie 2016

Die Blinkende Aangesig

Ki Tisa
(Wanneer Jy Verhoog)




Eksodus / Shemot {34:29} "En toe Moses van die berg Sinai afdaal—die twee tafels van die Getuienis was in die hand van Moses toe hy van die berg afdaal het Moses nie geweet dat die vel van sy gesig blink omdat hy met Hom gespreek het nie. {34:30} En toe Aäron en al die kinders van Israel Moses sien, het die vel van sy gesig geblink! Daarom was hulle bevrees om naby hom te kom. {34:31} Maar Moses het hulle geroep, en Aäron en al die owerstes in die vergadering het na hom teruggekom; en Moses het met hulle gespreek. {34:32} En daarna het al die kinders van Israel nader gekom, en hy het hulle alles beveel wat die HERE met hom gespreek het op die berg Sinai. {34:33} Toe Moses klaar met hulle gespreek het, het hy ‘n sluier oor sy gesig getrek. {34:34} Maar as Moses voor die aangesig van die HERE kom om met Hom te spreek, neem hy die sluier weg, totdat hy uitgaan. As hy dan uitgaan en aan die kinders van Israel meedeel wat hom beveel is, {34:35} sien die kinders van Israel die gesig van Moses, dat die vel van Moses se gesig blink; daarop trek Moses dan weer die sluier oor sy gesig, totdat hy ingaan om met Hom te spreek."

Ten einde die verband wat ek in vandeesweek se oordenking tussen Moses en Jesus die Messias wil tref, moet ek die volgende agtergrondinligting verskaf. In die Tora (Deuteronomium 18:15) word ons meegedeel dat God 'n Profeet soos Moses na ons toe sal stuur en ons na Hom moet luister.

Deuteronomium / Devarim {18:15} "‘n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister—  "

Sedert die tyd van Moses, het baie profete gekom en gegaan, maar geeneen het die selfde aansien geniet as Moses, wat regstreeks van aangesig tot aangesig met God gespreek het en die drie ampte van profeet, priester en koning beklee het. Dit is totdat Jesus die Messias verskyn het. Moses was 'n profeet, maar anders as al die ander profete ná hom, het hy nie sy inligting van God deur middel van drome en visioene ontvang nie, maar sy openbarings direk van God ontvang. Moses het as priester opgetree aangesien hy 'n Leviet was en die naderkom-offerandes aan God geoffer het, selfs voordat Aaron en sy seuns ingeseën was. Moses was ook die gevolglike koning van Israel, hul leier, wetgewer en regter.

Tot en met die koms van Jesus die Messias (God in Vlees), was daar nooit op aarde 'n profeet soos Moses nie. Jesus, soos Moses, was 'n Profeet, wat van aangesig tot aangesig met God (Die Vader) gespreek het. Net soos Moses, was Jesus ook Priester (volgens die orde van Melgisedek) en sal Hy, volgens die Skrif, met Sy wederkoms as Koning regeer, omdat Hy die Seun van Dawid is. Soos ons dus kan sien, is daar vele ooreenkomste tussen die eerste Moses en Jesus die Messias, die tweede Moses. Maar geen daarvan, glo ek, was so betekenisvol as wat ons lees in die volgende gekose Skrifgedeelte nie. Ek bedoel juis dit:  

Matthéüs / Mattityahu {17:1} "En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op ‘n hoë berg in die eensaamheid gebring. Mat {17:2} En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig."

Myns insiens is dit die vernaamste en moontlik mees betekenisvolle ooreenkoms tussen Moses en Jesus. Albei het teen 'n hoë berg opgeklim en was omhul deur 'n wolk van heerlikheid; beide het die stem van God vanuit die wolk hoor spreek en altwee se gesigte het geblink vanweë hul ontmoeting. As dit nie voldoende was om iemand te oortuig dat Jesus die Profeet, was van wie Moses getuig het nie, is daar 'n ander afdwingbare ooreenkoms tussen Moses en Jesus. Dit is die woorde deur God gespreek, aangaande hierdie Profeet wat soos Moses was:

Matthéüs / Mattityuahu {17:5} "Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom! "

In Deuteronomium 18:15 het God aan die kinders van Israel gesê dat Hy 'n profeet soos Moses sal verwek en van hierdie profeet het Moses gesê:"...;na hom, moet julle luister-". In die bovermelde aanhaling uit Matthéüs 17:5 staan die Profeet soos Moses, voor Sy dissipels , wanneer Moses en Elia saam met Hom verskyn. Op hierdie punt verskyn God in 'n wolk en verklaar :"Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. Luister na Hom!". Hier wys God Self op die verband tussen die profete, na wie in Deuteronomium 18:15 verwys word en die Profeet wat nou saam met Moses en Elia in die teenwoordigheid van Jesus en Sy dissipels staan. Waarom was beide Moses en Elia dáár saam met Jesus?

Moses, soos ons weet, het gesterf en God Self het hom begrawe; Elia, egter, het nie gesterf nie maar is deur God in die Hemel opgeneem. Daarom, glo ek, was sowel Moses as Elia dáár saam met Jesus en sy dissipels met die verheerliking van Jesus, op hierdie Skrifgedeelte gegrond.

2 Timótheüs / Timoteos Bet {4:1} “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk”

Hier eindig die ooreenkomste. Anders as Moses, sal Jesus die Messias oor sowel die lewendes as die dode oordeel. Indien jy glo wat God gespreek het dat Jesus die Profeet is soos Moses, glo dan in Jesus die Messias en aanvaar Hom as Here en Redder.

Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2009-03-14

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking