Tetzaveh
(U Sal Beveel)
1 Samuel / Sh'muel Aleph 15:2-34
Hebreërs / Ivrim 13:10-16
Eksodus / Shemot {27:20} "En jy moet die kinders van
Israel beveel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die kandelaar
bring, om gedurigdeur ‘n brandende lamp te hê. {27:21} In die tent van
samekoms, buitekant die voorhangsel wat voor die Getuienis is, moet Aäron en sy
seuns dit regmaak om te brand van die aand tot die môre voor die aangesig van
die HERE. Dit sal ‘n ewige insetting wees in hulle geslagte, van die kant van
die kinders van Israel”
Wanneer God vir die kinders van Israel sê dat iets vir ewig
'n insetting (statuut) is, wat beteken dit? Word dit bedoel: vir ewig, totdat
hulle dit nie langer kan doen nie, óf vir ewig, totdat hulle deur hulle vyande
verslaan is, óf vir ewig totdat hulle uit die land Israel verdryf en onder die
nasies in die buiteland verstrooi word, óf beteken vir ewig, werklik vir ewig?
Wat bedoel God met 'n "...ewige insetting..." en hoe lank duur vir
ewig?
Wat ons ook in die Skrifgedeelte van hierdie week se
oordenking lees dat die Menorah (Lamp) gedurig (vir ewig!) brandend gehou moet
word, is niks vreemds aangaande die Menorah nie. Dwarsdeur die Skrif beveel God
ons om dinge vir ewig te doen. So byvoorbeeld, moes die verskillende sondoffers
van die tabernakel ook 'n ewige instelling wees.
Levitikus / Vayikra {7:36} “wat die HERE beveel het om hulle
te gee van die kant van die kinders van Israel, op die dag toe Hy hulle gesalf
het. Dit is ‘n ewige insetting vir hulle geslagte. {7:37} Dit is die wet vir die brandoffer, die spysoffer
en die sondoffer en die skuldoffer en die wydingsoffer en die dankoffer”
Die moontlike vernaamste "vir ewig", verskyn in
die volgende Skrifgedeelte:
Jesaja / Yeshayahu {9:7} “tot vermeerdering van die
heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy
koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid,
van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit
doen.“
Na aanleiding van die bovermelde twee Skrifaanhalings, weet
ons dat die Levitiese offerstelsel nie meer beoefen word nie, aangesien daar
geen tempel in Jerusalem is nie. Ons weet ook dat daar tans geen koning op die
troon van Dawid is nie. Bedoel God dus dat 'vir ewig' beteken totdat ons dit
nie langer kan doen nie?
Ek glo dat "vir ewig" vir God letterlik vir ewig beteken.
Julle bevraagteken dit moontlik wanneer julle sê""Indien diere nie
langer geoffer word en die troon van Dawid nie meer bestaan nie? Wel, diegene
van ons wat Jesus die Messias, die Seun van Dawid, erken as ons Here en Redder,
glo dat Hy inderdaad op Sy Hemeltroon sit vanwaar Hy oor die hele aarde heers.
Psalm / Mizmor {103:17}” Maar die goedertierenheid van die
HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir
kindskinders, {103:18} vir die wat sy
verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen. {103:19} Die HERE het sy troon in die hemel gevestig,
en sy koninkryk heers oor alles.”
Wat die troon van Dawid dus betref, wéét ons daar is steeds
'n Seun van Dawid daarop en dat Hy vir ewig daarop sal sit, netsoos God gesê het.
Wat dan van die Menorah, die Lamp wat voortdurend aangesteek
moes word, wat sekerlik al bykans 2 millenia gelede reeds gedoof is, en
natuurlik toe tempelofferandes wat nie langer gebring word nie?
Aangaande die lamp, het Jesus ons vertel:
Johannes / Yochanan (John) {8:12} “En Jesus het weer met
hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik
nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”
Die lig van die Menorah, wat voortdurend ("vir
ewig") moes brand, was 'n voorbeeld van Jesus, die Lig van die Woord. Sy
lig skyn deur ons in 'n donker wêreld en sal vir ewig aanhou skyn deur hulle
wat na Sy naam genoem word.
Laastens, is daar die tempelofferandes. Soos ons weet,
aangesien die tempel nie langer bestaan nie, kan daar geen offerandes aan die
Here wees nie. Beteken dit dus dat die Levitiese priesterstelsel van offerandes
ook nie vir ewig is nie?
My antwoord daarop is ja en nee. Ja, die tempel bestaan nie
meer nie en gevolglik is die Levitiese priesterstelsel van offerandes nie vir
ewig nie, maar nie omdat die Tabernakel in die Hemel nie bestaan en so ook die
priesterdom wat daarin diens verrig nie. Ons weet dat die Tabernakel, wat Moses
moes maak om saam met die kinders van Israel deur die Wildernis te gaan, slegs
'n afbeelding was van die een wat aan hom getoon is en in die Hemel bestaan toe
hy op die berg Sinaï in die teenwoordigheid van God verkeer het.
Eksodus / Shemot {25:40} " En kyk dat jy dit maak
volgens die voorbeeld daarvan wat jou op die berg getoon is.”
Asook:
2 Korinthiërs / Korintim Bet {5:1}” Want ons weet dat as ons
aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met
hande gemaak nie, ewig, in die hemele.“
Saam met hierdie Tabernakel het ons offerande, Jesus die Messias.
Dié Tabernakel is die een waarheen Jesus opgevaar het om ewige versoening vir
ons met Sy bloed te bewerkstellig.
Herbreërs / Ivrim {9:11}” Maar Christus, wat opgetree het as
Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel
wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping
behoort nie, (9:12) ook nie met die
bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die
heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.”
Wat die Priesterdom betref, ons het 'n priester:
Psalm / Mizmor {110:4}
“Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir
ewig volgens die orde van Melgisédek.”
Hebreérs / Ivrim {8:1} Die hoofsaak nou van wat ons gesê
het, is dít: Ons het so ‘n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van
die troon van die Majesteit in die hemele,”
Wie is hierdie priester volgens Melgisédek?
Hebreérs / Ivrim {6:20}”waar Jesus as voorloper vir ons
ingegaan het, Hy wat volgens die orde van Melgisédek ‘n hoëpriester geword het
vir ewig.”
Ter afsluiting, kan ons sien dat daar "vir ewig"
'n Tabernakel in die hemel bestaan, met 'n Menorah "vir ewig", in die
gedaante van Jesus die Messias, wat "vir ewig" ons Hoëpriester is,
wat "vir ewig" ons Offerande is en wat "vir ewig" ons
Koning is, wat "vir ewig" op die troon van Dawid sit.
Dit is dus van selfsprekend dat God se "vir ewig"
inderdaad vir ewig beteken!!!
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-03-07
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking