Saterdag 13 Februarie 2016

Gee

Terumah
(Offergawe)

Eksodus / Shemot 25:1-27:19
1 Konings / Melachim Alef 5:26-6:13
2 Korinthiërs / Korintim Bet / 17:1-11


Daar is 'n baie belangrike Bybelse beginsel wat ek graag met betrekking tot vandeesweek se oordenking, met julle wil bespreek.

Eksodus / Shemot {25:1} "Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle My offergawe bring."

Vrywillige gawe was nog altyd sowel 'n Tora- as Hernieude Verbond-beginsel. In laasgenoemde verbond prys Paulus (Saulus) die gemeente in Fillipi vir hul gewilligheid om te gee.

Filippense / Pilifim {4:15} "En julle, Filippense, weet ook dat in die begin van die evangelie, toe ek van Macedónië vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. {4:16} Want ook in Thessaloníka het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur. {4:17} Nie dat ek die gawe soek nie, maar ek soek die vrug wat oorvloedig word op julle rekening."

Die vrug, waarna Paulus hierbo verwys, is die blydskap en seëninge wat uit vrywillige gawe voortvloei:

Eksodus / Shemot {12:35} "En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis; {12:36} en die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe."

Die kinders van Israel het vryelik ontvang, en nou word hulle deur God versoek om vryelik te gee, elkeen met 'n volkome hart. Die Skrif is vol voorbeelde wat ons verseker dat 'n vrygewige hart, 'n blymoedige hart is.

1 Kronieke / Divre HaYamim Alef {29:9} "En die volk was bly oor hulle gewilligheid, want met ‘n volkome hart het hulle vrywillig aan die HERE gegee, en ook koning Dawid was baie bly."

Wat ons hieruit aflei, is dat deur te gee, blydskap verkry word. Dit bedoel dat 'n vrygewige persoon, één wat gee, 'n vreugdevolle persoon sal wees. Daar is onteenseglik blydskap deur te gee en die Here heelhartig te dien. Om te gee, is na alles om te dien. Indien jy suinig is, dan is jy 'n vrek en daar is beslis geen blydskap daarin om gierig te wees nie. Verder, as jy die Here dien maar nie vreugde in jou diens ervaar nie, dan dien jy in die vlees en nie die Gees nie. Sommige mense gee wel in die vlees, maar verwag om dan iets van God of mense terug te ontvang. Dit is beslis nie om te gee, in die ware sin van die woord nie. Vrywillige gawe is inderdaad onselfsugtig in soverre dit deur 'n begeerte om met 'n volkome hart aan die Here te gee aangevuur word.

Matthéüs / Mattityahu{6:19} "Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; {6:20} maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; {6:21} want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. {6:22} Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. {6:23} Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie! {6:24} Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie! "

Hierdie gedeelte van die Skrif leer ons dat eerlikheid vereis word wanneer ons die Here dien. Ons kan nie besluitloos wees deur sowel rykdom te dien en na te jaag en terseldertyd die Here te dien en volg nie. Wat ek graag wil uitwys, is dat Jesus in hierdie Skrifgedeelte, aan ons vertel wat inhaligheid en suinigheid, oftewel die opgaar van skatte hier op aarde, sal oplewer.

Eerstens word ons gewaarsku  teen motte. Soos ons weet, vreet motte gate in materiaal, derhalwe is dit nie wenslik om motte in jou klerekas te hê nie.

Haggai / Haggai {1:6} "julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek. "

Dus, wanneer ons suinig is, ongeag hoeveel geld ons het, sal dit nooit genoeg wees nie; dit sal altyd wees asof ons geld in 'n beursie vol gate hou, waaruit dit voortdurend verloor. Om vrygewige en ruimhartige persoon te wees, is gevolglik nie 'n opsie nie - dit is noodsaaklik.

Tweedens, waarteen in hierdie gedeelte in Matthéüs gewaarsku word, is roes. Roes verniel mettertyd. Roes neem iets wat goed , pragtig en bruikbaar is en maak dit sleg, lelik en nutteloos. Ons word dus geleer dat geld en rykdom, wat aan ons gegee is om ten goede te gebruik, in die hande van 'n selfsugtige, inhalige persoon, onoordeelkundig bestee sal word en mettertyd bedorwenheid en lelikheid meebring.

Derdens, word na diewe verwys. God waarsku ons dat indien ons suinig en gierig is deur geld op te gaar en dink dat ons meer sal hê, maak ons 'n fout omdat Hy diewe sal stuur om dit te steel. Hoe doen God dit? Eenvoudig, Hy laat toe dat ons gekul en besteel word, ons motorvoertuie raak buitengewoon dikwels onklaar, ons word siek en moet ons geld aan dokters en medikasie bestee, terwyl ons deur afwesigheid van die werk, inkomste verloor; met ander woorde: terwyl ons dink ons is aan die wenkant, verloor ons eintlik.

Laastens, word ons gewaarsku dat as ons oog "verkeerd" is, ons hele liggaam "donker" sal wees. Ons sien met ons oë. 'n Verkeerde oog is 'n Hebreeuse idioom vir selfsug. Wat dus hier bedoel word, is dat indien dít waarna ons kyk, uit inhaligheid, begeerte en selfsug is, dit ons hele liggaam sal aantas en sodoende ons lewens verwoes.

Wat is dan die oplossing? Sowel die Tora (as voorbeeld vir ons oordenking hierdie week) as die Hernieude Verbond het die oplossing verstrek. Ons moet slegs daarvolgens handel. 

Eksodus / Shemot {25:1}"Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring."

Matthéüs / Mattityahu {10:8} "Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee. "

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-02-28




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking